‘Legendariese dokter’ van Gauteng sterf

Dr. Allan Soundy het hom daarvoor beywer om gehalte gesondheidsdiens aan lae-inkomstehuishoudings te verskaf (Foto: Facebook)

Dr. Allan Soundy, ’n bekende dokter wat in die Ga-Rankuwa-nedersetting digby Pretoria gepraktiseer het, is verlede Woensdag aan Covid-19 oorlede. Hy was jare lank verbonde aan die National HealthCare-groep en sy kollegas beskryf hom as “’n legendariese dokter”.

Dit is nie seker wanneer hy met Covid-19 gediagnoseer is nie.

Soundy het in 1985 sy doktersgraad aan die Mediese Universiteit van Suider-Afrika (Medunsa) verwerf. Hy het jare later by die National HealthCare-groep, ʼn organisasie wat hulle beywer vir die lewer van gehalte mediese sorg aan lae-inkomstehuishoudings, betrokke geraak.

Dr. Peter Makhambeni, hoofklinikus van die National HealthCare-groep, sê sy en Soundy se paaie het die heel eerste keer gekruis toe Soundy as ’n tweedejaar‑ mediese student by die Kampusgesondheidsdiens by Medunsa gekonsulteer het.

“Min het ek toe geweet dat ons paaie in die komende jare nog vele kere sou kruis,” sê Makhambeni.

Nadat hy sy mediese studies voltooi het, het Soundy by Makhambeni se praktyk in Ga-Rankuwa oorgeneem.

Makhambeni beskryf Soundy as ’n hardwerkende dokter wat baie omgegee het vir sy pasiënte.

“Hy was ’n old school-dokter wat dinge op die tradisionele wyse gedoen het.”

Dr. Reinder Nauta, uitvoerende voorsitter van National HealthCare, sê Soundy se kollegas het hom baie gerespekteer as ’n dokter.

“Hy sal onthou word vir sy warmte en humor, sowel as vir sy toewyding aan die gesondheid en welstand van sy pasiënte,” sê Nauta.

“Sy nalatenskap van gesondheid en die versorging van pasiënte sal voortleef in die duisende pasiënte wat hy gedurende sy loopbaan behandel het. Ons sal voortgaan om dieselfde hoë standaarde in gehalte primêregesondheidsorgdienste te handhaaf as wat hy voorgestel het.”

Volgens Patrick Lubbe, uitvoerende hoof van die National HealthCare-groep, was Soundy uiters professioneel en het hy sy lewe daaraan gewy om mense van die gemeenskap te dien.

“Hy het uitstekende vaardighede en kliniese kennis gehad,” sê Lubbe.

Makhambeni beskryf Soundy as ’n vrolike mens wat geliefd was onder almal.

“’n Mens kon sy lag van ver af hoor. Hy was die perfekte heer, hoflik en liefdevol. Allan was baie gesondheidsbewus. Hy het gereeld geoefen en aan baie wedrenne en pretwandelings deelgeneem. Hy was baie fiks,” vertel Makhambeni.

Soundy is Sondag ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petrus ·

Rus in vrede dokter, u gaan n groot leemte laat. Mag daar meer soos u wees.

KhoiKhoi ·

Rus in vrede.
Ongelukkig ken hierdie demoniese siekte nie ras, geloof, status of aansien nie.
My vrou en ek is van die gelukkiges – ons sterk aan by die huis
My hart gaan uit vir die brawae gesondheidspersoneel.
Mense wat net dokters wou word vir geld of status sal nou besef dat dit ‘n roeping met wesenlike gevare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.