Laaste week vir man in die wynvat

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Facebook)

Dit is vandeesweek reeds twee maande wat Vernon Kruger (52) afgesonder in ’n wynvat in die lug in Dullstroom sit. Namate die tyd aanstap, begin die vooruitsig van ’n warm bad en ’n warm bed al meer aanloklik lyk, bieg hy.

“Dit raak moeiliker hier op die laaste. Dit is maar nou vir deurdruk. Die laaste deel van ’n resies is altyd die moeilikste,” vertel hy Maandag telefonies vanuit die wynvat.

Kruger sal oor presies ’n week sy eie rekord breek.

Maroela Media het vroeër berig Kruger is op 14 November met behulp van ’n helikopter in die wynvat geplaas. Hy beoog om sy eie Guinness-wêreldrekord van 67 dae en 14 minute in ’n wynvat in die lug te verbeter. Hy het dié rekord in 1997 op dieselfde dorp opgestel.

Volgens Kruger het hy oor die feesseisoen veral swaar getrek. Om sake te vererger, het hy verlede week olik gevoel.

“Die feestyd was nie baie lekker nie. Dit was baie stil en ’n vreemde tyd, maar die tyd gaan eintlik vinnig verby soos ʼn mens aangaan met jou roetine.”

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Facebook)

Hy verduidelik dat hy die afgelope paar maande elke oggend vroeg opstaan waarna hy sy beddegoed in ’n mandjie afstuur na onder waar iemand vir hom die mandjie beman. “Dan kom ontbyt op, daarna was ek en dan doen ek oefeninge. As ek weer sien, is dit middagete en so gaan dit aan…”

Hy vertel dat hy in dié stadium nog nie seker is wanneer hy gaan halt roep nadat hy die merk van 67 dae en 14 minute bereik het nie. “Ek gaan dit maar dag vir dag vat. Ek het nou so ver gekom. Ek moet nou maar vasbyt en deurdruk. Die grootste deel is al verby.”

Volgens Kruger beleef hy daagliks byna vier seisoene in een en moet hy gereeld ’n bui reën trotseer.

“Gelukkig het die weerlig my nog nie getref nie. Dít is die grootste ding. Daar was baie erge storms en die weerlig is baie erg. Ek het nog nooit sulke donderstorms ervaar nie. Ten spyte daarvan kan ek nie kla nie.”

Besoek die Facebook-blad Up the pole in Dullstroom om Kruger se doen en late bo in die wynvat te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Strandloper ·

Mmmm dalk moet ons die parlement ook ooreed om so iets aan te pak permanent…imagine…

Heksie ·

Ja, ek verstaan nou nie, dat iemand himself deur soveel drama sal sit net om ‘n rekord te breek nie.
Kry mens geld as jou naam in die Guinness book of world Records geskryf word? Dalk is dit sy beweegrede

Kokketiel ·

Ek haal my hoed af vir die man, hy samel geld in vir die armes in die gemeenskap, sy hart sit op die regte plek, nie almal van ons kan dit sé nie myself ingesluit, baie makliker om af en toe n 2 of 5 rand in iemand se hand te sit en so ons gewetens toe te skroei. Mag die Here jou seën Vernon, ek is te sleg, vat maar altyd die maklike pad.

Mariaan ·

Wel as dit is om die armes te help..welgedaan…andersins…wie het die tyd om so te sit?? En dit nog in weerlig..dis mos moeilikheid soek…onnodig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.