Laer rentekoers ‘goeie nuus’ vir eiendomsmark

(Foto: pixabay)

Die uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, Yael Geffen, het die verlaging van 50 basispunte in die repokoers as “uiters positief” bestempel en sê dit gaan die eiendomsmark, wat reeds in die moeilikheid is, meer woema gee.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag aangekondig dat die koers tot 3,75% per jaar gesny word. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen. Dit beteken dit is goedkoper om skuld aan te gaan.

“Die afsonderingsregulasies wat ons dwing om ons deure toe te hou terwyl ander professionele dienste weer toegelaat word, is irrasioneel en ʼn groot getal eiendomsagentskappe gaan net nie weer herstel nie,” het Geffen gewaarsku.

“Vir diegene wat wél die strenger afsonderingsvlakke oorleef, gaan gretige nuwe markte op hulle wag wanneer hulle heropen.”

Diegene wat vir die eerste keer ʼn eiendom koop, val in dié kategorie. “ʼn Prima uitleenkoers van 7,25% is ongehoord in dié land en finansiële instellings gaan meer kapitaal beskikbaar hê om aan huishoudings en nuwe beleggers te leen,” het sy gesê.

Yeal Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty.

Geffen stem saam dat die monetêre beleidskomitee korrek is as hy sê dat monetêre beleid alleen nie die groeipotensiaal van die ekonomie kan verbeter, of die fiskale risiko’s kan verminder nie.

Sy sê die komitee het dit duidelik gemaak dat daar ʼn inwerkingstelling van versigtige ekonomiese beleid en strukturele hervorming moet wees wat koste in die algemeen verlaag, beleggingsmoontlikhede verhoog en werk skep – en dat dít die regering se plig is.

“As land het ons duidelik ʼn verantwoordelike aanslag nodig om die huidige pandemie te bestuur, maar nie ten koste van die hele ekonomie nie. As die regering nie nou nog ekonomiese deure open nie, soos om handel in die eiendomsmark toe te laat waarvan die waardeketting 6% tot die BBP bydra, gaan daar uiteindelik nie ʼn land oorbly om te red nie.

“Ons mense moet werk, hulle moet hul gesinne van kos voorsien en hulle benodig ʼn dak oor hul koppe. Vir dié dinge om te gebeur, het ons ʼn funksionerende ekonomie nodig en ons bedank die monetêre beleidskomitee dat hy ʼn groot stap gedoen het om dit ʼn werklikheid te maak,” het Geffen gesê.

Joff van Reenen, direkteur van High Street Auctions, sê die rentekoersverlaging gaan help om die ongekende en kommerwekkende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie teen te werk.

Van Reenen sê geskiedkundige lae vlakke soos dié gaan likiditeit verbeter en dat hulle reeds die positiewe uitwerking van die vorige drie rentekoersverlagings die afgelope jaar gesien het.

“Daar is min veilige hawens in sulke onbestendige markte en met geen internasionale reëls vir ʼn situasie soos die een waarin ons ons tans bevind nie, bly eiendom selfs in dié sogenaamde nuwe normaal ʼn aantreklike opsie.”

Joff van Reenen, hoof van High Street Auctions.

Hy sê hulle sien deesdae ʼn skerp styging in belangstelling in nywerheidsruimtes wat vinnig omgeskakel kan word in byvoorbeeld verskaffingsentrums, asook luukse “wegbreekstyl”-eiendomme soos bosveldlodges met alles wat oop- en toemaak.

Die rand het sedert Januarie met 22% teen die Amerikaanse dollar verswak en Van Reenen sê hoewel dit nie goeie nuus vir die plaaslike mark is nie, is daar meer belangstelling as ooit van buitelandse beleggers wat – volgens hulle somme – langtermynbeleggings in Suid-Afrika teen beduidend verlaagde pryse kan maak.

“Ons het die afgelope maand ʼn lodge in die Mabula-reservaat in Limpopo aan ʼn Amerikaanse belegger verkoop sonder dat die belegger eens ʼn voet daar gesit het, maar wat die eiendom aanlyn gevind, ʼn kosteberekening gedoen en besluit het daar hoef nie eens twee keer oor die besluit nagedink te word nie,” het Van Reenen gesê.

Nóg rentekoersverlagings word vir later vanjaar voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bartho ·

Maar die banke se dat hul nie jou verband of motorfinansiering aanpas as jy op ‘fixed’ is nie.
Stem glad nie hiermee saam nie aangesien die verlagings daar is om almal te help!

Wondermaarnet ·

As jy teken vir “fixed” kan jy niks maak nie en al styf of daal rentekoerse, sal jou koers en premie dieselfde bly. Kyk altyd na die fyn skrif as dit kom by rentekoerse.

Tino ·

Was jou keuse om dit vas te maak, jy kon veranderlik gekies het. Jy kla nou dat dit af gaan maar toe dit op gegaan het en jy voordeel getrek het was dit kwaai?

Leeuwyfie ·

Ek kan nie verstaan hoe dit goeie nuus is vir die eiendomsmark nie, aangesien die swaard van onteiening sonder vergoeding nog swaar oor ons hang.

Tino ·

Dis ‘n bemarkings veldtog artikel. Wil sien hoe jan alleman finansiering kry in die huidige toestande waar inkomste veminder het en terugbetalings nie noodwendig gewaarborg kan word nie…

ES ·

Leeuwyfie, tans is dit net van toepassing op geïdentifiseerde plase – jou erfie in die dorp is nog baie veilig.

ES ·

Dit is nou goeie nuus as jy geld het om eiendom te koop. Baie mense het hul werk verloor en gaan dalk hul eiendomme kwyt wees en iemand gaan dit vir spotgoedkoop op veiling kan koop… eintlik baie somber nuus.

andre ·

Al gee hul huise verniet weg in zimbabwe .soek ek nie een…selfde vir Suid Afrika.die kans dat jy sonder werk voorentoe gn sit is baie goed..banke hou natuurlik daarvan..

Adam ·

Enigiemand wat onder die indruk verkeer dat laer rentekoerse die eiemsmark gaan red, sal waarskynlik weer moet dink. Die effek van Covid sal eiendomspryse na benede laat tuimel soos lanklaas gesien is. Dit is slegs die baie duur eiendomme wat waaskynlik teen meer aanvaarbare pryse sal verhandel, maar die middelklas sal baie lank neem om van hierdie ekonomiese “besering” te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.