Kyk: ‘Grootste aanval nóg op Afrikaanse onderwys’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Die beplande wysigings aan die Skolewet is die enkele, grootste aanval op Afrikaanstalige onderwys nóg in ons demokrasie.”

Dr. Theuns Eloff, onafhanklike kommentator en voormalige visekanselier van die NWU, het Maandag dié stelling tydens ʼn regstreekse gesprek oor beplande wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet gemaak.

Ander sprekers was Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, en Desiree van der Walt, die DA se adjunk-skaduminister van basiese onderwys.

“Ons sit hier met wat ek wil beskryf as die burokratisering van ons openbare skole,” het Human op sy beurt gesê oor die beplande wysigings wat sal bepaal dat die provinsiale onderwysdepartement oor skole se taal‑ en toelatingsbeleid kan besluit, sou dit aanvaar word.

Kommer oor die Skolewet het reeds vyf jaar gelede ontstaan toe beplande wysigings in 2017 aangekondig is. ’n Openbaredeelnameproses oor die wetsontwerp is destyds van stapel gestuur en sommige van die wysigings is toe geskrap nadat dit teenkanting ontvang het.

Daar bestaan egter nou opnuut kommer oor die wysigings wat daarop gemik is om bepaalde magte uit die hande van skole se beheerliggame te neem en in die hande van die regering te plaas.

Die grootste kopseer is artikel 5 van die wet, wat die provinsiale onderwysdepartement die reg gee om oor skole se taal‑ en toelatingsbeleid te besluit.

Human sê die beplande wysigings is ingrypend aangesien dit inderwaarheid sal beteken dat openbare skole ’n “verlengstuk van die staat” word wat bloot die regering se instruksies sal moet uitvoer.

Daar is gedurende die gesprek daarop gewys dat dit juis goed gaan met skole waar ouers inkoop en daar gemeenskapsbetrokkenheid is.

“’n Gemeenskap sal nie sommer toelaat dat ’n skool beskadig of afgebrand word nie. Hulle sal ook seker maak dat die onderrig van ʼn hoë gehalte is,” het Buys gesê.

“Jy kan nié sonder ’n reuseverlies in die gehalte van onderwys ouers en die gemeenskap se rol by skole skrap nie.”

Moedertaalonderrig

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Eloff meen dit is moontlik om 11 amptelike tale in skole te akkommodeer. “Dit is haalbaar, maar dit gaan lank vat.”

Hy wys daarop dat internasionale navorsing onomwonde bewys dat moedertaalonderrig belangrik is vir die aanleer van kognitiewe vaardighede en kultuuroordrag.

“Die ANC‑regering bewys lippediens aan moedertaalonderrig tot nadeel van die toekoms en die bevolking en ons land.”

Eloff meen die land se kulture sal verarm indien Engels in alle skole afgedwing word.

“Moedertaal is ’n integrale deel van elke kultuur,” het Buys daarby aangesluit. Ook sy beaam dat dit belangrik is dat daar nie een taal – soos Engels – in skole afgedwing word nie.

Dit lyk ook nie of parallelmediumskole ’n oplossing bied nie.

Human meen indien die vraag na enkelmediumonderrig dit regverdig, ’n skool toegelaat behoort te word om so voort te gaan. “Wanneer jy dit nie kan regverdig nie en die skool leeg loop – dan moet jy ongelukkig ruimte maak vir ander taalgroepe.”

Die kenners doen ’n beroep op ouers en die skoolgemeenskap om deel te neem aan die uitgebreide openbaredeelnameproses oor die wetsontwerp wat binnekort sal oopmaak.

Van der Walt sê die proses moet deursigtig en in elke distrik reg oor die land geskied. Sy doen voorts ʼn beroep op die skoolgemeenskap om nie net geskrewe antwoorde in te dien nie, maar ook in persoon aanbiedinge tydens die openbare verhore voor te lê.

“Gaan en gaan in getalle,” stel Eloff voor.

Kyk weer hier na die gesprek:

Skolewet – “Pasop, neem aksie!”

Beplande wysigings aan die Skolewet is twee weke gelede in die parlement voorgelê en bepaal onder meer dat die onderwysdepartement oor skole se taal‑ en toelatingsbeleid besluit. Maar waarom is dit belangrik dat die skoolgemeenskap die grootste sê oor die bestuur en beleid van skole moet hê en watter rol speel moedertaalonderrig wanneer daar oor die taalbeleid van ʼn skool besluit moet word?Maroela Media het ʼn paar kenners genader om dié vrae vir ons te beantwoord. Elaine Krige, nuusredakteur van Maroela Media gesels met Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, Theuns Eloff, onafhanklike kommentator en voormalige visekanselier van die NWU, en Desiree van der Walt, die DA se adjunk-skaduminister van basiese onderwys

Posted by Maroela Media on Monday, February 28, 2022

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Ons staan voor dooiemansdeur. Die ANC wil net vat en niks oprig nie ~ vat die nes en gooi die kleintjies uit. Engels is nou die voer-taal: So word mens gevoed en geklee en kry jy pledges. Afrika wil sy kultuur afskud soos ‘n vuil ou karos. Alles nuut en Westers en wild is opwindend. Ons sal geen hulp uit Afrika kry om te oorleef nie. Slinkse Afrikaders is skielik baie vir ‘n nuwe pad na dieselfde… Nêrens.

Schalk

Dit word polities gedryf. Sukses in Moedertaal onderrig is verseker sienbaar in die gehalte van sekere kulture. Pleks van te leer om suksevol te word is die alternatief om af te breek wat suksesvol en haalbaar is. Motivering en dryfkrag ontbreek.

Jr

Man glad nie probleem nie. Bou en koop bestaande skole en maak hulle privaat. Onnies wat privaat werk vir die skool en deur ons betaal word. Wat is fout met ons, ons hoef NIE te doen wat hulle deeemmmaand.

George

enige taal behalwe Afrikaans is basies wat gese word, en dat die Afrikaners hul eie skole ens opbou, dan word daar betoog en afgebrand want hoe durf die afrikaner na homself kyk sonder om hulle in ag te neem. Dis mos afrikaans wat maak dat hul nie suksesvol kan wees nie.

Erika

Ons land” maak mos voorsiening vir All Ons Tale” Net Solank Afrikaans as Taal nie bevorder word nie…Ne