Lewenslange vonnis ná ‘duiwel hom aansê’ om eenjarige te moor

(Argieffoto: X)

ʼn 37-jarige man is Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy eenjarige nefie.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Sipho Vincent Maseko het skuldig gepleit op aanklag van moord met voorbedagte rade.

Maseko het in September 2020 by sy ouerhuis aangedoen, ʼn dag voor sy susterskind, Nkazimulo Theodore Penga, een jaar oud sou word. Die seuntjie was tuis saam met die huiswerker wat na hom omgesien het terwyl sy ma by die werk was. Maseko het die huiswerker na ʼn winkel gestuur om lugtyd te koop en het die seuntjie in hierdie tyd met ʼn tou versmoor, op sy bors gespring en hom met kookwater in sy gesig gegooi het.

Die huiswerker het die seuntjie leweloos in ʼn bed aangetref waar hy toegemaak is.

Maseko het na die moord gevlug en in nabygeleë bosse gaan skuil. Ná ʼn paar uur het Maseko self sy familie gebel en hom toe aan die polisie gaan oorgee.

In sy bekentenis het hy aangevoer hy het die kind vermoor as ʼn vorm van sataniese offer om geld in die hande te kry, het Mahanjana gesê. Hy het voorts getuig dat hy nie homself was toe hy die kind vermoor het nie. Volgens hom was hy van die duiwel besete.

Hy het aan die hof gesê hy dat hy twee weke voor die moord ook probeer het om sy nefie te vermoor deur hom met sy hand te versmoor. Die seuntjie het begin huil en het dit oorleef. Die poging het egter blywende skade aangerig en klein Nkazimulo gestremd gelaat.

In haar slagofferimpakverklaring het die seuntjie se ma haar broer as ʼn monster en die duiwel self beskryf. Adv. André Wilsenach, staatsaanklaer, het aan die hof gesê Maseko het geen werklike berou getoon nie en die familie ook nooit om verskoning gevra nie. Hy het die kind weens gierigheid geoffer en Wilsenach het die hof gevra om Maseko ʼn lewenslange vonnis op te lê.

Regter Mashudu Munzhelele het met die staat saamgestem dat Maseko deur gierigheid gedryf is en pleks daarvan om verantwoordelik vir sy optrede te aanvaar die skuld op die duiwel gepak het.

Die regter het dus geen wesenlike of dwingende omstandighede gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Sy het in haar uitspraak gesê sy hoop die vonnis sal die publiek opvoed oor die belangrikheid van die beskerming van die kwesbare mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Hy was nie van die duiwel besete nie,hy is self die duiwel.Mag hy nooit weer die son van buite sien skyn nie.Rus sag seuntjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.