Kubermisdaad kos PostBank miljoene

Deur Marecia Damons

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Posspaarbank, ofte wel PostBank, het oor ʼn tydperk van drie maande R18 miljoen weens kubermisdaadaanvalle verloor.

Dié staatsentiteit sal nou oor die volgende drie jaar R400 miljoen bestee om sy IT-stelsels op te gradeer en te moderniseer.

Lucas Ndala, uitvoerende hoof van PostBank, het Dinsdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie gesê hy het “ʼn aantal kuberbedrogvoorvalle gehad – waarvan die meeste verband hou met die Sassa-toelaagbetalingstelsel”.

Ndala sê die Postbank IT-stelsel is deur die ouditeur-generaal uitgelig weens swakhede in sy beheermaatreëls.

“Daar was ʼn daadwerklike poging om hierdie stelseltekortkominge op te los sedert die toelaestelsel in 2021 aan PostBank gesedeer is. Baie van hierdie swakhede kom van die stelsel self omdat dit met ʼn aantal foute gekom het wat mettertyd aandag moes kry,” het Ndala gesê.

In reaksie op DA-LP Dianne Kohler Barnard oor die totale koste van die IT-opdatering, het Ndala gesê dat die goedgekeurde bedrag op sowat R400 miljoen neerkom.

“Dit sal uit hulpbronne van PostBank gefinansier word. Die modernisering sal oor ʼn tydperk van drie jaar geskied.”

Volgens Ndala het 141 Sassa-begunstigdes se rekeninge in Augustus onder kuberaanvalle deurgeloop. Dié aanvalle alleen het PostBank R5,8 miljoen gekos.

Die tweede voorval het in September plaasgevind, en het rekeninge geraak wat maatskaplike toelaes namens kinders ontvang. Ndala sê PostBank se bedrogrisikospan het ontdek dat sommige van hierdie rekeninge bedrieglik was, en as ʼn voorkomende maatreël is dit nou geblokkeer.

“Die blokkering is egter nie behoorlik gedoen nie. Enigiemand kan dit binne ons taknetwerk ‘ontblok’.”

PostBank het sowat R4 miljoen in dié voorval verloor.

Nog ʼn kuberaanval het PostBank in Augustus R9 miljoen gekos, terwyl daar vroeër vanjaar onthul is dat PostBank in Oktober verlede jaar R90 miljoen se skade weens kubersmisdaadaanvalle gely het.

Ndala het aan parlementslede gesê PostBank is op dieselfde IT-netwerk as die Suid-Afrikaanse Poskantoor. Een van die vereistes toe PostBank om ʼn banklisensie by die SA Reserwebank aansoek gedoen het, was egter dat hy sy eie “selfstandige IT-omgewing nodig het wat nie deur die risiko’s van die Poskantoor geraak kan word nie”.

ʼn Forensiese ouditverslag ná die onlangse kubermisdaadvoorvalle sal na verwagting in Desember uitgereik word, terwyl die tweede deel van die verslag in Februarie 2023 verwag word. Nonkqubela Jordan-Dyani, waarnemende direkteur-generaal in die departement van kommunikasie en digitale tegnologie, sê die gevolge van dié kubermisdaadaanvalle moet bestuur word, aangesien openbare en staatsfondse ter sprake is.

“Ons moet seker maak dat almal wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

“Die Valke sal ons lei in die proses, en van ons kant af is ons van voorneme dat die verslag aan die kabinet ter tafel gelê sal word.” PostBank het nie gereageer op vrae of betalings aan maatskaplike toelae- begunstigdes geraak is, of hoe dit die verliese gedek het nie.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

So waar? Dit sal goekoper wees om maar die postbankies se deure toe te messel. Mense kan hul banke (nie die sit-sit-$o-tipe nie) of supermarkte gebruik want, regtig waar, die stories raak vervelig en net te duur vir ‘n daalder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.