Limpopo rou oor dood van nog vier leerders

Talle mense het die afgelope week ook hulde gebring aan die drie leerders van die Hoërskool Ben Viljoen wat ook in ‘n ongeluk gesterf het. (Foto: Verskaf/Hoërskool Ben Viljoen)

Die LUR vir onderwys in Limpopo, Polly Boshielo, het haar diepe hartseer te kenne gegee ná die dood van nog vier leerders van die provinsie.

Die vier gr. 11-leerders van die Russel Bungeni Secondary School in die Vhembe-omgewing is die afgelope naweek dood toe die bakkie waarin hulle gereis het, teen ʼn ander voertuig gebots het.

Die departement het nie die leerders se name bekend gemaak nie.

“Dit is ʼn moeilike en hartseer week vir ons by die departement. Ons rou steeds oor die dood van drie leerders van die Hoërskool Ben Viljoen, wat ons [gister] besoek het,” sê Boshielo.

Maroela Media het vroeër berig Conrad Meiring, Stiaan Grobler en JG Greyling – almal 18 jaar oud – is dood in ʼn motorongeluk op pad na hul matriekvakansie op Hartenbos. Die ongeluk het in die vroeë oggendure op die N2 naby George plaasgevind. ʼn Vierde insittende, Adrian Myburg (18), het die ongeluk oorleef.

“Ons is diep bedroef deur die nuus. Ons harte is swaar en ons betuig ons diepe medelye met die treurende families van ons leerders, asook die skoolgemeenskap.

“Dit is ʼn moeilike tyd vir ons almal, die vriende en familielede van die leerders. Ons het nie nou woorde nie. Ons pleit by ons kinders om hierdie feestyd na hulself te kyk en wil graag hê hulle moet volgende jaar veilig terugkeer.”

Die departement se sielkundig-maatskaplike eenheid sal traumaberading aan leerders, personeel en familielede van die slagoffers bied waar daar ʼn behoefte is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chantel ·

Ai man, dis so hartseer. Sterkte aan die gesinne, familie en vriende. Hierdie ouers is in my gebede

TRP ·

Dit raak al hoe moeiliker om hierdie artikels te lees, dit is ongelooflike hartseeer.

Swerwer ·

Innige Simpatie en meegevoel aan die families en vriende van die seuns.

madels ·

Hoe verskriklik tragies, n mens rou saam hierdie gesinne. Mag die Here hulle diep vertroos soos net Hy kan :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.