Liggaam by rioolaanleg maande later nie opgeëis

(Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Die polisie is op soek na die naasbestaandes van ’n man wie se liggaam meer as vyf maande gelede in ’n tenk by die Thabong-rioolaanleg in die omgewing van Welkom in die Vrystaat gevind is.

Die liggaam is op 9 September verlede jaar in een van die tenks by die aanleg gevind en word sedertdien by die staatslykshuis in Welkom bewaar.

“Niemand het nog na vore gekom om die oorledene op te eis nie,” sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die swart man is vermoedelik tussen 20 en 30 jaar oud. Hy het met die ontdekking van sy liggaam ’n  swart baadjie, swart langbroek en swart halfstewels aangehad. Hy het ook nog sy grys Puma-rugsak op sy rug gehad.

Thakeng het nie die oorsaak van die man se dood bekend gemaak nie.

Hy het wel ’n beroep op lede van die publiek gedoen om enige inligting wat kan help om die man se naasbestaandes op te spoor, by AO AC de Lange van die Welkom-speureenheid by 082 821 9227 of die noodnommer 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AW ·

Skets van die oorledene se Gesig…..

DNA…….

Fotos van die Rugsak en Klere…..

Anel ·

Lengte, gewig, tatoeermerke of opetasiemerke, lang, kort hare, baard, ens.!!!

Sandra ·

Ja hulle moet ‘n identikit saamstel. ‘n Swart man met ‘n swart baadjie, en swart langbroek kan enigiemand wees. Daar moet tog iets in sy rugsak wees, of enige merke op sy liggaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.