Kyk verby vervaldatum, sê varsproduktebedryf

Varsprodukte (Foto: Scott Warman, Unsplash)

Onkunde onder verbruikers oor hoe vars hul kos regtig is, het verskeie Britse kleinhandelaars aangespoor om die vervaldatum-etikette van vars produkte te verwyder en dit aan die verbruiker oor te laat om self te besluit of daardie produk geskik is om te eet al dan nie. Hierdie omstrede veldtog is deel van die Britte se poging om voedselvermorsing teen 2030 met 50% te verminder.

Hierdie wending was een van die besprekingspunte tydens die Internasionale Varsproduktevereniging (IFPA) se Suider-Afrika-kongres wat vroeër dié maand by Century City in Kaapstad aangebied is. Altesaam 260 belanghebbendes reg oor die varsprodukte-voorsieningsketting het dit bygewoon en het oor drie dae na tien sprekers se uiteenlopende perspektiewe geluister. Die doel was om gedagtes te prikkel met onderwerpe wat konvensionele denke uitgedaag het.

Cathy Burns, uitvoerende hoof van die IFPA, sê die uitdagings wat die varsproduktebedryf in die gesig staar was nog nooit so groot soos nou nie, met verwysing na inflasie, oorlog, klimaatkrisisse, energietekorte en handelsversperrings. “Al hierdie faktore kan meedoënloos wees. Tog, ten spyte hiervan, is die toekoms nog nooit vir ons so opgestel om meer van ʼn impak te maak nie. Ons tyd is nou. Ons is ʼn wonderlike bedryf,” benadruk sy.

“Vars produkte maak sowat 7% van die wêreld se totale uitvoer uit. Ondanks dié klein persentasie is vars produkte ʼn landbouproduk met ʼn hoë waarde. In 2022 het uitvoer sowat 1,3 triljoen Amerikaanse dollar se inkomste wêreldwyd verteenwoordig. Daar word voorspel dat die Suid-Afrikaanse vrugte- en groentemark teen 2028 ʼn saamgestelde jaarlikse groeikoers van 6,9% sal geniet,” sê Burns.

Sy voorspel dat daar in die nabye toekoms dus baie nuutskeppende idees, beleggings en momentum oor volhoubaarheid en tegnologie gesien gaan word.

Voedsel raak weg

Sy het egter die werklikheid van voedselvermorsing in geen onduidelike terme gestel nie.

“Herlewingslandbou is vanjaar as een van die idees wat die wêreld verander gereken, maar voedselvermorsing en -verliese is ʼn deel van die bedryf wat steeds die hoof gebied moet word.

“ʼn Geskatte $600 miljard se kos gaan tydens die oes, of na die tyd verlore. Twee derdes van hierdie kos is steeds eetbaar, maar voldoen nie aan klante se vereistes ten opsigte van grootte, voorkoms, onbenullige verskille of verouderde verpakking nie. Aan die kleinhandelkant word geraam dat die $400 miljard se kos wat elke jaar vermors word, soveel as 7% van kruideniersverkope verteenwoordig.”

Sy sê die rede waarom verbruikers reg oor die wêreld dikwels kos onnodig weggooi, is omdat hulle glo die vervaldatum verwys na die laaste dag waarop hulle die kos kan gebruik, in plaas daarvan om na die varsheid van die produk te ondersoek.

“In Suid-Afrika gaan sowat 10 miljoen ton se voedsel jaarliks tot niet, met vrugte, groente en graan wat 70% daarvan verteenwoordig. Hierdie verliese kom hoofsaaklik vroeg in die voorsieningsketting voor,” sê sy.

 

Cathy Burns, uitvoerende hoof van die Varsproduktevereniging. (Foto: Verskaf)

 

Stof tot nadenke

Burns het dit onomwonde gestel dat die varsproduktebedryf en landbou gereed is om die wêreld te verander. “Soos volhoubaarheid, sien ons dat landboutegnologie steeds bestendige nuutskeppings en beleggings geniet. Verlede jaar alleen het beleggers $51,7 miljard in landbou-voedseltegnologie gepomp, wat ʼn 85%-toename in vergelyking met die vorige jaar is.

