Kragstasie maak plek vir hernubare energie

Komati-kragstasie (Foto: Eskom)

Die steenkoolaangedrewe Komati-kragstasie in Mpumalanga se bedrywighede het Maandag tot ʼn einde gekom. Dit sal nou vervang word met ʼn meer hernubare kragopwekkingsterrein.

Volgens Eskom sal die sluiting van die stasie nie ʼn noemenswaardige uitwerking op die nasionale kragstelsel se opwekkingskapasiteit hê nie, aangesien die oorblywende stasie slegs 121 MW tot die sisteem bygedra het.

Eskom het in ʼn verklaring gesê die terrein sal gebruik word om sy omvattende Just Energy Transition- (JET-)strategie te ontwikkel. Die strategie fokus op die “oorgang na laer koolstofintensiewe tegnologieë” en die vermoë om krag op te wek deur middel van hernubare energie.

Die kragsentrale sal omskep word in ʼn hernubare opwekkingsterrein wat aangedryf word deur 150 MW sonkrag, 70 MW windkrag en 150 MW stoorbatterye.

“Daardeur gaan Eskom voort om die terrein en sy gepaardgaande infrastruktuur doeltreffnd aan te wend en om ekonomiese geleenthede vir die gemeenskap te skep,” sê die kragvoorsiener in die verklaring.

ʼn Fabriek is reeds op die terrein opgerig, waar sogenaamde mikro-kragnetwerke vervaardig sal word. Hierdie mikro-kragnetwerke bestaan uit skeepsvraghouers met batterye wat binne en sonpanele buite aangebring word.

Die Komati-kragstasie wek sedert 1961 vir Suid-Afrika krag op.

“Opwekkingseenheid nege is in Maart 1966 in gebruik geneem, die laaste van nege eenhede wat gebou is. Ander eenhede is oor die jare gesluit toe hulle die einde van hul bedryfslewe bereik het, soos deur die wet vereis.”

Die meeste werknemers by die stasie gaan nou na ander stasies oorgeplaas word of by Komati aanbly om by die nuwe hernubare strategie betrokke te wees.

“Geen werknemer van Eskom sal hul werk verloor weens die sluiting van die kragstasie nie. Eskom het sy plan duidelik en betyds met die werknemers, vakbonde, gemeenskap en alle geraakte belanghebbendes bespreek.”

Komati is een van die kragstasies wat voorheen in die vroeë 1980’s gesluit is weens oortollige kragopwekkingskapasiteit, die ouderdom van die stasie en die hoë onderhoudskoste. Eenheid nege is toe in 1989 gesluit.

Daarna is besluit om Komati-kragstasie weer in diens te neem, met opknappingswerk wat op 14 Augustus 2006 begin het. Eenheid nege is op 24 Desember 2008 oorhandig aan die opwekkingsafdeling en op 4 Januarie 2009 in werking gestel.

Die ontwikkeling van die Komati-opleidingsfasiliteit om die heropleiding van Eskom-werknemers en lede van die gemeenskap, soos toepaslik, te bewerkstellig, is ook aan die gang.

Eskom het reeds ʼn vennootskapsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Hernubare Energie-tegnologiesentrum (Saretec) van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie en die Global Energy Alliance for People and Planet (GEAPP) onderteken om die opleidingsfasiliteit te ontwikkel.

Finansiering vir hierdie fasiliteit is ook reeds ontvang van een van die ontwikkelingsfinansieringsinstellings (DFI’s).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JohanR ·

Wonder nou hoeveel die kaders gaan maak? Hier kom ‘n lekker paar vet tenders. Die varke moet eet!

Sarel ·

Wat gasn die koste wees en hoeveel Dekades gaan dit neem…
Hoe gaan Korrupsie en Diefstal voorkom word

Lillian ·

En hoe lank gaan dit vat om in werking te kom? Nog 20 jaar?

SwartBees ·

Dis 121MW wat kon help.
So as ek reg verstaan sluit die krag stasie maar die werkers is nogsteeds op die pay roll. Dis omtrent lekker in die plek. Hier moet ons bly, dit gaan nog lekker raak.

LANA is ELANè ·

Ek stem, ESKOM is mos die gans wat die goue eiers lê, want jy word goed beloon vir min doen.

lodewyk ·

Duidelik verstaan julle nie wat n kragstasie behels nie,dus nie net van afsit en dink alles is nou dood nie,daar word nog krag voorsien aan die dorps gebied,en water wat Komati water aanleg voorsien,die huidige aanleg moet ge “de comission ” word,huidig is daar klaar werks winkels in plek met die vervaardiging van die BSSS projek,die buite aanleg is ook nog in werking ,van die ongeveer 600 Eskom werkers is net ongeveer 50 behou vir hulle vaardighede die res is verplaas ,niemand wat agterbly sit en niks doen nie..

Pinoccio ·

Sonpanele en batterye in SA, ek ruik plundering op groot skaal vir die swartmark…

Marthinus Johannes ·

9 Eenhede wat wisel tussen 100MW en 110MW elk wat in totaliteit +- 930MW moet lewer as almal loop maar het net 121MW bygedra ??????? Dir skep die idiee dat daar net 2 Eenhede geloop het oneffektief. Wat was gedoen om die res aan die gang the key?

Rina ·

Ek was betrokke by die Komati RTS (return to service) projek. Ek was ook betrokke by die RTS projek by Grootvlei kragstasie naby Balfour. Ek sal so graag by die nuwe projek betrokke wou wees by Komati

Miskruier ·

Europa en China brand weer steenkool……ons steenkool.

Carel ·

Die geinstalleerde kapasiteit was 1000MW. Die groen opwekkingskapasiteit is 220MW. Ek weet die kragstasie het uiteindelik minder gelewer maar hier is bewys van hoe ondoeltreffend groen krag op groot skaal uiteindelik is…

Swerwer ·

So gaan die kommunis weer vir sy kommuniste sorg. Hulslyp nou al hul tande vir wat kom. Skep Pappie, Skep, verwoes wat voorkom. Die Voorvaders sal mos sorg tot jul ook onder die sand begrawe lê

Danie ·

Luister na miller se gesprek op utube rakende die land se krag en ander krisis dit is nogal uiters kommerwekkend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.