Kuier in Nagkantoor: Om jou hart vir Hillbrow te gee

(Foto: Dawid Roux)

Kort ná die ontdekking van goud aan die Witwatersrand is ʼn woonbuurt in 1894 teen een van die koppies in Johannesburg uitgelê: Hillbrow.

Byna 100 jaar later, in 1989, stel Johannes Kerkorrel die lied “Hillbrow” op sy album Eet Kreef bekend. In dié lied verklaar hy sy liefde aan die besondere woonbuurt in die hart van Johannesburg en vertel waarom dié plek hom so aangryp. Die Hillbrow waar die Fontana-restaurant se deure deurnag oopbly, waar jy kan kies en keur uit ʼn versameling langspeelplate in Hillbrow Records en waar Estoril Books enige boekliefhebber se aandag ure lank kan gevange hou.

(Foto: Dawid Roux)

ʼn Hillbrow wat helaas nie meer daar is nie. Hillbrow in die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu was ʼn kleurvolle, kosmopolitaanse woonbuurt met baie musiek en kleur en kuns. Maar nou is dit bloot die herinneringe aan daardie jare in Hillbrow wat vir baie joernaliste en fotograwe met heimwee laat terugdink.

Op 18 Januarie vanjaar plaas die fotograaf Dawid Roux twee foto’s wat hy in die 1980’s in Hillbrow geneem het, op Nagkantoor. Hy was in daardie tyd een van Beeld se fotograwe. Die twee foto’s van ʼn kaalbas wat op Oujaarsaand onder die streng toesig van ʼn polisieman maar weer sy broek moes aantrek, het wye reaksie uitgelok. Hillbrow, in daardie tyd, was beslis ook die kuierplek vir persmanne en -vroue.

Hier het ek mens geword, onthou Dawid Roux

Dawid Roux

Dawid Roux sê Hillbrow bly steeds die lekkerste plek waar hy ooit gewoon het. Dit was in die vroeë tagtigerjare toe hy daar in ʼn eenslaapkamerwoonstel op die tiende verdieping gebly het. Van bo van sy balkon af het hy ʼn wonderlike uitsig oor ʼn groot gedeelte van hierdie voorstad gehad.

“Ons het in daardie tyd beslis die kers aan albei kante gebrand. In die aande het ons baie lekker gekuier by plekke soos die Chelsea Hotel, Café de Paris of een van die klubs, en die volgende dag moes ons maar weer gaan werk. Daar was seker nie ʼn nagklub wat ek nie besoek het nie en matigheid is nie altyd voor oë gehou nie. Ná die tyd het ons sommer altyd een van Fontana se spitbraaihoenders gekoop en op die sypaadjie verslind.

“Baie van die ander joernaliste en fotograwe het in Hillbrow gebly, want dit was nie te ver van Doornfontein af nie waar baie van ons se kantore was. Ons was jonk en braaf en het sommer werk toe gestap. So kon ek petrol spaar, want my salaris was maar karig,” onthou Dawid.

Oor dié Oujaarsaand toe hy die foto’s van die kaalbas geneem het, sê Dawid dat dit maar ʼn dronknes-partytjie was. Almal het in die strate gedans en gedrink en tekere gegaan. Dit was immers Hillbrow. Die polisie was soos altyd teenwoordig, maar hulle het nie vreeslik ingemeng nie, en tog gesorg dat die orde gehandhaaf word. Dit was lank voor die dae toe Hillbrow ontaard het in ʼn plek waar mikrogolfoonde op Oujaarsaand by woonstelvensters uitgegooi word.

“Dis in Hillbrow waar ek vir die eerste keer met ander tale, rasse, nasies, geloofsoortuigings en seksuele oriëntasies in aanraking gekom het. Watter goeie ondervinding was dit nie! Nou, as fotograaf, kom ek steeds in Hillbrow. Die plek maak my egter hartseer met alles wat so vervalle is. Ek mis dié Hillbrow waar ek mens geword het,” sê Dawid.

Karin Pretorius herroep die knipoog van die Hillbrow-toring se rooi flikkerlig

Karin Pretorius

In 1970 is Karin Pretorius aangestel as ʼn verslaggewer by Die Transvaler en haar eerste woonplek was in ʼn piepklein woonstelletjie in Smitstraat 32, Hillbrow. Op haar sofa kon sy saans sien hoe die Hillbrow-toring bloedrooi vir haar knipoog. Sy deel haar wonderlike herinneringe aan hierdie tydperk in ʼn inskrywing op K’rant, ʼn webjoernaal waarin oudwerknemers van Perskor mymer oor die verlede.

Karin vertel hoe sy een aand ʼn briefie van die bure onder haar voordeur gekry het. “Ons gee nie om tot watter tyd in die oggend jy jol nie, maar trek asseblief jou hoëhakskoene uit wanneer jy inkom, want jy maak ons wakker!” het die briefie gelui. Tog was sy dan weer die volgende oggend agtuur op kantoor agter haar tikmasjien. Gereed om haar volgende storie te skryf.

“Iets wat ek nie in hierdie K’rant-bydrae genoem het nie, was die fantastiese eetplek, Heinrich’s Restaurant, wat bo in die Hillbrow-toring was. Toe was dit natuurlik nog die JG Strijdom-toring genoem. Hierdie draaiende restaurant was iets wonderliks, want dit was baie spoggerig en waar in jou lewe het jy nou al gehoor van ʼn eetplek wat in die rondte draai? Jy moes altyd jou handsak op jou skoot hou sodat dit nie agterbly op die lysie wanneer jy vorentoe gaan nie,” lag Karin.

