Kraamverlof vir nuwe pa’s in 2020

(Argieffoto: pixabay)

Die nuwe jaar begin op ʼn hoë noot vir die ouers van pasgebore babas: wetgewing wat werknemers wat nie vroeër op kraamverlof geregtig was nie nou 10 dae betaalde ouerskapverlof gee, tree op 1 Januarie in werking.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Arbeidswette in November onderteken.

Ingevolge dié wet is ’n ouer wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie nou geregtig op 10 dae se agtereenvolgende ouerskapverlof wanneer die kind gebore word of wanneer ’n aannemingsbevel toegestaan word. Iemand wat ʼn kind van jonger as twee jaar aanneem, kwalifiseer vir twee maande en tien dae se opeenvolgende verlof.

Indien daar twee aanneemouers is, is een van hulle geregtig op aannemingsverlof en die ander werknemer op ouerskapverlof van 10 dae. Dieselfde voorsiening word gemaak vir werknemers wat via ʼn surrogaat ouers word. Die Werkloosheidsversekeringsfonds sal die dekking vir die ouerskapverlof toestaan.

Die vakverbond Cosatu het die inwerkingstelling verwelkom en dit ʼn geskiedkundige oorwinning vir werkers, ouers, kinders én gesinne in Suid-Afrika bestempel.

(Argieffoto: Unsplash)

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, het gesê dit is nie meer net ʼn kwessie van onderhandelings of toegewings deur werkgewers nie, dit “is nou wetgewing” wat nie geskend mag word nie.

“Cosatu is in sy noppies dat die pogings, asook werkers se taai stryd, eindelik vrugte afgewerp het met dié prestasie. Ons moedig alle kwalifiserende ouers aan om hul regte uit te oefen. Dit is terselfdertyd belangrik dat ouers die verlof aanwend vir die regte redes, naamlik om die ma te help om ná ʼn kind se geboorte te herstel en na hul pasgebore baba om te sien,” het Parks gesê.

Cosatu het vakbonde gevra om hul werkers bewus te maak van hul regte en hulle aan te moedig om dit vryelik te gebruik.

“Werkgewers word gevra om die progressiewe gees van die wet te verwelkom. Diegene wat soos Neandertal-mense optree, gaan ook só behandel word, by name genoem word en na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en arbeidshowe gesleep word om hul agterlikheid te laat staan.”

Die veranderinge aan die wet kom nadat Cheryllyn Dudley van die ACDP ʼn privatelede-wysiging aan die parlement voorgelê het en het gevolg nadat ʼn pa van Kaapstad, Hendri Terblanche, ʼn petisie by die Nasionale Raad van Provinsies ingedien het waarin hy versoek dat werkende mans se vaderskapverlof van drie dae tot 10 dae verleng moet word.

Terblanche, ʼn finansiële bestuurder van Brackenfell, het die petisie op 3 Julie 2014 voorgelê. Hy het elke lid van die parlement genader en versoek dat hulle ʼn wetsontwerp saamstel om deur die Nasionale Vergadering oorweeg te word.

Terblanche se vrou, Giselle, het in November 2013 ʼn tweeling gehad. Hulle is drie maande te vroeg gebore. Een van die babas moes 139 dae lank in die hospitaal deurbring en sy boetie 79 dae.

Terblanche het aangevoer dat die drie dae gesinsverantwoordelikheidverlof wat toegestaan word, nie genoeg is in die geval van keisersneë, vroeggebore babas, siektes of ander noodgevalle nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.