Leerder sterf op pad skool toe

Die ongelukstoneel op die R599. (Foto: Twitter)

’n Leerder aan Protea Glen Secondary in Soweto is Maandag dood nadat ’n voertuig waarin sy en verskeie ander leerders op pad skool toe was op die R599 omgeslaan het.

Die bestuurder van ’n Toyota Condor het 14 leerders van drie onderskeie skole vervoer toe hy beheer oor die voertuig verloor het.

Die Gautengse departement van onderwys sê die bestuurder van die Toyota Condor het beheer oor die voertuig verloor nadat die bestuurder van die motor voor hom oënskynlik wou draai, maar toe daarteen besluit en reguit aangery het.

Dit het daartoe gelei dat die Toyota Condor omgeslaan het.

Die ongeluk het die lewe van ’n gr. 11-leerder aan Protea Glen geëis. Dertien ander leerders is tydens die voorval beseer, van wie drie kritiek.

Die leerders is almal vanoggend na hospitale vervoer vir mediese behandeling.

Die departement het ná die ongeluk beraders na die toneel ontbied waar hulle die afgestorwe leerder se naasbestaandes bygestaan het. Die span is van daar af na die onderskeie skole om die leerders se maats by te staan.

“Ons is onthuts deur die nuus van ’n tragiese voorval wat die lewe van een van ons leerders geëis het,” sê Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die leerder se familie. Ons wens ook die leerders wat tydens die ongeluk beseer is, ’n spoedige herstel toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christine ·

Ai, dis so tragies dat leerders van vervoer moet gebruik maak wat nie vertrou kan word nie. Bestuurders wat jaag, of net nie van die vermoë beskik nie, en seker ook nie die nodige lisensie het om mense te mag vervoer nie.

Eiervrug ·

Klink nie reg nie. Groter kans vir ‘n ongeluk omdat die ou voor jou skielik besluit om te draai, nie skielik besluit om eerder reguit aan te ry nie. Seker maar weer gery asof die duiwel hom jaag…

Marcello ·

Stem saam, want jy is veronderstel om ‘n voertuig lengte vanaf die motor voor jou te volg.

Francois ·

Kla die bestuurder aan vir moord. Hoe kan jy 14 leerders in n Condor vervoer. Hy kon eerder 2 maal ry

SwartBees ·

My vraag is hoe is dit moontlik dat n padwaardige voertuig wat bestuur word deur n persoon met n geldige lisensie en die pad reëls volg, net so om slaan?

Een (of alles) wat hier bo genoem word is nie in plek nie.

Gawie ·

14 leerders in die Condor, maar die Condor is ontwerp om slegs 8 mense te vervoer . . . . . .
Die bestuurder moet van moord aangekla word.

christo ·

Dis ‘n algemene tendens van township leerders wat deur hierdie voertuie wat nie geregistreer is as openbare vervoer nie. Oorlading is aan die orde van die dag. Die meeste voertuie is onpadwaardig en die bestuurders het duisende Rande se boetes of betaal omkoopgeld aan die verkeersbeamptes. Skoolhoofde is ook skuldig omdat hulle bewus is van onveilige vervoer, maar rapporteer dit nie aan die ouers nie. Die ouers is salig onbewus van die situasie. Verder ontvang die skool ” donasies” van die taxibestuurders. SA is seersekerlik die korrupsie land in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.