Landgoed-moorde: Steeds geen verdagtes aangekeer

Janique en Wayne Giles. (Foto: Facebook)

Geen verdagtes is nog aangekeer in verband met die moorde op Wayne (57) en Janique (56) Giles op ʼn spoggerige veiligheidslandgoed naby Elandsfontein in Gauteng nie.

Die egpaar se seun, Brandon, het glo wakker geword van skote wat in die huis op die Fly Inn-landgoed geklap het. Hy het sy pa na bewering op die onderste verdieping van die gesin se huis aangetref. Wayne was reeds dood.

Brandon (28) het daarna ook op sy ma en suster, Rachel, op die boonste verdieping van die huis afgekom. Hy is nie self in die voorval beseer nie.

Janique is in die bors geskiet en het in die huis gesterf. Rachel is met ʼn lugambulans na ʼn hospitaal gehaas nadat sy in die bobeen gewond is.

(Foto: Gau-Med Emergency Services/Facebook)

Volgens die Gau-Med-nooddiens is paramedici Dinsdag kort voor 06:00 na die toneel ontbied. By hul aankoms daar het hulle dadelik ʼn helikopter ontbied én gevra dat bloed na die toneel gebring word vir een van die slagoffers wat reeds heelwat bloed verloor het.

Twee helikopters is eindelik na die toneel gestuur.

Die polisie het vroeër gesê ʼn televisiestel en skootrekenaars word uit die huis vermis.

Woensdag wou brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, nie enige verdere inligting oor enige moontlike vordering met die saak bekend maak nie.

“In hierdie stadium is geen verdagtes nog in hegtenis geneem nie,” het sy gesê.

Dit is nie duidelik presies hoe die aanvaller of aanvallers toegang tot die hoogs beveiligde landgoed gekry het nie.

Op sosiale media was daar reeds talle boodskappe van medelye.

“Rus in vrede Janique en Wayne, my pragtige vriende. Ek kan steeds nie glo julle is weg nie. So ʼn sinlose tragedie. Ek het julle albei so geweldig lief,” het Karen Sutherland Scott op Facebook geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

LIEZL ·

As dit hoogs beveiligde landgoed is, dan behoort die sekuriteitskameras darem lig op die onderwerp te sit? Waar is die wapen? As hulle geskiet is, moet daar mos forensiese toetse gedoen word op die koeëls? So jammer vir geliefdes en vriende wat julle nou moet deurgaan. Hoop die skurk/e word vinnig vasgetrek. Sterkte ook vir Janique, hoop jou herstel is spoedig.

Eddie ·

Janique is ongelukkig dood op die toneel. Die dogter Rachel is nog in die hospitaal.

Nell ·

Ek hoop regtig nie dis ‘n herhaling van die De Zalze-moorde nie.

johanf ·

Was daar nie berig dat de dogter in albei bene geskiet is nie…..
My simpatie met die oorlewendes en familie…. Tragies.

Elmarie ·

Die dogter is in die bene geskiet, sy is dus seker in staat om meer lig te kan werp op wat werklik gebeur het. Ek hoop sy herstel spoedig en volkome

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.