Laaste voorleggings oor partyfinansiering afgehandel

(Argieffoto: ANA)

Die laaste skof van voorleggings aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is vanmiddag in Kaapstad afgehandel met die insette van die Inligtingsreguleerder van Suid-Afrika, die African Independent Congress (AIC) en die Right to Know-veldtog.

Namens die Inligtingsreguleerder het adv. Pansy Tlakula in ʼn sterk en nuttige inset haar kommer uitgespreek dat dit te maklik gaan wees vir skenkers om te vra dat hul identiteit verborge bly. Sy het gevra dat soveel deursigtigheid moontlik nagestreef word.

Tlakula het uitgewys dat die wetgewing nie kan bots met die bepalings van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) nie, en het gevra dat die openbare belang eksplisiet gestel word as rede hoekom die name van skenkers wel beskikbaar gestel moet word, en versoeke om anonimiteit afgewys kan word.

Sy het die OVK ook gemaan dat hulle nie te veel persoonlike inligting van skenkers elektronies moet berg nie omdat dit baie moeilik en duur is om dit teen kuberkrakers te beskerm.

Die AIC, ʼn klein politieke party wat hulle daarvoor beywer dat die dorp Matatiele weer ingelyf moet word by KwaZulu-Natal, het saamgestem met ander politieke partye dat die voorgestelde regulasies die OVK te veel mag gee om skenkings aan partye af te keur.

Right2Know het grootliks gister se voorleggings deur die organisasie My Vote Counts herhaal. Hulle is bekommerd daaroor dat klein politieke partye minder skenkings kry as groot politieke partye omdat dit die speelveld ongelyk maak.

Die groot bedrae geld in die partypolitiek ondergrawe openbare vertroue in die demokrasie, soos met die ál laer stempersentasies in verkiesings gesien kan word. Right2Know het gevra dat die nuwe regulasies so gou moontlik in werking gestel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

So die OVK kan hiet en gebied tydens verkiesings en wie stel die OVKa-ka aan? Die ANC. Maar ons stem in hierdie ondemokratiese land asof dit die wet van die Mede en Perse is. Met ‘n uitkoms naby aan 0 vir die opposisie en gaan vrolik kwaak of bulder in die parlement, slaan vuis en slaap, en die grootbaas sit met langverlof op sy stoep en kyk hoe sy eende tussen die brandslange in die vuil swembad kuier. Trieng-trieng, Mmmm, nee, ek dink jy moet liewer… Oppas vir… ok, ok, baai… Lief jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.