Kyk: Tiere wat jare in treinwa oorleef, floreer in Vrystaat

Messi en Sandro herenig na die lang vaart van Argentinië. (Foto: Verskaf)

Vier Bengaalse tiere wat jare gelede in ʼn piepklein hok in Argentinië agtergelaat is, floreer eindelik soos hulle behoort te doen, nadat hulle vroeër vanjaar na ʼn toevlugsoord vir groot katte naby Bethlehem in die Vrystaat geneem is.

Nou, met genoegsame ruimte, al die vleis wat hulle begeer en gras onder hul pote, beleef dié verwaarloosde tiere by Lionsrock ʼn vryheid wat hulle nog nooit voorheen geken het nie.

Sowat 15 jaar gelede is twee van die tiere, ʼn mannetjie en ʼn wyfie, deur ʼn reisende sirkus agtergelaat. Die hokke, wat skaars groter is as die spasie wat twee parkeerplekke opneem, was deel van ʼn ou treinwa wat op ʼn afgeleë plaas in Argentinië geparkeer is. Vyf jaar later is twee mannetjie-welpies gebore en tot die tiere toegevoeg, maar hulle was steeds in vuil toestande agter tralies vasgekeer met min beweegruimte.

Danksy weldoeners in die omgewing wat daagliks na hierdie tiere omgesien het, met die beperkte voorraad tot hul beskikking, kon die tiere tot nou toe oorleef.

Die wêreldwye dierewelsynsorganisasie Four Paws kon egter nie verder toekyk hoe hierdie majestueuse diere vergaan van ellende nie. Deur amptelike prosesse, met behulp van die eienaar van die grond waarop die tiere agtergelaat is, kon die organisasie daarin slaag om die diere oor die Atlantiese Oseaan na Suid-Afrika te vervoer.

Die tiere se hok was deel van ‘n ou treinwa. (Foto: Skermskoot)

Die treinwa is op ‘n afgeleë plaas in Argentinië agtergelaat. (Foto: Skermskoot)

Elize Parker, mediaskakelbeampte van Four Paws Suid-Afrika, sê byna 11 weke ná Mafalda, Gustavo, Messi en Sandro se aankoms in die land, geniet die tiere dit steeds om die Vrystaatse grasvlaktes onder hul pote te voel – ʼn ervaring wat hulle ontneem is gedurende hul tyd in aanhouding.

“Die twee wat graag saam is, Mafalda en Gustavo, geniet veral die sonskyn by hul nuwe tuiste,” sê sy.

“Soos wat dit nou winter word by hul permanente tuiste in die koue Oos-Vrystaat, verwyl die twee tiere tyd saam deur te speel, hul speelveld te ondersoek en die natuur te geniet.”

Messi hou van sy eie geselskap en verkies dit om eerder self rond te dwaal en geleidelik aan sy nuwe omgewing en omstandighede gewoond te raak.

“Die oudste tier, 18-jarige Sandro, het ʼn gesondheidsuitdaging ná hul aankoms by Lionsrock ervaar, maar is goed aan’t herstel en word deur ʼn groep kundiges gemonitor terwyl hy van die beste sorg moontlik geniet.”

Hildegard Pirker, bestuurder van Lionsrock, sê die tiere word gedurig tussen skuilings geroteer totdat ʼn permanente skuiling, wat groot genoeg is om al vier te huisves, gebou word.

“Ons sit takke wat ons van bome afgesny het in die kleiner skuiling om dit ʼn meer natuurlike gevoel te gee. Dit help ook die tiere om gewoond te raak aan die geluide wanneer die wind in die groter skuiling die bome se takke en blare rondwaai,” sê sy.

“Mafalda het met haar aankoms hier van die takke begin kou. Vir diere wat so lank in ʼn klein hok vasgevang was en niks gehad het om te doen nie – geen stimulasie of voorwerpe om mee te speel nie – kan hierdie takke ʼn bron van verryking wees wat help om hul brein besig te hou.”

Hoewel die diereredders nie veel van die vier tiere se gesondheids- en gedragsagtergrond geweet het toe hulle gered is nie, meen Pirker dat hulle onder die omstandighede goed aangepas het.

“Hulle het baie vinnig gevestig geraak en gewoond geraak aan die bewegings van die opsigters. Hulle kan nou baie maklik gevoer word en het geensins te veel probleme ervaar nie,” sê sy.

“Alles het beter verloop as waarvoor ons ooit voor kon hoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antoinette ·

Baie dankie Four Paws. Dit is darem die mooiste diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.