Lewende hawe- veilings opgeskort ná bek-en-klouseer

(Argieffoto)

Die departement van landbou, bosbou en visserye het tot verdere kennisgewing ʼn tydelike verbod op veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas nadat bek-en-klouseer wéér in dié provinsies uitgebreek het.

Die minister van landbou, Thoko Didiza, sal die besluit later in die Staatskoerant afgekondig, het Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder, gesê.

Bek-en-klouseer het vroeër vandeesmaand op ʼn plaas in die Molemole-distrik uitgebreek. Die plaas is geleë in ʼn voormalige bek-en-klouseervrye sone en is onder kwarantyn geplaas.

Alle produksiefasiliteite, voerkrale en slagpale in die Molemole-distrik en omliggende gebiede word gemonitor.

Die streek is digby die Vhembe-gebied waar bek-en-klouseer in Januarie vanjaar uitgebreek het. Daar kon dus vinnig op die uitbreking gereageer word. Alle vorige beheermaatreëls vir die provinsie bly ook steeds van krag, het Ngcobo gesê.

“ʼn Hele aantal ooreenkomste is met vennote bereik om handel in veilige kommoditeite ná die Januarie-uitbreking voort te sit, en die departement het vir die versekering gevra dat dié ooreenkomste gehandhaaf sal word.”

Die organisasie TLU SA het sy skok ná die opskorting van veilings uitgespreek.

(Argieffoto)

“Dit is ʼn groot slag vir die vee- en wildboere in die land, wat reeds deur knellende droogte op hulle knieë gedwing word,” het Henk van de Graaf, streekvoorsitter van TLU SA Noord, gesê.

“Die verkoop van kuddes was die enigste oorblywende oplossing vir boere wat nie meer voer vir hulle diere het nie en nou word hierdie uitweg ook weggeruk.”

Die organisasie sê hy besef daar moet ernstig opgetree word om die hoogs aansteeklike siekte te voorkom, maar glo nie dat die opskort van veilings die probleem gaan oplos nie. Hy sê die regering moet eerder verseker dat die maatreëls wat oorspronklik ingestel is om bek-en-klouseer te verhoed, streng nagevolg en in werking gestel word.

“Die verbod op veilings hou ook baie ernstige gevolge vir die verbruiker in, veral oor die feestyd wat om die draai lê,” het Van de Graaf gesê.

“Verbruikers moet hulle daarop voorberei dat die prys van vleis en vleisprodukte drasties gaan verhoog. Vleis gaan ook baie skaars word.”

TLU SA sê hy gaan ʼn databasis van kopers en verkopers van vleis saamstel wat boere die geleentheid sal gee om steeds bek-en-klouseervrye vleis te verkoop. TLU SA ondersoek ook die moontlikheid om ʼn direkte verhandelingsplatform van skoon en veilige vleis in te span om boere te help.

Die departement het boere landwyd gevra om streng bio-veiligheidsmaatreëls toe te pas. Die verskuiwing van alle diere moet onder die toesig van ʼn veearts gedoen word en beweging moet so ver moontlik beperk word.

Ngcobo het gesê die departement raai boere aan om die gesondheidstatus van enige diere wat hulle na plase wil skuif, na te gaan voordat dit gedoen word. “Hulle word voorts aangeraai om ʼn gesondheidsertifikaat vir die kudde van oorsprong te verkry, wat bevestig dat die kudde geïnspekteer is en dat die diere uit ʼn gebied kom wat nie [deur bek-en-klouseer] geraak word nie.”

Suid-Afrika was ná die uitbreking van die siekte in Februarie sy bek-en-klouseervrye status kwyt – met verreikende gevolge. Talle boere in die bedryf probeer steeds ná daardie terugslag herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

Die regering wil he dat boere moet ondergaan. Maak dit makliker om die grond te kry.

Ig ·

Waarvan praat jy ? My hele beestrop kan uitgewis word as daar nie maatreëls is om die uitbraak te beperk nie.

Outoppie ·

Stop hierdie mense wat se vee net wei waar hul wil. Daai diere word nie ingeent nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.