Ligloop vir dié slenters oor Kerstyd

slenter aanlyn bedrog

Argieffoto.

Deur Maretha Botes

Wees dié feesseisoen op jou hoede vir slenters wat opgestel is om jou van kosbare moola te beroof. Kenners vertel hoe maklik ’n mens eintlik gevang kan word.

Jy mag dalk uitgeslape wees en kan ’n bedrogspul op ’n myl vêr ruik. Kenners waarsku egter, bly op jou tone dié feesseisoen, want die meesterbreins agter sulke slenters is boonop meestermanipuleerders. Adobe Insight se onlangs vakansie-inkopevoorspelling (Holiday shopping forecast) het aangedui dat e-handel vir die eerste keer in die geskiedenis die R3 biljoen merk sal haal tydens hierdie feestyd. Die verslag het ook gewaarsku dat voorsieningskettings tekorte sal ervaar weens die pandemie. Dít sal veroorsaak dat verbruikers óf in lang virtuele rye moet staan vir goedere, óf vroeër inkope sal moet doen om seker te maak hulle kry vroegtydig hul gunsteling-produkte. Omdat verbruikers onder druk voel om te koop, maak dit hulle meer vatbaar vir slenters, lui die verslag.

Wees op die uitkyk vir dié slenters.

Vakansieverblyf

Estelle Nagel, woordvoerder vir Gumtree en OLX, sê hulle sien ’n toename in dié soort slenters oor Desember. Sy sê advertensieruimtes soos Gumtree sien egter minder sulke advertensies as voorheen, want skelms verkies deesdae om van sosiale media en vals webwerwe gebruik te maak om hul advertensies te plaas. Sy verduidelik die skelm gebruik foto’s van ’n gastehuis wat hy iewers aanlyn gekry het en adverteer verblyf teen ’n billike prys. Gewoonlik is die medium van kommunikasie Whatsapp en ’n deposito is betaalbaar. Sodra die deposito betaal is, droog die kommunikasie op en is die “agent” nie meer bereikbaar nie. Gewoonlik word daar ook ’n sin van dringendheid geskep vir die betaling van die deposito, jy moet binne ʼn uur of binne ʼn dag betaal, anders verloor jy die geleentheid.

In nóg ʼn slenter vra skelms mense om namens hulle op hul Facebook of Gumtree-profiel ʼn advertensie te laai in ruil vir kommissie. Dit is baie belangrik om jou aanlyn identiteit te verseker, sê Estelle. Moet nóóit namens iemand anders ʼn advertensie laai nie. Dit werk so: Iemand kontak jou uit die bloute op Facebook of Gumtree en sê dat hulle sukkel om ʼn advertensie (vir akkommodasie) te laai. As jy dit namens hulle laai op jou profiel en die huis word verhuur, kry jy kommissie. Die huurders betaal dan die deposito aan jou, en jy betaal dit oor in die skelm se rekening. “Hoewel die meeste mense hul kommissie ontvang, bly dit ʼn skelmstreek, en kan jy by die polisie verkla word weens bedrog,” sê Estelle.

Judi Groenewald is hoof van kommunikasie by Waterberg Toerisme. Sy sê ʼn derde slenter waarmee swendelaars verbruikers fnuik behels dat hulle ’n “pin”-ligging aan die verbruiker stuur, veral as dit ’n verafgeleë plek is. As jy uiteindelik die bestemming bereik, is daar niks. “Verifieer altyd die adres, en dring aan op ʼn fisieke adres. Soek dan die adres op Google, jou GPS, Waze of ʼn papierkaart as jy moet. Probeer ook die adres verifieer by die toerismekantoor in daardie area en vra uit of dit wel ʼn vakansiebestemming is,” sê Judi.

ʼn Paar waarskuwingstekens dat jou verblyf moontlik ’n slenter is:

  • Die foto’s is kleiner gemaak of ʼn watermerk word gebruik.
  • Die persoon dring aan om Whatsapp te gebruik en weier om telefonies te kommunikeer.
  • Die persoon gebruik ʼn gratis e-pos-adres met die pleknaam en ʼn nommer, byvoorbeeld [email protected].
  • Die persoon probeer ʼn sin van dringendheid skep, soos dat jy die deposito binne die volgende uur betaal.

As jy nie seker is of ʼn gastehuis of vakansiewoning eg is nie, doen die volgende:

  • Vra vir addisionele foto’s.
  • Vra vir die adres en bevestig op Google Maps of dit wel die regte huis is.
  • Kyk of die onderneming ʼn webwerf of advertensie het op ʼn toerismeblad en skakel ontvangs direk.

Argieffoto. (Foto: Chen Mizrach/Unsplash)

Vals reisagentskappe

’n Hoëkwaliteit webwerf word geskep waarop vakansiepakkette aangebied word wat jou mond laat water. Daar word gewoonlik gevra dat jy onmiddellik betaal (honderde reishonger toeriste het ook intussen betaal), waarna die webwerf gesluit word. Dikwels sal dié soort bedrieër weer ʼn webwerf opmaak en van vooraf die wip vir ander verbruikers stel. Maak seker dat jy ʼn reisagentskap gebruik wat ʼn lid van die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Reisagente is (IATA), of die Internasionale Lugvervoer vereniging (ASATA), sê Christo Snyman, direkteur by Mazars in Suid-Afrika.

