Life Esidimeni: NRO’s moet opdok, sê SOE

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Vrydag aangekondig dat hy stappe sal doen om ʼn hooggeregshofbevel uit te voer teen ʼn ongelisensieerde NRO wat meer as R660 000 ontvang het toe psigiatriese pasiënte van die Life Esidimeni-sentrum na NRO’s oorgeplaas is. Minstens 144 pasiënte is gevolglik dood.

Die SOE het gesê ʼn hooggeregshof het verlede maand in sy guns beslis ná siviele stappe teen een van die NRO’s van stapel gestuur is.

“Die verweerder (die Anchor Center for the Intellectually Disabled and Dorothy Evangeline Franks) het vertragingstaktiek toegepas, en die saak is uiteindelik op 17 Julie 2019 aangehoor vir die betaling van R663 275.03 plus koste,” lui ʼn verklaring van die SOE.

“Uitspraak is toegestaan vir die verweerder om R663 275.03 te betaal. Die SOE sal opvolg en seker maak dat die geld aan die departement terugbetaal word.”

Die regeringsagentskap wat ernstige wanpraktyke en wanadministrasie by staatsinstansies, staatsbates en staatsgeld, ondersoek, is ook besig met ʼn proses om siviele stappe te doen teen die eienaars van nege ander NRO’s. Die SOE is van voornemens om ʼn verdere R5 miljoen te herwin.

“Die waarde van die hangende hofsake is R5 006 628.49. Die SOE sal opvolg om seker te maak dat stappe gedoen word teen die NRO’s en dat stappe gedoen word teen die betrokke beamptes.”

Die SOE het gesê hy sal teen November vanjaar sy ondersoek afhandel oor die afsterwe van die psigiatriese pasiënte en ʼn finale verslag by pres. Cyril Ramaphosa indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carl ·

Waarom was die betrokke verantwoordelike Minister nooit aangekla van Strafbare Manslag nie?

Pieter ·

Dit gaan lekker in hulle land met ons belasting geld wanneer gaan ons wakker skrik seker nooit

lewies ·

Ons gaan probeer om ‘n regeringsagentskap te vertrou met hierdie ondersoek? Wie het hulle aangestel? Wie betaal hierdie agentskap? of werk hulle vir ‘n agente komissie? Die regering is betrokke wees dus gewaarsku. Daar sal ook iemand aangestel moet word om die integriteit van die huidige proses te monitor, Sterkte met die ondersoekproses. Hoop dit word opgelos sonder enige “hickup” Belastingbetaler.

Petrus ·

Ek gaan dalk ook eendag in so ‘n tipe instansie oud word. Die NGV sal my nie help nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Al die “ongeregistreerde” NRO’s se direkteure is skielik insolvent….en offer 10c uit die Rand….Terwyl die SOE’s dink hulle gaan R5 miljoen terug kry, gaan hulle in werklikheid omtrent R500 000,00 terugkry…….en nadat almal wat gehelp het en ge-kommissie het hulle deeltjie gegryp het, gaan die belastingbetaler nog ‘n keer moet inbetaal…..soos altyd. Welkom in Afrika!!

Peet ·

Snaaks, hulle het geen probleem om klein vissies in die hof te kry. Daarinteen die groot visse swem nog met hulle miljoene en Louis Vuiton handsakke vry rond.

JohanR ·

En nog nie een het die binne van ‘n tronk gesien nie! Seker maar net weer herontplooi om ander plek molles te maak? In Engels is die gesegte “that’s the way the ANC caders roll!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.