Liggaam van man in Kaapse huis gevind

Polisie en die District Group-veiligheidsmaatskappy by die moordtoneel (Foto: District Group, Facebook)

Die liggaam van ’n 58-jarige man is Sondagaand in ’n huis in Parow in Kaapstad gevind. Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad.

Volgens die District Group-veiligheidsmaatskappy het twee van sy veiligheidsbeamptes die aand omstreeks 22:05 klagtes ontvang oor harde geluide in die Welgelegen-buurt, wat glo soos ’n motorongeluk geklink het.

Die beamptes is ’n rukkie later na ’n huis in Generaal Hendrik Schoeman-straat in Welgelegen ontbied, waar ’n voertuig oënskynlik skade aan die motorhuisdeur aangerig het.

“Beamptes het hulle na die toneel gehaas. Hulle het onraad vermoed toe hulle sien dat die motorhuisdeur van die binnekant af beskadig is,” sê die veiligheidsmaatskappy in ’n verklaring.

Die beamptes het om die huis gestap. Die agterdeur was toe, maar nie gesluit nie.

“Hulle het by die huis ingegaan en opgemerk dat dit geplunder was. Daarna het hulle die man se liggaam gewaar. Hy het geen teken van lewe getoon nie.”

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, sê die man se voete en hande was vasgebind. Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad en is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord, huisroof en die diefstal van ’n motor,” sê Rwexana.

Die omstandighede rakende die moord is nog onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.