Lourensford-brand ‘95% onder beheer’

Die brand wat verlede week op die Lourensford-landgoed in Somerset-Wes ontstaan het, is nou onder beheer. (Foto: Facebook / KWDM)

Die brand wat Woensdag op die Lourensford-landgoed in Somerset-Wes ontstaan het, is nou 95% onder beheer.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het Maandag gesê dat brandspanne egter sal voortgaan met gereelde inspeksies in die gebied om te verseker dat daar geen opvlammings is nie.

Maroela Media vroeër berig dat verskeie huise in Silverboomkloofweg in Spanish Farm Saterdagaand in die brand verwoes is, terwyl twee brandbestryders in die hospitaal opgeneem is.

Die munisipaliteit se branddienste, gekontrakteerde grondspanne en ondersteuningspersoneel van CapeNature en die Wynland-FPA, het Sondagmiddag steeds gespook om die brand te bestry.

“Die brandspanne kon Sondagaand laat met bestryding stop,” het Jo-Anne Otto, woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, Maandag gesê.

Verskeie huise in Silverboomkloofweg in Spanish Farm is Saterdagaand in die brand verwoes. (Foto: Facebook / Norman McFarlane, Wyk 84)

Volgens Norman McFarlane, DA-raadslid, is die brand in die omgewing van Silverboomkloofweg en in die Helderberg-natuurreservaat ook onder beheer.

“Hoewel die reën die oop grond klam gemaak het, is baie meer reën nodig om te verseker dat alle smeulende kole geblus word,” het Otto gesê.

Otto sê die munisipaliteit se branddienste sal deurlopend inspeksies van veral kwesbare gebiede soos die denneplantasies en gebiede met digte plantegroei doen.

Die branddienste het hul vennote vir die “uitstekende spanwerk en diepgaande begrip van die kompleksiteit van veldbrande” geloof en die gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.

McFarlane het ook dierereddingsorganisasies in die Helderberg-omgewing bedank wat huisdiere ingeneem het toe huise ontruim moes word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.