Landboukomitee versaak boere tydens kragkrisis

Boere het Vrydag in die Noord-Kaap opgeruk. (Foto: VF Plus Siyancuma/Facebook)

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou het nog nie reageer op versoeke van die DA om minister Thoko Didiza en senior bestuur van Eskom te nooi om die komitee in kennis te stel oor hul planne om boere te ondersteun en voedselsekuriteit te verseker tydens beurtkrag nie.

Noko Masipa, die DA se skaduminister oor landbou, sê die komitee het trouens nog glad nie vergader om dié belangrike kwessies te bespreek nie en daar is ook nog nie enige vergadering belê nie.

“Boere word in die gesig gestaar deur ʼn krisis wat ʼn direkte bedreiging inhou vir voedselsekuriteit en landbouvolhoubaarheid in die land. Talle boere in die besproeiingsgordel van die Noord-Kaap en dele van die Wes-Kaap kon weens beurtkrag nie hul plase besproei nie. Kleinboere en kommersiële boere moes kyk hoe hul oeste tot niet gaan weens die uitermatige hitte. Suiwel- en pluimveeplase is baie swaar getref deur die ANC se kragonderbrekings. Al dié uitdagings het gelei tot voedselprysverhogings – wat talle Suid-Afrikaners nie kan bekostig nie.”

Masipa sê ondanks boere se pleidooi aan minister Didiza en Eskom om landbou as ʼn noodsaaklike diens te beskou en gewysigde skedules beurtkrag te verskaf, is daar tot dusver nog geen plan op die tafel om boere en voedselveiligheid te red nie.

“Dit is boonop reeds byna ʼn maand sedert die parlement terug is van die reses, maar die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het nog nie een keer om ʼn tafel gesit om die kragonderbrekings te bespreek wat katastrofiese gevolge inhou vir voedselsekuriteit nie. Daar is geen planne van die departement nie. Die ANC-geleide portefeuljekomitee versaak boere en Suid-Afrikaners in hul oorsigtelike plig.”

Masipa sê werksverliese neem toe in die landboubedryf en tog sluit die komitee nie enige gesprekke in oor Eskom se kragonderbrekings en verwante sake nie.

“Die DA dring daarop aan dat die portefeuljekomitee met minister Didiza en Eskom in gesprek tree oor spesifieke planne vir die landboubedryf. Suid-Afrikaanse boere het antwoorde nodig oor hoe hulle kos moet verskaf aan die land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

My siening ·

Ja wat kan mens doen as jy met breindood ANC probeer onderhandel!

Nico ·

Didiza en die president waar gaan julle kinders kos kry, het julle al daaraan gedink.

Christine ·

Vergeet dit maar, dis deel van die plan om boere van hul plase te kry. Doen self, dis al wat werk.

Willem ·

rHoekom kan boere nie besproei tydens beurtkrag nie? Dit is gemiddeld 6 ure per dag oor n 4 dae tydperk. Dit los 18 ure per dag vir besproeiing. Of het boere n vaste slaaptyd anders as die res van die land wat met beurtkrag moet leef?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.