Leerders nié aan voedselvergiftiging dood

Argieffoto

Die departement van gesondheid in Mpumalanga het Maandag gesê hy kon geen teken van voedselvergiftiging vind in kos wat getoets is ná die dood van twee leerders verlede maand nie.

Die leerders van die Nelson Ngubeni Primary School in Emalahleni (Witbank) is op 31 Julie dood. Tien ander is in ʼn hospitaal opgeneem nadat hulle kos by die skool geëet en later simptome soos braking en maagkrampe ontwikkel het.

Daar is aanvanklik vermoed dat die leerders voedselvergiftiging opgedoen het deur die kos wat by die skool voorgesit word. Die voedingsprogram by die skool is ná die voorval opgeskort, hangende die ondersoek na die leerders se dood.

Die LUR vir onderwys in die provinsie, Bonakele Majuba, het Maandag gesê geen mikro-organismes is in die getoetste kos gevind wat moontlik die vergifting kon veroorsaak nie.

Monsters van die siek leerders is verlede maand geneem en betrokkenes is uitgevra oor waar leerders lekkernye by die skool koop. Monsters van lekkernye, soos springmielies, is geneem vir toetse en ʼn ondersoek na snoepies in die omgewing is steeds onderweg.

Majuba het intussen toestemming gegee dat die voedingsprogram by die skool weer hervat kan word.

Hoewel die kos veilig verklaar is, het die ondersoekspan wel aanbeveel dat higiëne in die kombuis, asook die opleiding van kokke en die vervanging van kombuistoerusting, prioriteit moet geniet.

Die skool word ook gemaan om op die uitkyk te wees vir enige soortgelyke simptome en dit dan dringend by ’n plaaslike kliniek of dokter aan te meld.

“Die departement sal voortgaan om die skool by te staan en maatskaplike en sielkundige ondersteuning aan leerders en onderwysers te bied. Die departement gee ook opdrag dat die skoolbeheerliggaam ’n dringende vergadering met ouers moet belê om hulle oor hierdie uitslag in te lig,” het Majuba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsie ·

Please find out WHAT has caused it… There is no closure until it’s revealed. Please investigate further. Thanks

BMW ·

Dit is weer n toe smeerdery!!!! Twee dood en tien op geneem in hospitaal??????

Verregaande ·

Higiëne – van die kokke, en die kombuis is verdag en ou toerusting moet vervang word. Die kos daarenteen is veilig. En alles gaan voort soos voorheen terwyl twee kinders dood is? Die kombuis moet toegemaak word. Geen voedingsprogram is beter as kinders wat sterf van ‘n ‘onbekende’ oorsaak.

Janine ·

Dis baie maklik om te sê daar was niks fout met die kos, ek ruik ‘n rot hier. Hoe is 2 kinders dood en 10 in hospitaal as die kos dan niks makeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.