Die Lonmin-mynmaatskappy het Maandag bevestig dat een van sy werkers in die maatskappy se K3-skag by Marikana in Rustenburg dood is ná ʼn grondstorting.
“Lonmin betreur dit om aan te kondig dat Tembelani Manyana (46), ʼn spanleier, Sondag oorlede is in die K3-skag tydens ʼn grondstorting,” lui ʼn verklaring van die maatskappy.
Luidens die verklaring het Manyana aan hoofbeserings beswyk tydens die proses om hom van ondergronds na bo te bring.
“Dié noodlottige voorval is hartseer en teleurstellend aangesien dit ʼn suksesvolle 15-maande-tydperk sonder noodlottige ongelukke by Lonmin beëindig.”
Afgevaardigdes van Lonmin het Manyana se vrou en gesin in Elliotdale in die Oos-kaap besoek om die nuus oor te dra.
“Sy gesin sal ondersteuning van die maatskappy geniet. Ons betuig ons diepste medelye met sy familie, kollegas en vriende.”