Life Esidimeni-tragedie: ‘Departement is gewaarsku’

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Deur Marecia Damons, GroundUp

Die voormalige besturende direkteur van Life Esidimeni het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof gesê dat hy die departement van gesondheid gewaarsku het dat die oorhaastige proses om pasiënte uit hul sorg te verplaas, rampspoedig sou wees.

Die formele geregtelike ondersoek wat Maandag begin het, moet bepaal of die gesondheidsdepartement strafregtelik aanspreeklik is vir die dood van 144 pasiënte wat in 2016 van Life Esidimeni na kleiner nie-regeringsorganisasies (NRO’s) oorgeplaas is.

Maroela Media het berig altesaam 1 700 mense is destyds van Life Esidimeni se fasiliteite na NRO’s sonder lisensies en die nodige geriewe oorgeplaas. Agt pasiënte word steeds vermis.

Dr. Morgan Mkhatshwa het die hof meegedeel dat hy in 2015 in kennis gestel is dat die kontrak tussen Life Esidimeni en die departement beëindig sou word. Hy het ʼn vergadering met dr. Makgapo Manamela, voormalige direkteur van geestesgesondheid vir die Gautengse departement van gesondheid, versoek om die pad vorentoe te bespreek, maar die departement kon glo nie ʼn duidelike plan aan hom voorlê nie.

“Life Esidimeni het sy kommer uitgespreek oor die ondeurdagte manier waarop die proses hanteer is en gewaarsku dat dit moontlik rampspoedige gevolge kan hê. Ons het toe voorgestel dat die oorplasingsproses tot 30 September 2016 uitgestel word om ʼn gladde oorgang te verseker, maar dit is van die hand gewys.”

Volgens Mkhatshwa het Life Esidimeni onmiddellik die families van die pasiënte in kennis gestel  dat hul kontrak met die departement beëindig sou word.

“Die staatsamptenare het ons verseker dat die psigiatriese pasiënte in fasiliteite oorgeplaas sal word wat dieselfde, of beter, standaarde van sorg sal bied as wat Life Esidimeni handhaaf,” het Mkhatshwa gesê.

Life Esidimeni het na bewering ook aangebied om die NRO-fasiliteite te keur voordat pasiënte oorgeplaas is.

“Ons het dit duidelik gemaak dat ons twyfel of enige NRO’s dieselfde diensgehalte teen die departement se begroting kan aanbied.”

Die breër Life Esidimeni-groep moes glo op ʼn gereelde grondslag personeel se salarisse subsidieer as hulle nie betaling van die departement ontvang het nie.

Families pleit glo dat proses gestaak word

In November 2015, tydens ʼn vergadering met die departement, het die families van die betrokke pasiënte glo hul griewe oor die beplande skuif met die departement gedeel.

“Die families het hul woede uitgespreek oor die feit dat die departement hulle nie geraadpleeg het oor die besluit nie, en dat hulle nie weet na watter NRO’s hul geliefdes oorgeplaas gaan word nie. Die families wou die fasiliteite besoek om te verseker dat dit dieselfde standaard as Life Esidimeni handhaaf,” het Mkhatshwa gesê.

Tydens ʼn latere vergadering in Desember 2015 het families weer daarop aangedring om die NRO’s te besoek, maar dit was tevergeefs. Amptenare het glo net die families gewaarborg dat hul geliefdes in goeie hande gelaat sal word.

“Die families het toe geëis dat die proses gestaak moet word.”

Mkhatshwa het tydens Dinsdag se kruisondervraging na ʼn proefoefening verwys wat in 2007 deur die gesondheidsdepartement gedoen is. Altesaam 15 kinders wat pasiënte by Life Esidimeni was, is na ʼn NRO genaamd Ikhwezi Lokusa verskuif en kort daarna is twee van dié kinders by die fasiliteit oorlede. Die oorblywende 13 het glo in ʼn vreeslike toestand na Life Esidimeni toe teruggekeer.

“Ons wou keer dat dít weer met ons pasiënte gebeur. Ons het heeltyd die departement en veral Manamela gewaarsku oor die gevolge hiervan.”

Pasiënte sonder klere, ID’s ontslaan

Volgens adv. Phyllis Vorster, wat vier van die oorlede pasiënte verteenwoordig, het Mkhatshwa gesê dat amptenare na Life Esidimeni toe gestuur is om vas te stel wie van die pasiënte die volgende dag na die NRO’s oorgeplaas kan word.

ʼn Lys is glo aan psigiaters, dokters en verpleegsters verskaf wat na bewering ingespring het en die nodige dokumente van die betrokke pasiënte gereed gekry het.

Al die pasiënte wat uit Life Esidimeni ontslaan is, moes met ʼn foto vertrek om hulle te identifiseer. Hulle moes ook met ʼn opsomming van hul geestelike en fisieke toestand, medikasie, voorskrifte, klere en toiletware toegerus word.

Volgens getuienis toon die departement se verslae dat sommige pasiënte sonder klere, medisyne of hul identiteitsdokumente na NRO’s oorgeplaas is.

“Indien dit gebeur het, was dit slegs weens die lukrake manier waarop die oorgang plaasgevind het,” het Mkhatshwa gesê.

“Dit was ʼn oorhaastige proses en het nie voldoen aan Life Esidimeni se standaardproses om pasiënte te ontslaan nie.”

Mkhatshwa het egter volgehou dat, ondanks die geharwar, alle pasiënte steeds met ʼn opsomming van hul geestelike en fisieke toestand ontslaan is.

“Ons het nie geweet waarheen die pasiënte geneem is nie en kon daardie inligting ook nie aan die pasiënte se families oordra nie.”

Hofverrigtinge gaan Vrydag voort.

Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Die ANC kommuniste kom weg met moord dit pla hulle net mooi niks. Ouer people moet maar weer vir hulle stem.

Kokerboom ·

Ten spyte van ongekende , korrupsie, skandale, bedrog, wanbestuur….ek het nie meer byvoeglike naamwoorde hou die massas die ANC in plek en veg selfs vir verdere wanpraktyke(verwys Zuma en sy ondersteuners:Manji en kie). Ons het dus duidelik ‘n KIESERSPROBLEEM in SA, Die westerse en tradisionele wereld is onversoenbaar!!!

Frederik C ·

Die ANC voel vere vir ‘n psigiatriese pasiënt of sy ID. Hulle kan mos nie gaan stem nie.

Karlahari ·

Kan maar net wonder hoeveel geld is hier onder die tafel deur om oorplasings na maatjies te doen en aan te hou toelae te betaal al het die mense weg geval….

David ·

Hulle moet sommer elke anc stemmer ook aankla. As hulle nie so aanhoudend die onbevoegde idiote instem nie sal ons minder probleme hê.

Elize ·

Niks gaan verander in hierdie land as mense nie vasgevat gaan word vir die vrot besluite wat hulle neem nie!! GIERIG EN ONBEVOEG

Jack ·

Weereens n voorbeeld oor watter tragedie op veral die armes wag indien die regering nog verder misluk in sy vermoe om te regeer. Die mense word vertel van menseregte maar niemand ervaar dit behalwe die wat in die tronke is i.e zuma ens. Wat n korrupte benadering oor die bates wat die land het en vertrap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.