Leeu ontsnap tydens beurtkrag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Chris Rhoads/Unsplash)

ʼn Leeuwyfie het Vrydag in die vroeë oggendure uit haar skuiling by ʼn wildreservaat naby Ventersburg in die Vrystaat ontsnap.

Die leeu se ontsnapping is glo deur beurtkrag moontlik gemaak.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Vrydag om 04:00 in kennis gestel dat ʼn leeu uit haar skuiling ontsnap het.

“Die leeuwyfie het glo in die nag, tydens beurtkrag, daarin geslaag om uit die omheinde reservaat te ontsnap,” sê hy.

Suid-Afrikaners gaan die afgelope paar weke gebuk onder beurtkrag, met fase 6 wat net onlangs opgehef is. Die voortslepende beurtkrag het nietemin daartoe gelei dat sommige huishoudings vir sowat vier uur op ʼn slag sonder krag sit.

ʼn Grootskaalse soektog is dadelik na die leeu begin, maar teen laat Vrydagaand was daar nog geen teken van die dier nie.

Polisiestasies in die omgewing het gehelp met die soektog en ʼn private lugvleuel sal ook Saterdag ontplooi word om deel te neem aan die soektog.

“Hoewel die leeu net een jaar oud is, moet inwoners in en om Ventersburg, Virginia en die omliggende gebiede op hul hoede wees,” maan Thankeng.

“Inwoners word ook gewaarsku om nie self die leeu te probeer vang nie, maar eerder die naaste polisiestasie oor die dier se ligging in kennis te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

Haha -op n ligter noot… dis net in SA waar jy leeus in die strate sien loop. Nee wag ernstig nou – hoop hulle kry gou-gou die kietie-kat en vat haar huis toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.