Nuwe generasie piramiedeskemas

(Foto: Stevepb/pixabay)

Phiko Peter, kliëntediensbestuurder by Allan Gray, sê piramiedeskemas bly gewild en hoewel baie mense dink hulle weet hoe dit werk en om dit te vermy, val baie steeds daarvoor. “Sosiale media het bedrieërs nou slegs makliker toegang tot ons sosiale netwerke gegee, maar die slenter is in wese dieselfde. ʼn Charismatiese swendelaar stel jou bekend aan ʼn ongelooglike goeie finansiële geleentheid wat beloof om (weer eens) ongelooflike opbrengste te lewer. Elke belegger word aangemoedig om lid te word en nóg beleggers te werf (vriende, familie, kollegas en so meer). Hulle werf op hul beurt ook meer beleggers en ʼn multivlak piramiedestruktuur word gevorm met die tevrede swendelaar heel bo-aan. Die skemas is nooit volhoubaar nie. Soos die poel nuwe beleggers en nuwe beleggings opdroog kan die skema nie meer opbrengste lewer nie en laat dit beleggers met ʼn verlies. In die digitale era word dié soort skemas geadministreer deur platforms soos Whatsapp, waar boodskapgroepe gestig word. Whatsapp het deur die jare gewild geraak onder swendelaars, want hulle kan redelik anoniem hul bedrywighede voortsit, sê Phiko.

Geldstootslenters (money flipping)

Hoewel dit nie so gewild is soos Whatsapp-slenters in Suid-Afrika nie, vang geldstootslenters beleggers op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Instagram. Dié soort slenter beloof om jou “belegging” te verdubbel of self te verdriedubbel in ’n baie kort tyd. Slagoffers word oortuig om geld aan die swendelaar oor te betaal, wat ongelooflike opbrengste beloof in ruil vir ’n klein kommissie. In Suid-Afrika word hierdie soort beleggingsgeleenthede dikwels as buitelandse valuta (forex), buitelandse eiendom of binêre opsies aangebied. Die “beleggingsagent” skep ’n sosialemediaprofiel wat heel wettig lyk waarop hy al die eksotiese reisbestemmings ten toon stel, asook luukse motors en ontwerpersklere. Hierdie foto’s word gebruik om jou te laat dink die “agent” is uiters suksesvol en betroubaar. Sodra die agent jou ingekatrol het, sal hy selfs gedetailleerde beleggingsverslae aan jou stuur om te wys hoe jou geld groei. Sodra die belegger (jy) ’n onttrekking wil doen is daar skielik ’n spul probleme en vertragings totdat die swendelaar uiteindelik op ’n dag die rekening toemaak en alle kontak verbreek.

Aanlyn truuks

Skurke gebruik elke denkbare taktiek om jou rekenaar binne te dring en jou persoonlike inligting te bekom. Wees daarom baie versigtig waarop jy kliek as jy op die internet rondsnuffel, sê Conrad Steyn, hoof van tegnologie by Cisco Suid-Afrika. Van advertensies waarop jy kliek tot vreemde boodskappe in jou e-posbus. Dink mooi voordat jy oopmaak. “Geen onderwerp is taboe nie. E-posse met onderwerpe soos PlayStation 5-verkope, Covid-19-geneesmiddels en nuus oor kernkragwapens is al gebruik om mense te kry om die e-pos oop te maak. Sodra jy oopmaak laai skadelike programmatuur op jou rekenaar af, en jou persoonlike inligting soos bankbesonderhede is op die spel,” sê hy.

Conrad se wenke om jouself teen kubermisdaad te beskerm:

  • Moenie openbare Wi-Fi dienste gebruik as jy aanlyn inkopies wil doen nie. Dié soort netwerke is gewoonlik nie beveilig nie en kan maklik deur kubermisdadigers misbruik word.
  • Laai slegs apps af van betroubare appwinkels soos Google Play en iOS App Store.
  • Oppas vir apps wat verdagte toestemming vra, soos toegang tot jou teksboodskappe, kontakte, gestoorde wagwoorde en administratiewe kenmerke.
  • Sommige kwaadwillige apps lyk soos die een waarna jy soek. Tekens dat dit nie die ware Jakob is nie, is spelfoute en swak taalgebruik in die app-beskrywing, en ’n gratis e-pos soos Gmail vir die ontwikkelaar van die app.
  • Moenie vreemde e-posse oopmaak nie. Maak seker jy is wel ingeteken op bemarkingsbriewe van handelaars voordat jy op die e-pos klik, en maak seker jou rekenaar het die nodige veiligheidsagteware voordat jy op enige skakels in die e-pos kliek.
  • Gebruik ’n plaaslike advertensieblokkeerder (ad blocker). Dit sal enige skadelike advertensieveldtogte blokkeer wat wil kapitaliseer op verbruikers wat winskopies soek.
  • Tik liewer die webadresse wat jy wil besoek in, as om op die skakels vir die webwerf te kliek en maak seker die webwerf is veilig (HTTPS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.