Kunstenaars dreig SAUK met hof oor tantieme

Foto: Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte (Sampra) wil regstappe teen die SAUK doen om die uitsaaier te verplig om “needletime”-tantieme aan musikante te betaal vir die gebruik van hul musiek op die uitsaaier se radiostasies.

Dít terwyl verskeie kunstenaars swaar trek weens afsonderingsregulasies wat hulle verhoed om ʼn inkomste uit optredes te verdien.

“Needletime”-tantieme kom alle partye – van die musikant tot die instrumentalis – toe wat ʼn bydrae tot die opname van ʼn musieksnit gemaak het.

Die vereniging verteenwoordig tans meer as 38 000 kunstenaars en byna 6 000 platemaatskappye. Dit sluit in verskeie Afrikaanse kunstenaars soos Chris Chameleon, Arno Jordaan en Elvis Blue.

Die SAUK betaal in dié stadium geen sodanige tantieme aan kunstenaars vir die gebruik van hul musiek op sy minstens 18 openbare radiostasies nie. Die openbare uitsaaier skuld volgens Sampra reeds meer as R250 miljoen oor die verloop van vyf jaar aan kunstenaars.

Sampra meen die SAUK ontneem kunstenaars hul reg om ʼn inkomste uit hul musiek voort te bring, veral omdat musici steeds gebuk gaan onder die algehele inperking weens Covid-19.

Die vereniging sê in ʼn verklaring indien die SAUK voortaan versuim om kunstenaars vir hul werk te vergoed, wil hy eindelik ʼn interdik teen die openbare uitsaaier bekom wat hom sal verbied om enige Sampra-lede se musieksnitte te gebruik.

Sampra meen dít sal die SAUK lamlê aangesien omtrent 95% van die SAUK se speellys uit die intellektuele eiendom van Sampra se lede bestaan en die uitsaaier dus dan byna al sy musiek kwyt sal wees.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Chris Chameleon het Woensdag by navraag bevestig dat die SAUK nog nie ʼn sent in “needletime”-tantieme aan hom of enige ander kunstenaar in die land betaal het nie.

Hy glo dit is belangrik om veral nou die gesprek hieroor te voer aangesien die staat deur middel van die afsonderingsregulasies “kunstenaars se hande afgekap het”. “Dit is die [einste] staat wat aan die hoof van die SAUK staan.”

Die gewilde Afrikaanse kunstenaar het Woensdag aan Maroela Media verduidelik hoewel die uitbetaal van “needletime”-tantieme maar klein bedrae behels – enkele sente per speel van die snit – neem die bedrae tog toe wanneer ʼn mens in ag neem dat ʼn snit herhaaldelik oor verskeie radiostasies gespeel word.

Dié tantieme kan volgens Chameleon juis nou ʼn verskil in elke Suid-Afrikaanse kunstenaar se situasie maak, hoe bekend of in watter finansiële posisie die kunstenaar ook al mag wees.

Pfanani Lishivha, uitvoerende hoof van Sampra, sê op sy beurt die SAUK ondermyn kunstenaars en “vryf sout in die wonde” van sommige opnamekunstenaars wat in dié stadium sukkel om hul lewenskoste te dek.

Lishivha sê die jazzmusikant Sipho “Hotstix” Mabuse is een van diegene wat besonder swaar trek elke keer dat die SAUK versuim om hom te vergoed vir die gebruik van sy intellektuele eiendom.

Mabuse sê die openbare uitsaaier speel ironies genoeg kunstenaars se musiek op radio om ʼn gevoel van hoop te skep te midde van die huidige situasie in die land, terwyl die uitsaaier inkomste vir homself deur advertensies skep.

“Die SAUK ken die krag van musiek, maar is nie bereid om ons vir ons werk te betaal nie,” sê Mabuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joggie ·

Dit is net uitvoering van ANC beleid, onteining sonder vergoeding!

Martie Smartie ·

Stel n klasaksie geding in teen SAUK. Dis sommer nonsens dat mense musiek maak en die SAUK gebruik dit verniet. Wie se toestemming het die SAUK nogal? Vir privaat gebruik is dit een ding want jy betaal om ‘n song af te laai of koop n CD, maar kommersieel en aanhoudend oor jare – nee wat, gee hulle pakslae.

Hennie ·

Nog ‘n ANC wenstorie om te vertel! Maar stemtyd, dan word die kruisie weer by die klomp ANC paloekas getrek!

DIABLO ·

Ons moet lisensies betaal. Maar ons kunstenaars word nie betaal nie. Dis mos nou pleinweg diefstal. Pik vir hulle, kunstenaars, pik hard en pik raak. Andersins, laai julle musiek op ander platforms. Ek sukkel juis om al julle musiek op my gunsteling APP te vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.