Lang tronkstraf vir juffrou wat ontvoer

Tharina Human en Laetitia Nel in die hof.

Die sogenaamde baasbrein agter die opspraakwekkende ontvoering van ʼn sesjarige meisie sowat ʼn jaar gelede, is Donderdag lang tronkstraf in die Palm Ridge-hooggeregshof aan die Gautengse Oos-Rand opgelê.

Tharina Human (28) is ingevolge ʼn pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat 15 jaar tronkstraf vir ontvoering opgelê waarvan vyf jaar vir ʼn verdere vyf jaar opgeskort is. Op die aanklag van poging tot afpersing het die hof Human vyf jaar tronkstraf opgelê. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien. Human dien gevolglik direkte tronkstraf van 10 jaar uit.

Human se medebeskuldigdes, Laetitia Nel (41), Pieter van Zyl (51) en Bafokeng Molemohi (34) is onderskeidelik agt jaar tronkstraf, 13 jaar tronkstraf en 12 jaar tronkstraf opgelê. Al drie is vyf jaar tronkstraf opgelê vir die poging tot afpersing. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Pieter van Zyl.

Vyf jaar van die drie se vonnisse vir ontvoering is vir vyf jaar opgeskort. Nel sal dus vyf jaar agter tralies deurbring, Van Zyl agt jaar en Molemohi sewe jaar.

Die vier het ter strafversagting onder meer aan die hof gesê hulle het diepe berou oor hul optrede, dat hulle opreg jammer is oor die hartseer wat hulle die jong slagoffertjie en haar uitgebreide familie veroorsaak het. Hulle het aangevoer die kind is binne 24 uur ná die ontvoering fisiek ongedeerd aan haar ouers terugbesorg en dat hulle eindelik geensins by die misdaad gebaat het nie. Hulle het aangevoer hulle het die hof in hul vertroue geneem en die staat die moeite en koste van ʼn uitgerekte verhoor gespaar.

Bafokeng Molemohi.

Die dogtertjie, destyds ses jaar oud, is aanvanklik op 2 September verlede jaar voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy en haar boetie leerders was, by haar ma gegryp. Haar pa is beveel om ʼn losprys van R2 miljoen vir die kind se vrylating te betaal. Sy is sowat 18 uur later ongedeerd gevind.

Human, Nel en Van Zyl is twee dae ná die dramatiese ontvoering in hegtenis geneem en Molemohi sowat drie weke later.

Adv. Salome Scheepers, staatsaanklaer, het aangevoer die kind is gewelddadig by haar ma gegryp en daarna aan haar eie genade in ʼn gevaarlike gebied gelaat voordat weldoeners haar daar gevind het.

Tharina Human en Laetitia Nel in die hof.

Volgens Scheepers is die meisie geweldig getraumatiseer en weier sy onder meer om in haar eie bed te slaap. Die dogtertjie en haar boetie moes weens die trauma van die voorval van skool verander. Die meisie se pa sukkel boonop self om te slaap omdat hy deurentyd voel hy moet wakker bly om sy kinders te beskerm.

Scheepers het voorts aan die hof gesê die kind se pa en sy familie het die ma van betrokkenheid by die ontvoering verdink.

Die dogtertjie se pa se regsverteenwoordiger en jarelange vriend, Ockert Vermaak, het na afloop van die hofverrigtinge ontken dat dit die geval is. Die ma en pa se huwelik het wel sedertdien verbrokkel en die kinders woon in hierdie stadium by hulle pa.

Laetitia Nel.

“Ons is bly dit is verby. Ons as gesin, ek en die kinders, kan nou aanbeweeg en vorentoe beweeg,” het die meisie se pa gesê.

Volgens hom gaan hulle nou verder werk om die dogtertjie te help om die gebeure te verwerk en dit agter haar te sit “sodat dit ʼn gedagte van ʼn paar jaar terug word, nie ʼn ding wat die heeltyd by haar spook nie,” het hy gesê.

Hy het gesê dit is belangrik dat die kind weer ʼn normale lewe kan geniet en nie gedurig met die vrees rondloop dat sy dalk weer gesteel kan word nie. “Ek glo geregtigheid het geskied,” het hy oor die pleitooreenkoms gesê.

Human se pa wou nie kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jeandre ·

Ja nee, Oscar het maar 8 jaar gekry as ek reg is.
Ons regstelsel werk nie.

Baardman ·

En malema (met opset n klein letter) loop nog vry rond en systap die tronk, waar hy hoort

sterk soos n beer ·

ek is tevrede met tharina human se vonnis. eks bly sy is lewenslank uit onderwys geskors.

Jaco ·

Ek is baie bly jy is tevrede. As sy oor 6 jaar uit kom op parool moet sy beslis nie weer ‘n onderwyser raak nie. Dit is ‘n baie goeie straf vir iemand wat kinders ontvoer. Pfft.

Aai ·

As jy nie gelukkig is ,is jy dieselfde mens as hulle wat tronkstraf gekry het.Dink aan die hel wat die ouers en oupa deur gegaan get voor jy thumbs down kies.