Hillbrow in die 1970’s was die plek waar sy saam met vriende gejol, partytjie gehou en gedans het tot laatnag by Ster City se Sardi’s by Night. Sy het selfs tweeuur in die oggend op ʼn bushaltebankie gesit en vis en tjips eet. “Dit was ʼn wonderlike, sorglose lewe met Hillbrow aan ons voete. ʼn Plek waar ons enige tyd van die dag of nag veilig was,” onthou Karin.

‘Hillbrow was ʼn wonderlike kosmopolitaanse gebied met baie musiek’

Harald en Aletta Pakendorf

Aletta Pakendorf het in die sewentigerjare by Die Vaderland gewerk waar sy vele boekresensies en plaatresensies gedoen het. Dit het haar soos ʼn handskoen gepas dat sy en Harald in Hillbrow in ʼn woonstel gebly het. Wanneer sy die langspeelplaat wat sy moes resenseer klaar geluister het, het sy dit weer ingeruil by die eienaar van Hillbrow Records. Ook Estoril Books waar jy enige boek onder die son kon kry, was binne loopafstand.

“Wanneer ek aan Hillbrow van desjare dink, dink ek nie aan kos nie, maar aan musiek, boeke en kuier. Baie kuier. Daar was so baie lewe in die strate van Hillbrow en verskriklik baie plekke waar musiekdinge aangebied is. Mense soos Des en Dawn het gereeld hier opgetree. Dit was die tyd van folkmusiek. Hillbrow was ook die bevrydingsplek waar ons met swart medeburgers kon kuier. Inderdaad ʼn misdaadvrye plek,” onthou Aletta.

Aletta sê dat Hillbrow wêrelde verwyder was van Bedfordview waar sy grootgeword het. Hillbrow, onthou sy, was ʼn saamkomplek van jongmense en as sy nou terugdink, kan sy nie aan ouer mense in die kuierplekke dink nie. Sy en Harald sou nooit daar weggetrek het, indien hulle nie elders huis gebou het nie. ʼn Mens kon nie kinders in Hillbrow grootmaak nie, want daar was nie skole nie, sê sy.

In sy boek Stroomop deel Harald Pakendorf ʼn stuk wat Juanita Swanepoel, later Britz, oor Hillbrow geskryf het. Dit was herinneringe aan haar tydperk by Die Vaderland. “Soms het ek sommer na die kantoor geloop. Dit was glad nie gevaarlik nie. Johannesburg en Hillbrow is in dié tyd goed bestuur, met Hillbrow ʼn mini- New York. Kosmopolitaans en polsend,” skryf Juanita.

“Voor ek getroud is met Aletta het ek vir ʼn jaar en ʼn half ʼn woonstel in Hillbrow gedeel met die kunstenaar Robert Hodgins. Hillbrow was veral die plek van straatkafees. ʼn Heeltemal ontspanne soort plek wat totaal verskil het van die res van Johannesburg wat taamlik voorstedelik en voorspelbaar was. Dit was vir baie mense ʼn soort ontsnappingsplek. ʼn Heerlike multikulturele gebied,” sê Harald.

Ronelle Terre’Blanche onthou Fontana se vuurwarm braaihoenders ná spertyd in die nag

Ronelle Terre’Blanche

Hillbrow in die sewentigerjare was ʼn lewendige, kosmopolitaanse gebied waar jonk en oud gewoon en gekuier het. Dit was die jare van groot gepermde hare, helder blou oogskadu, minirokke en melkskommels, onthou Ronelle Terre’Blanche wat toe ook ʼn verslaggewer vir Beeld was. Ronelle en ʼn kollega het op die 17de verdieping van die Tygerberg-woonstelblok met sy 25 verdiepings gebly. Dit was reg langs die Ponte-gebou. Die ergste was die kere wanneer die hysbakke nie gewerk het nie en hulle dan ná werk al die trappe moes klim.

Vir ʼn aand se vermaak, veral naby aan betaaldag, is hulle na die Ambassador of die Chelsea Hotel om na een van Taubie Kuschlick se produksies te luister. Een van hierdie produksies wat haar nou nog bybly, is Eric Blau en Mort Shuman se Jacques Brel is Alive and Well and Living in Paris.

“Die enigste ‘voorval’ wat my tydens my verblyf in die digbevolkte metropool direk geraak het, was toe ek een oggend in Saratogalaan afgestap het op pad na die kantoor. ʼn Man met ʼn groot jas aan het op die sypaadjie van agter by my verbygehaas en vyf treë verder omgeswaai en homself ontbloot. Ek het so groot geskrik dat ek amper neergeslaan het toe ek van die sypaadjie spring om weg te kom na die ander kant van die pad,” lag Ronelle wanneer sy nou terugdink aan die Hillbrow van haar jeugjare. Wonderlike, onskuldige jeugjare.

Die Hillbrow-toring stuur steeds sy seine in die nag. Nou meer as ooit vir die junkies wat daar rondhang. Van die kosmopolitaanse, polsende Hillbrow het helaas niks oorgebly nie.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Ons was nog klein, maar ek onthou ook die Fontana se gebraaide hoenders wat my ma hulle gekoop het vir ‘n Vrydagaand saam met rolletjies sodat my ma nie hoef te kook nie.

Swerwer ·

Het self in die vroeg 80 daar in ‘n woonstel gewoon. Dit was wonderlik. Het snags rondgeloop en musiek geluister en sommer net soos jy loop geselsies aangeknoop en op die ou end, was dit ‘n heerlike kuier saam met wild vreemdes waar staaltjies uitgeruil is, gesing is en ‘n lekker kuier tot ‘nvolgende keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.