Kyk: Ou ysters slyp jong ysters by Ambagfees

Dirk Hermann. Bestuurshoof: Solidariteit.

Hardwerkend, ywerig en innoverend is alles kenmerke van ʼn ambagspersoon wat nie terugdeins van harde werk nie, maar eerder sy of haar moue oprol en uitdagings met albei hande aanpak.

Dít is die boodskap wat Vrydag verkondig is tydens Solidariteit Ambagfees en Sol-Tech se tweede Ambagfees op Sol-Tech se kampus.

Meesters, oftewel “ou ysters”, in die ambagslui het hul kennis en ervaring kom deel met die voornemende ambagslui, oftewel “jong ysters”.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die ambagnetwerk help om “jong ysters” te laat studeer en berei hulle voor vir die arbeidsmark.

“Die Ambagnetwerk stel die ‘jong ysters’ in staat om werk te kry en nuwe netwerke in hul beroepsnetwerk te bou. Hulp word aangebied vir verdere opleiding en meesters word erken. Ons is ʼn kragtige netwerk.”

Volgens Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se ambag- en IT-netwerke, wag daar ʼn blink toekoms op ambagte in Suid-Afrika, omrede Solidariteit Ambagnetwerk verantwoordelikheid geneem het. “Dit is belangrik dat ons studente, wanneer hulle eendag meesters in hul beroep is, nader om terug te ploeg. Dit sal verseker dat ambagslui, ervarenheid en vaardigheid behoue bly.”

Pretorius beklemtoon ook dat die staatsverval die behoefte aan goed opgeleide ambagslui laat toeneem. Werkgewers staan deesdae tou om Sol-Tech-studente in diens te neem, omdat daar ʼn tekort aan opgeleide ambagslui is weens die verval van die eertydse tegniese opleidingskolleges. Sol-Tech verskaf boonop opleiding van wêreldgehalte.

Sol-Tech se fasiliteite het oorspronklik uit Solidariteit se hoofkantoor ontstaan, met ʼn paar draaibanke om studente mee op te lei. “Die groei van ambagte in Solidariteit is ongelooflik groot en daarom sien ons kans vir die toekoms. Dít is net die begin – kyk waarheen gaan ons,” voeg Pretorius by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.