Cherokee ·

Ek kry nie plek in my om so selfvoldaan soos die res daaroor te klink nie. Hulle het ‘n dom ding gedoen wat hulle lewenslank gaan berou, maar dit kan nie vergelyk word, nie eens in dieselfde asem genoem word, met die werklik bose dinge wat in Suid Afrika gebeur.

Piet ·

Ek is geneig om met jou saam te stem hier. Vonnis lyk bietjie straf vir my en dit nogals volgens ‘n pleitooreenkoms. Kon maar net sowel met die saak volhard het, dalk het sy dan nog met ‘n ligter vonnis weggekom.

Debbie ·

Cherokee, ek hoor wat jy se. Maar sy was in ‘n posisie van vertroue. Sy was ‘n onderwyser. En ouers vertrou haar met hulle kinders. Sy het daardie vertroue misbruik. Wat as weldoeners nie die kind gekry het nie? Wat as iemand anders haar gekry en vermoor en/of verkrag het. Hier gebeur baie bose dinge in ons land. Maar wat die onderwyser gedoen het was verkeerd. En sy word gestraf daarvoor. Ek dink dit is reg. Ek stem saam baie bose dinge gebeur in ons land. En swaarder strawwe moet opgele word. My simpatie le by die ouers van die ontvoerde kind. Die onderwyser kan na haar vonnis met ‘n nuwe lewe begin.

Vicky ·

Natuurlik moet hulle gestraf word,maar dis bietjie dik vir ñ daalder as jy in ag neem hoeveel verkragters,moordenaars en vele meer ernstiger misdadigers met ligter vonnisse wegstap. Maar ja…een dom besluit kan die res van jou èn jou geliefdes se lewens beinvloed.
Hopelik kan almal nou aanbeweeg en vrede maak met die hof se besluit. Hulle is gestraf.

Debbie ·

Ek hoor wat jy se. Maar dink bietjie waardeur die ouers en die kind moes gaan. Ek dink daardie angs moes verskriklik gewees het. Ek dink dit is ‘n regverdige vonnis. Hopelik skrik die vonnis voornemende ontvoerders af. Maar ek stem saam dat ons vonisse in die algemeen te lig is. Moordernaars en verkragters moet TEN MINSTE 25 jaar gevangenisstraf uitdien voordat hulle aansoek kan doen om parool. Veral moorde wat opsetlik gepleeg is. En mense wat kinders verkrag dink ek moet nooit vrygelaat word nie.

Die Goodwoodianer ·

Vir ontvoering, verkragting en moord (nie uit selfverdediging) moet ñ minimum van die doodstraf opgelê word. Geen genade.

Realis Thailand ·

Die vrou sal nie langer as 6 jaar sit nie.Sy behoort die volle tien jaar te sit.Jy weet hoe die mense werk , More is sy wedergebore in die gevangenis en dit net tot sy uit is.Gedra haar goed en help almal
Hulle het geweet wat hulle doen en dit was beplan hoewel dom

madels ·

Dis goed dat hulle tronkstraf moet uitdien. Al is hulle jammer, as hulle te lig hiervan afkom sal die kanse groot wees dat hulle weet so sinnelose daad sal beplan..

Boksombende ·

10 jaar vir ontvoering in hierdie geval. 18 jaar vir DRIE plaasmoorde in ‘n ander (informasie gekry van ‘n vorige maroelamedia artikel af). Ek sou se 10 jaar vir ontvoering, en ‘n lewensvonnis per plaasmoord.

Ons moet ophou om ons hoop op hulle te sit. Ons regters is nie regverdig nie.

Elsje ·

Hoekom het die pa en sy familie die ma verdink, en hoekom sal die kinders nou by die pa bly? Iets klink hier glad nie lekker nie……………….

Ferryman ·

Tharina Human het ‘n wyse besluit geneem deur haar pleit en die gesin verdere trauma gespaar. Ongelukkig is die skade reeds gedoen en het ‘n huwelik daardeur skade gely.

Jaco ·

Geagte lesers, julle is onder ‘n verkeerde indruk. 10,8,7,5 jaar is die vonnis. Gevangenis in Suid Afrika kom na 2/3 van hulle vonnis uitgedien is in aanmerking vir parool. Dit maak die strawwe as volg: 6,5,5 en 3.5 jaar. Dit is ‘n abolute grap. Die volgende misdade is gepleeg : Sameswering tot ‘n misdaad, Afpersing, Ontvoering asook Aanranding van ‘n minderjarige.

Sê julle vir my, sou julle tevrede gewees het met strawwe van 6,5,5, en 3.5 jaar na al daai aan jou familie gedoen is? Jou kind sal nooit weer dieselfde wees nie, Jou familie sal altyd voel asof iemand hulle wil leed aandoen.

SA, jou straf vir misdadigers is te lig!!!

Anoniem ·

Me Human en al die andfer skuldiges……………………….ek is baie jammer vir julle vir die tronkstraf wat julle gekry het maar julle het daarna gesoek. Ek wil net graag van al die skuldiges weet………………..Is julle bly vir dit wat julle aan die kind en haar ouers en familie gedoen het????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.