“Daarbenewens gaan kunsmatige intelligensie die spel heeltemal verander, wat die reëls van die sakewêreld en kliëntebetrokkenheid sal herskryf. As jy dit nog nie het nie, sal ek jou sterk aanmoedig om meer daaroor te leer.”

Sy voer aan dat baie organisasies steeds sukkel om goeie talent te lok, te ontwikkel en te behou. “Die werklikheid is dat geen mate van meganisasie die behoefte aan ʼn talentvolle menslike arbeidsmag sal vervang nie.”

Sy is egter baie bekommerd oor mense wat nie genoeg en voldoende voedingstowwe inneem nie. “Hoewel die Wêreldgesondheidsorganisasie (WFO) daagliks 400 gram vrugte en groente per persoon aanbeveel, is die werklikheid dat verbruik daagliks op 267 gram staan. Ongesonde kos en ontoereikende diëte is ʼn wêreldwye probleem.

“Drie miljard mense kan nie ʼn gesonde dieet bekostig nie, terwyl ʼn geraamde 11 miljoen sterftes aan dieetverwante risikofaktore toegeskryf kan word.

“Een van die lesse wat ons na drie jaar se Covid-19-inperkings geleer het, is dat verbruikers nie die verband tussen die kos wat hulle eet en hoe hulle voel, mooi verstaan nie, wat tot ernstige gesondheidsprobleme lei. Gelukkig, soos meer verbruikers genees word van hul swak verhouding met kos, word dit duidelik dat die oplossing vir baie van ons nie in die P-H-A-R-M is nie, maar op die F-A-R-M,” sê Burns.

“IFPA is nie betrokke om bloot die spel te verander nie. Ons is hier betrokke om die wêreld te verander – saam met ons lede sal ons,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

Daar hoef nie ‘n vervaldatum op te wees nie, dalk net ‘n verpakkingsdatum. Ek het al baie jeer gesien dat varsprodukte verby die vervaldatum is en heel aanvaarbaar lyk. Dan kry jy weer ander waar die gervaldatum nog ‘n ent vêr is, maar defnitief nie eetbaar is nie

Janine ·

Snaaks genoeg is ons vars produkte papvrot nog voor die vervaldatum…

Bolandse Nooi ·

Veral as jy dit by Food Lover’s Market koop …. en veral as dit Food Lover’s Market Worcester se produkte is!

Janine ·

Niemand se vars produkte hou langer as 2-3 dae nie. Ek weet nie of dit is omdat dit swak gehalte is, of te lank gestoor word voor dit na die winkels toe geneem word nie. Dit kos mens ‘n fortuin, en dan moet jy dit weggooi. Ek piekel nou maar als. Ten minste weet ek dan ek het wat ek nodig het vir die hele maand. :)

Nommer 7 ·

Hier by my presies dieselfde. Ons twee hasies eet glad nie seldery, pietersielie, wortels en kool van FLM nie. Rede is blykbaar dat dit nie higienies hanteer word nie. Dit vrot ook na net 2 dae.

Nico ·

Dit sal so wees, as dit meer bekostigbaar is sal mense dit kan bekostig en sal meer verkoop kan word.

Amelia ·

Van die vars produkte word soms so verpak dat onderste groente vrot is maar steeds moet jy volle prys betaal ander probleem is mense eet nie reg nie want kan dit nie altyd bekostig nie as mens bv na vis se prys kyk dit is net onbekostigbaar

Dries ·

P & P het die regte benadering. Op vervaldatum , en as die prokuk nog vars is, bied hulle dit teen afslagpryse aan.

Papsak ·

As goed se pryse bietjie wil daal sal dit verkoop word voordat dit verval of vrot op die rakke maar ons maak dit duurder dan gooi ons dit liewers weg as om broegtydig dit uit te verkoop

Lillian ·

Ons kry buitendien die swak graad groente en vrugte teen hemel hoë pryse, hoe bepaal jy varsheid van produk dan?

Karoo ·

Kyk…. “Vrot en Vrot” hier op die platteland was nog altyd sleg maar….. die verdomde Loas Shedding versnel net die proses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.