‘Kragdag kan self, dankie!’

Sakeliga Kragdag het homself vanjaar weereens oortref. (Foto: Verskaf)

Sakeliga KragDag, die selfstandigheids-ekspo wat oor die afgelope 14 jaar mense geprikkel het wat hulself wil los maak van ontoereikende staatstrukture, was weer eens ʼn dawerende sukses. Dit op kort kennisgewing en na twee kansellasies gedurende die Covid-19-inperking.

Hierdie snelgroeiende skou, wat 20 km oos van Pretoria plaasvind, het vanjaar ongeveer 21 001 mense oor die drie dae getrek. Die tema was, ‘Ek kan self, dankie!’ Tydens die eerste ekspo het ongeveer 400 mense deur die hekke gekom.

“Ons glo die groei kan toegeskryf word aan die feit dat mense al hoe meer besef dat hulle verantwoordelikheid moet neem vir alle fasette van hul lewens,” sê HP Steyn, hooforganiseerder van die ekspo.

ʼn Rekordgetal van 488 ondernemings het by die ekspo uitgestal, wat dit waarskynlik die grootste ekspo vanjaar in die land maak, weens die 19 maande inperking wat dié bedryf lamgelê het.

“Kragdag is primêr ʼn alternatiewe energie- en selfstandigheid-ekspo en met die leuse, ‘Doen jou eie ding!’, dien dit as uitstalvenster vir talle ondernemings om hul selfstandigheidsoplossings op ʼn verskeidenheid lewensterreine ten toon te stel. Besoekers kry ook die geleentheid om hulself toe te rus vir ’n vryheidslewe in antwoord op die uitdagings waarmee hulle daagliks in Suid-Afrika gekonfronteer word.

“Besoekers kon uitstallings van alternatiewe energie, water, veiligheid, opvoedkunde, tegnologie, voedselproduksie, gesondheid, konstruksie, ontspanning, vervoer, finansies, doen-dit-self-planne, elektronika, 3D-drukkers, die internet van dinge, nuwe patente, hommeltuie en toerusting vir entrepreneurskap en lewensbeskouingsfilosofie vind.”

TLU SA het in 2019 aan boord gekom toe hulle die eerste landbou-subekspo aangebied het. Vanjaar was dit ook die grootste landbou-ekspo wat in die land aangebied is, met sowat 95 uitstallers en verskeie items, demonstrasies en veerastentoonstellings wat besigtig kon word.

TLU SA se bestuur het die snikhete dag trotseer om hulle organisasie by hul sub-ekspo te verteenwoordig.

“Hier sit ons in 2021 en ons is dankbaar vir al die landbou-uitstallers wat kon kom. Hoewel die skou op kort kennisgewing voortgegaan het, het daar 40 nuwe uitstallers bygekom en dié wat dit nie kon maak nie is vuur en vlam om volgende jaar hier te wees,” sê Lynette du Plessis, TLU SA se skou-organiseerder.

Volgende jaar gaan ons ook heelwat praktiese uitstalling hê soos ʼn KI-kursus, outopsies en lesings. Ons wil ook ʼn tuisgebakte plaasgoed-kompetisie en ʼn veeveiling aanbied.

In die Sakeliga Plein-raadsaal het verskeie hoëprofiel sprekers, onder wie Dawie Roodt, dr. Herman Edeling en die Panda-aktuaris Nick Hudson, insiggewende en aktuele aanbiedings gelewer het. Opnames van hierdie gesprekke is ook regstreeks op sosiale media geplaas.

Die KRAGkidz Junior-entrepreneurskompetisie is vanjaar in samewerking met Fergusmor, Bepicon en Solidariteit Helpende Hand aangebied. Jong mense is aangemoedig om hul entrepreneursvaardighede op te skerp en hul produkte en dienste op die ekspo te bemark. Die wenner van die Doelgerig-afdeling was Fire Buddies wat ʼn kontantprys van R 10 000 asook besigheidsafrigting deur Fergusmor gewen het.

“Dit was uiteindelik, met groot dankbaarheid teenoor die Here, wat die ekspo afgeskop het. Die burgemeester van Tshwane, Randal Williams, het in sy openingsrede sy ondersteuning aan die ekspo gegee en die waarde daarvan vir die gemeenskap beklemtoon. Hy het ook klem gelê op die mislukkende staat en die Eskom-monopolie,” sê Steyn.

Die organiseerders het aanvanklik geworstel met die besluit oor of hulle die leiding moet neem en deurdruk met die hou van die ekspo. Hulle moes vir hulleself vrae beantwoord soos, indien nie nou nie, wanneer en indien nie ons nie, wie? “Dit is ons wens dat die voorbeeld wat die ekspo gestel het, die weg sal baan vir ander ekspo’s en feeste om ook weer te hervat en is dit KragDag se bydrae tot voordeel en vryheid van almal.

“In ʼn tyd waarin mense vasgevang is in vrees en talle groetwoorde afsluit met ‘wees veilig!’ poog die ekspo eerder om mense aan te moedig om kreatief te wees en avontuurlik te leef,” sê Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Ek het nooit gedink ek sal dit sê nie maar die ANC/EFF verdien die lof. As dit nie vir hulle was nie sou die ekspo nooit die lig gesien het nie inagenome dat hulle ons land in dryfsand “geadministreer” het.

Wielspore ·

Die ANC het onlangs met ‘n nuwe kreatiewe idee vorendag gekom, ek wonder of hulle ook by die ekspo uitstal. Die voorstel val onder die omgewings vriendelik kategorie, die tradisionele long drop toilet gaan weer ontwikkel word in die afgelee gebiede onder ‘n nuwe naam van off grid toilets.
Voorwaar, kreatiewe verkiesings foefie….

Althes ·

Dis ñ briljante inisiatief van Sakeliga. Daar is soveel geleenthede in SA, ñ mens moet dit net soek en benut. Baie Suid-Afrikaners vaar beter hier as wat hul oorsee sou gaan woon.

Pieter ·

Dit lyk of dit heel skaflik gaan met die manne en vroue as ek so na die pic kyk. Geen voedsle tekort daar nie.

Christine ·

Ek gaan al van die begin van die Kragdag-ontstaan elke jaar daarheen, behalwe 2020 wat gekanselleer was. Die inisiatiewe is wonderlik, die goeie organisering is elke jaar nog beter en die wonderlike hardwerkende, eerlikheid en netheid van die Afrikaner is oral om jou. Tot kinders wys hul inisiatiewe en dissipline en entrepreneurs-vaardighede. Welgedaan mense, hoop julle sal net van krag tot krag gaan.

Frank John ·

Ek wil beslis die expo by woon iewers in die toekoms. Ek het wel alles in solar omskep maar moet meer weet om nog beter te gaan. Kennis is goud werd om regte besluite te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.