Liggaam wat uitspoel wél vermiste man sʼn

Beyers Coetzee (57). (Foto: Verskaf)

Die polisie het Woensdag bevestig dat die liggaam van ’n man wat op 23 Maart by Agates Terrace-strand in Port St. Johns in die Oos-Kaap uitgespoel het, wel dié van Beyers Coetzee (57) is.

Volgens sers. Majola Nkholi, polisiewoordvoerder, is Coetzee se identiteit later deur DNS-toetse bevestig.

Maroela Media het vroeër berig dat Coetzee, ’n IT-spesialis van Pretoria, op 19 Maart in die see by Koffiebaai verdwyn het nadat hy sy vriende in die onstuimige water te hulp gesnel het. Coetzee het saam met dié vriende vir die langnaweek in die omgewing gekamp.

Die strand waar sy liggaam vier dae later uitgespoel het, is sowat 160 km van Koffiebaai.

“Forensiese toeste het later bevestig dat dit wel hy is,” sê Nkholi.

Beyer se gewese vrou, Ronel, sê dat hulle nou berusting kan vind.

“Dis nou moontlik om afsluiting te kry en nou kan ons hom uiteindelik groet,” het sy Woensdag aan Maroela Media gesê.

Coetzee laat ook twee seuns, Johannes (24) en Dawid (21), agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danny ·

Dit is hartseer.. Koffiebaai se kusarea is nie jou maat nie! Altyd daar gaan visvang toe ek nog op skool was, pragtig. Wys mens net weer om nie die natuur te onderskat nie. Simpatie aan naasbestaandes.

MrMagic ·

Rus in vrede Beyers. Wat ‘n wonderlike daad om jou lewe vir jou vriende op te offer. Baie sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.