Kyk: Só laat ʼn boer ʼn bees mos swem

Toe die gróót water vandeesweek in die Gouritzrivier afkom, moes Muller en sy span ekstra hand bysit om die kudde aan die ander kant te kry. (Skermgreep: Pieter Muller)

Van babers in die mielielande, tot ʼn boer wat sy trop beeste met ʼn kano moet aanjaag. Die swaar reën wat die afgelope paar weke oor groot dele van die land uitgesak het, het net weer gewys: Suid-Afrika se boere is ou planmakers.

In een van die jongste voorvalle van dié planmakery het ʼn video van Pieter Muller, wat sy kudde in ʼn kanoe oor die Gouritzrivier help aanja, soos ʼn veldbrand versprei.

Muller, van die plaas Peach Grove naby Herbertsdale in die Wes-Kaap, boer met beeste en skape. Die beeste wei daagliks op landerye aan die een kant van die Gouritzrivier en stap elke dag oor na die ander kant waar die melkery geleë is. Dit is ʼn roete wat hulle toe oë kan stap en hulle is ook nie bang vir die water of ongeneë om hul pote nat te kry nie.

Maar toe die gróót water vandeesweek in die Gouritzrivier afkom, moes Muller en sy span ekstra hand bysit om die kudde aan die ander kant te kry. Die beeste was aan die weikant van die rivier toe die water afkom, maar melkery toe moes hulle gaan.

Skaaphond of kano – as die beeste moet skuif, word daar plan gemaak. (Skermgreep)

Dis toe dat Muller-hulle die kano’s nader sleep en die span soos wafferse skaaphonde op water die beeste in die regte rigting aanpor. “ʼn Bees en ʼn skaap is ʼn snaakse ding: hulle volg altyd die voorste een. En as dáái een in die verkeerde rigting gaan, gaan al sowat 700 van hulle agterna en kom op die verkeerde plek uit.

“Die water is sterk en druk hulle. Dis hoekom ons met die kano’s help,” sê Muller.

Hy lag maar net oor die groot aftrek wat sy kano-beesaanjaag-vaardighede gekry het. “Dis vir ons ʼn alledaagse ding,” sê hy, hoewel die rivier gewoonlik darem aansienlik vlakker is.

“Gewoonlik as dit só diep is, durf ons hom nie aan nie. Maar ons het hierdie week nie ʼn ander keuse gehad nie,” sê Muller.

Sowat 700 beeste is deur die rivier. (Skermgreep)

Vrydagoggend is hy weer met die kudde deur die rivier en teen daardie tyd het die water reeds heelwat gesak.

Muller sê ʼn bees versuip boonop nie sommer nie. Hulle blaas vir hulle op en swem. Hy vertel in 1981, met die groot Laingsburg-vloed, het ʼn bees sowat 30 km stroomop van die plaas in die vloedwaters beland. Die dier het op die Mullers se plaas uitgekom en het sonder voorval ʼn dag later boonop gekalf, het sy pa destyds vertel.

Dit is net as die beeste vasval of iets hulle dalk onder die water trek dat hulle iets sal oorkom. Andersins swem hulle net verder, sê hy.

Die groot trek oor die rivier is aanvanklik op Sentraal-Suid Koöperasie se Facebook-blad gedeel en kommentaar het gewissel van ongeloof tot ʼn gekskeerdery.

“Ten minste word die melk lekker koud gehou,” skerts een gebruiker. “Ek sou my melk weggeskrik het as ek daar moes deur,” skryf ʼn ander.

Die meeste mense het egter net groot lof gehad vir die slim boereplan. “Knap gedaan aan hierdie boer,” skryf nog ʼn gebruiker.

Pieter Muller van Peach Grove, Herbertsdale het 'n dilemma gehad: die Gouritzrivier wat sy plaas kruis oorstroom as…

Posted by SSK on Wednesday, January 19, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lee101 ·

Ag mooi man… Lekker gebad en als… Trots op die boer… Dis nou tiepies die gesegde “n boer maak n plan”…

E ·

Verstommend, ek het deink net wilde diere soos wildebeeste sal dit doen.

JL ·

Hierdie is wel Jan F E Cilliers se gedig Trou, maar ek dink dit is heel toepaslik hier ook.
Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan; Ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan; ‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk; en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan –
Welgedaan.

Christine ·

Ons boere kon nog altyd ‘n plan maak. Welgedaan aan hom, dis in jul bloed om dit te doen.

Charl ·

Laat my dink aan die ou Wilde Weste flieks waar die beeste so moes deurswem !

Chantel ·

Dankie tog nie een het verdrink nie. Hats-off vir hom. Ek kry die boere jammer met die baie reën

Di ·

Ek as Afrikaner is werklik trots op ieder en elk van ons boere. Glo dis bitter moeilik met als wat aangaan in ons land, om nog steeds te boer. Haal my hoed af vir elke boer in hierdie land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.