Kyk: ‘Wit Kersfees’ vir Vrystaat

Hael in Petrusburg. (Foto: Anja van der Merwe)

Die sentrale dele van die Vrystaat het toe wel ʼn wit Kersfees gehad, maar in plaas van sneeu het haelkorrels grasperke en sypaadjies laat Saterdagmiddag bedek.

Hael so groot soos ʼn mens se groottoon het teen 17:30 in Petrusburg en ander gebiede buite Bloemfontein neergesak en volgens inwoners het die storm sowat ʼn halfuur lank geduur.

Die Gariepdam in die Vrystaat se walle het intussen oorspoel en die sluise is gistermiddag oopgemaak.

Noordwes het ook swaar reën op Kersdag gekry en die N18 tussen Mahikeng en Setlagole was laat Saterdagaand gesluit weens swaar reën wat die pad oorstroom het. Motoriste is aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.

“Motoriste wat van Mahikeng na Vryburg reis, moet deur Lotlhakane na Bethal ry, regs draai by die R-aansluiting na Gelukspan-hospitaal, regs na Sannieshof en weer regs by die T-aansluiting na Mareetsane,” het die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid laat Saterdagaand in ʼn verklaring gesê.

Hael het in Zeerust ook uitgesak.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdagmiddag ook gewaarsku oor swaar reën en donderstorms in Gauteng, wat laatmiddag en in die aand voorgekom het.

Reën en donderstorms word boonop Sondag vir groot dele van die land voorspel.

“Erge donderstorms word veral vir die sentraal binnelandse dele van die Oos-Kaap verwag. Reën en donderbuie kan tot Maandag verwag word,” het die SAWD Sondag in ʼn twiet gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.