Limpopo-skoolmeisie kry borgtog ná aanranding

‘n Skermgreep van die video oor een leerder wat ‘n ander klap by ‘n skool in Limpopo. (Video: Twitter)

Die 15-jarige skoolmeisie aan die Mbilwe Sekondêre Skool in Thohoyandou, Limpopo, wat glo ʼn medeleerder aangerand het, is Donderdag op borgtog van R1 500 vrygelaat. Sy is in die sorg van haar ma geplaas.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video is op 13 April onder die departement van onderwys se aandag gebring wat wys hoe die beskuldigde die slagoffer, Lufuno Mavhunga (15), verskeie kere hard in die gesig klap. Lufuno het die middag na die voorval haar eie lewe geneem.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het bevestig die verdagte het Donderdag in die kinderhof in Thohoyandou verskyn op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Volgens Malabi-Dzhangi het die staat die borgtogaansoek teengestaan weens die erns van die oortreding. Die hof het egter borgtog op R1 500 vasgestel.

“Die hof het borgtog toegestaan op voorwaarde dat sy nie met enige van die staatsgetuies mag inmeng nie. Sy mag ook nie die provinsie verlaat sonder om die ondersoekbeampte daarvan in kennis te stel nie,” het Malabi-Dzhangi bevestig.

Die meisie sal na verwagting weer op 27 Mei in die hof verskyn.

Kuberboelies

Volgens statistieke ontwikkel 41% van kinders wat aanlyn geboelie is sosiale angs en 37% van hulle depressie.

Só het kuberveiligheidskenners van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) Donderdag tydens ʼn media-inligtingsessie oor kuberboeliery bekendgemaak. Tydens die inligtingsessie het dié kenners die publiek ingelig oor die negatiewe gevolge van kuberboeliery en moontlike oplossings gedeel wat dié tipe gedrag kan stopsit.

Verder dui die statistieke wat tydens die inligtingsessie gedeel is, daarop dat sowat 26% van die kinders wat aanlyn geboelie is, daaroor dink om hul eie lewe te neem. Altesaam 25% van dié kinders sal hulself skade aandoen terwyl sowat 24% die gebruik van sosiale media staak. Ongeveer 20% van die kinders daag nie meer vir klasse op nie. Verder ontwikkel ongeveer 14% van die kinders eetversteurings, terwyl 9% alkohol en dwelms begin misbruik.

Volgens die statistieke is Instagram vir sowat 42% van die aanlyn boeliegedrag verantwoordelik, gevolg deur Facebook wat 37% van die boeliegedrag verteenwoordig. Verder vind sowat 31% van die boeliegedrag op Snapchat plaas, gevolg deur 12% op WhatsApp, 10% op YouTube en 9% op Twitter.

Sipho Ngobeni, senior navorser by die WNNR, het tydens die inligtingsessie gesê talle mense is nie goed ingelig oor die skade wat kuberboelies kan berokken nie.

“Ouers is meeste van die tyd onbewus van wat hul kinders op die internet doen,” het Ngobeni gesê.

“Daarbenewens weet opvoeders ook nie wanneer en hoe om in te gryp wanneer boeliegedrag by die skool plaasvind nie, maar steeds hul leerders raak. Wetstoepassers is dikwels ook huiwerig om betrokke te raak, tensy daar duidelike bewyse is.”

Nóg ‘n kenner, Rofhiwa Netshiya, het gesê daar is ʼn behoefte aan openbare opvoeding oor alle vorms van kuberboeliery.

“Ons moet kinders inlig dat alle vorms van kuberboeliery verkeerd is en ernstige gevolge kan hê.”

Netshiya het ouers aangeraai om meer bedag op kuberboeliery te wees en te kyk hoe hulle hul kinders teen dié boeliegedrag kan beskerm.

“Ouers kan sagteware vir internetmonitering op hul kinders se rekenaars installeer om hul aktiwiteite op sosiale media te monitor. Daar is goedkoop produkte wat die aanlyn aktiwiteite van hul kinders kan monitor, sonder dat die kinders daarvan weet. Dit is baie belangrik om alle internetwebwerwe wat besoek word, af te laai en kletskamergesprekke en kitsboodskappe na te gaan.”

Netshiya het ouers ook aangeraai om hul kinders op te voed oor toepaslike aanlyn gedrag, soos die gebruik van rekeningprivaatheidsinstellings.

“Ouers moet ook enige boeliegedrag by die polisie rapporteer en hul kinders onvoorwaardelik daarin ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

Boelies kry die voorbeeld by die huis, waar sake op ‘n gewelddadige manier “opgelos” word. Die nodige positiewe opvoeding ontbreek. Geweld is nie ‘n oplossing nie en kinders behoort só opgevoed te word.

Misky ·

Geen kind word as ‘n boelie gebore nie. Dis juis by die huis waar sulke dinge gesien en leer word

Chantel ·

Dis ‘n bose kringloop vanaf ouers na kinders. Ek hoop werklik dat hierdie kind gestraf word, daar is geen verskoning vir wat sy gedoen het nie. Net my opinie

Leana ·

Vir my moes sy eintlik aangekla word ook van poging tot moord aangesien sy bygedra het tot die dood van die ander dogter.

Jaco ·

Hoeveel minder sal dié reeds lae borg gewees het as haar slagoffer wit was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.