Loodgieter of lugwaardin? Dié platform kan help

(Argieffoto: Shutterstock)

ʼn Keuse met betrekking tot jou toekomstige loopbaan is sekerlik een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal neem.

Volgens Felicia Richardson, skoliere-spesialis by Solidariteit, moet jy ten opsigte van dié besluit die regte vrae vra om by die regte antwoorde uit te kom.

Richardson beklemtoon die belangrikheid van Solidariteit se nuwe aanlyn platform, wat jong mense help om te bepaal wat presies hul belangstelling is, met die doel om vak- en loopbaankeuses te vergemaklik.

Sy hoop dat ouers die toekomswaarde daarvan sal besef.

“Ons wil hê ouers en onderwysers moet weet dit is in leerders se beste belang om dié bepaler te voltooi en te gebruik, ongeag die graad of hoërskool waarin hulle is. Ons glo hierdie eenvoudige vraelys wat deur ʼn professor verbonde aan die Noordwes-Universiteit ontwikkel is, kan ʼn kind op die loopbaankoers plaas waarvoor hy of sy werklik uitgeknip is.

“Ouers of onderwysers laat te gereeld na om hierdie waardevolle hulpmiddels vir vakkeuses en loopbaanrigtings vir kinders te gebruik. Ouers neem dan lewensveranderende besluite sommer op ‘gevoel’. Baie kom die fout eers jare later agter,” sê Richardson.

Ten einde die Solidariteit-belangstellingbepaler so wyd as moontlik bekend te stel, word ʼn kontantprys vir een gebruiker daarvan aangebied. Richardson sê een gelukkige onderwyser wat ʼn leerder help om dit te voltooi, kan ʼn kontantprys van R2 500 wen, asook R10 000 vir sy of haar skool, en ʼn Takealot-geskenkbewys ter waarde van R500 vir die betrokke skolier.

“Om daarvoor in aanmerking te kom, moet ʼn leerder op Instagram sy of haar @solidariteit_skolier merk (‘tag’) met ʼn skermgreep van sy of haar belangstellingbepaler-resultaat, asook ʼn hutsmerk (#) met die onderwyser se naam wat die leerder bygestaan het, en ʼn hutsmerk van die skool waarin die leerder is,” sê Richardson.

Volgens Richardson sal Solidariteit se skoliere-aanbod hierdeur verder versterk word om leerders sodoende te help om die regte vak- en loopbaankeuses te maak.

“Ons wil graag sien wie is ons toekomstige dokters, onderwysers, prokureurs, boere of bouers.

“Dit is natuurlik moontlik dat meer as een van hierdie loopbaanrigtings ʼn kind opgewonde sal maak, of dalk geeneen van hulle nie. Daarom is dit belangrik om hierdie beproefde belangstellingbepaler te gebruik om sekerheid in jouself te kry daaroor.

“Ouers en onderwysers wat leerders aanmoedig om dit in te vul, doen die jong mense regtig ʼn groot guns,” sê Richardson.

Om die belangstellingbepaler te voltooi, kan die volgende skakel gevolg word: https://aanlyn.solidariteit.co.za/jeug/belangstellingbepaler.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.