Lichtenburg (weer) weke kragloos

Skermgreep uit video

Sedert die begin van Lichtenburg se kragkrisis in Julie vanjaar het inwoners skaars blaaskans gehad voor die jongste langdurige elektrisiteitsonderbreking hulle weer getref het.

Maroela Media het vroeër berig menige gefrustreerde inwoner van Lichtenburg wou in Augustus vanjaar by die munisipaliteit bymekaarkom en na Eskom opruk nadat hulle  ʼn maand met uiters beperkte elektrisiteit moes klaarkom.

Volgens Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes, het die moedeloosheid in die dorp nou ʼn nuwe vlak bereik.

“Lichtenburg se jongste kragkrisis het reeds op 15 Oktober begin toe weerlig een van die substasies uitgeslaan het. Die dorp sit nou (weer) reeds drie weke sonder elektrisiteit.”

Hy meen swak onderhoud en swak vakmanskap het veroorsaak dat van die ander substasies toe ook weens die skade van die weerligstraal beskadig is.

Talle inwoners het Dinsdag in die strate van die dorp opgeruk en glo bande aan die brand gesteek (Foto: Verskaf)

“Dit het werkers twee weke gevat om die lyne weer te las en om die kabels te vervang, maar toe hulle die lyne weer op 29 Oktober probeer aanskakel, het dit net verdere ontploffings en kortsluitings veroorsaak,” sê hy.

Dit het die situasie volgens Pienaar net vererger.

“Van die lyne is sedertdien herstel, maar dit klink of werkers vir verdere kabels, laste en panele wag. Hulle vermoed dat die krag in Lichtenburg eers teen Woensdag herstel sal wees.

“Ons het ook ʼn vergadering met die huidige munisipale bestuurder gehad en hy het bevestig dat daar nie fondse beskikbaar is om herstelwerk te doen nie en dat hulle probeer om uit enige moontlik bron geld daarvoor beskikbaar te stel.”

Pienaar sê baie van die sakeondernemings word swaar deur die kragonderbrekings geraak.

“Sakeondernemings in die omgewing ly geweldige verliese en inwoners is al raadop oor die gesukkel. Hulle het al net so baie verliese gely as gevolg van die feit dat hulle al vir langer as drie weke sonder yskaste en vriesgeriewe moet klaarkom en in totale ongemak moet lewe.”

Talle inwoners het Dinsdag in die strate van die dorp opgeruk en glo bande aan die brand gesteek. Die DA van die Ditsobotla-munisipaliteit het die protesaksie rakende die elektrisiteitsituasie wat Burgersdorp, Blydeville, Retiefpark en die sakedistrik raak, bevestig. Die polisie was by die protesaksie teenwoordig en het die situasie gemonitor.

Die munisipaliteit sê egter in ʼn verklaring dat hulle van middel Oktober af onverpoosd besig is met herstelwerk.

“Die munisipaliteit het reeds ’n kontrakteur aangestel om met die vervanging van die panele in die hoofstasie te begin om die herstel van elektrisiteit in die geraakte gebiede van Lichtenburg te bespoedig.

“Die kontrakteur het die munisipaliteit daarop gewys dat die panele Woensdag 1 November afgelewer sou word, en onmiddellik geïnstalleer sou word sodra dit in Lichtenburg is.”

Woensdag het egter gekom en gegaan en groot dele van Lichtenburg sit steeds sonder elektrisiteit.

“Neem asseblief kennis dat die munisipaliteit die kragtoevoer sal herstel sodra die werk ter plaatse volledig voltooi is.

“Die munisipaliteit vra opreg om verskoning vir al die ongerief wat die kragonderbreking veroorsaak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Die dorp kan seker nou al sonder krag funksioneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.