Lewenslank vir vrou wat ouma met kaal hande verwurg

(Argieffoto: Kent Williamson)

Nomaswazi Rachel Tshabalala (31) is lewenslange tronkstraf in die Johannesburgse hooggeregshof opgelê ná sy haar ouma vermoor het. Sy is ʼn bykomende 25 jaar opgelê vir 24 aanklagte van bedrog, diefstal van die oorledene se bank- en Sassa-kaarte, dwarsboming van die gereg en meineed. Tshabalala het skuld beken.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Tshabalala het saam met haar ouma, Nomsa Hilda Tshabalala in Mndeni (Soweto) gewoon en erken sy was onder die invloed van dwelmmiddels toe sy die bejaarde vrou tydens ʼn bakleiery op 14 Desember 2019 doodgemaak het.

In haar pleitverduideliking het Tshabalala gesê sy het Nomsa op 19 Desember 2019 by die Naledi-polisiestasie as vermis aangemeld. Sy het van 17 Desember 2019 tot 3 September 2020 geld uit haar ouma se Nedbank- en Sassa-kaarte onttrek.

“Sy is op 3 September 2020 in hegtenis geneem omdat sy die vrou se kaart gebruik het, alhoewel sy haar as vermis aangemeld het. Sy het in aanhouding gebly op aanklag van bedrog en diefstal totdat ʼn huurder in Junie 2021 op die oorskot van die vrou afgekom het.”

Nomsa se familielede het besluit om die huis uit te huur ná Tshabalala in hegtenis geneem is.

“Die nuwe huurder was besig om die erf skoon te maak toe hy op Nomsa se oorskot onder ʼn staalkabinet afgekom het. DNS-toetse is gedoen en die identiteit is bevestig.”

Verdere ondersoek het die ondersoekbeampte, sers. Quma, na Johannesburg-gevangenis gelei waar Tshabalala verhoorafwagtend was.

Senior staatsaanklaer adv. Tshimangadzo Xakaza het ter verswaring van vonnisoplegging aangevoer die moord was vooraf beplan en kragtens die Wet op Bejaarde Persone moet die hof dit as verswarende omstandighede beskou. Sy het bygevoeg Tshabalala het petrol oor haar ouma uitgegooi om die misdaad weg te steek. “Die beskuldigde het die geleentheid gehad om haar besluit te heroorweeg ná sy haar met ʼn kalbas oor die kop geslaan het. Haar ouma was bewusteloos, maar het steeds geleef. Tog het sy voortgegaan en haar met haar kaal hande verwurg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.