Luiperd in strik: Groeiende kommer oor onwettige jag in reservate

(Foto: Facebook/ Mpumalanga Tourism and Parks Agency)

ʼn Luiperdmannetjie wat Vrydag met ʼn kabelstrik om sy lyf in die Manyeleti-natuurreservaat in Mpumalanga aangetref is, het opnuut kommer oor die veiligheid van wildlewe in natuurreservate gewek.

Beeldmateriaal wys hoe Tavangumi, ʼn bekende luiperd in die reservaat, sukkelend en met ʼn strik om sy lyf loop. Die voorval is by die owerhede aangemeld, waarna die luiperdmannetjie uit die strik bevry kon word.

Die luiperd het ernstige snywonde opgedoen, maar is volgens die Mpumalanga Toerisme- en Park-agentskap (MTPA) besig om goed aan te sterk.

“Ons is verheug om te sê dat dit goed gaan met die luiperd. Die veldwagters van Manyeleti-natuurreservaat sal saam met private veeartse voortgaan om die luiperd deur die halsbandopsporingstoestel te monitor,” lui ʼn plasing op die agentskap se Facebook-blad.

Volgens Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus, is die ongebreidelde stropery van wilde diere in natuurreservate, en veral in die Manyeleti-natuurreservaat – wat aan die Nasionale Krugerwildtuin grens – besig om heeltemal handuit te ruk.

“Dit was skokkend om die foto’s van die arme luiperd te sien. Die strik het so styf vasgetrek dat dit ʼn groot en diep wond reg rondom sy lyf gelaat het,” het ʼn woedende Weber gesê.

(Foto: Facebook/ Mpumalanga Tourism and Parks Agency)

“Ingrypende stappe moet dringend gedoen word om hierdie wrede gedrag stop te sit. Dit is nie die eerste roofdier wat in hierdie reservaat in ʼn strik gevang word nie.”

Landé Willemse, mediabeampte vir die VF Plus in Mpumalanga, sê dit is ontstellend hoe dikwels strikke van roofdiere verwyder moet word.

“Strikke moet gereeld van leeus en hiënas verwyder word. Daar is ʼn leeu in dieselfde reservaat met die lelikste littekens op sy gesig nadat sy mond in ʼn strik vasgevang is. Hy lyk soos die ‘Joker’, sy hele gesig is vol merke.

(Foto: Verskaf)

“Nodige teenstropingsmaatreëls word nie in ons reservate getref nie, wat beteken dat hierdie wrede dinge aanhou om met ons diere te gebeur,” sê Willemse.

(Foto: Verskaf)

Volgens Weber is die heining tussen die Manyeleti-natuurreservaat en die omliggende plaaslike gemeenskap in ʼn haglike toestand en stropers loop eenvoudig te voet met jaghonde die reservaat binne.

“Die plaaslike gemeenskap laat sommer hulle vee in die reservate wei. Daar is feitlik niks nie. Daar word elke dag gejag; daar word elke dag strikke gestel; daar is elke dag mense wat ongehinderd in die reservaat instap en ons diere doodmaak.”

Weber sê daar is ook geen grens tussen die Manyeleti-natuurreservaat en die Krugerwildtuin nie, wat dit vir stropers selfs makliker maak om die reservate binne te gaan en beskermde wild te jag.

“Daar is veral snags min of geen teenstropery-optrede deur Mpumalanga se Toerisme- en Parkeraad,” sê Weber.

“Die MTPA sê net doodeenvoudig dat daar ʼn tekort aan personeel is, maar dit is nie ʼn verskoning nie.”

Volgens Willemse is dit egter nie net die Manyeleti-natuurreservaat wat weens beweerde wanbestuur agteruitgaan nie.

“Daar is seker sewe staatsreservate in Mpumalanga – onder meer die Bosbokrand-natuurreservaat – wat weens wanbestuur net verder en verder verval.

“Die bestuur van ons reservate is ʼn grap; ons probeer nou al so lank iets hieraan doen. Die geboue in die reservate val uit mekaar, grasdakrondawels se gras word uitgepluk en wilde gras groei die paadjies toe. Dit word doodeenvoudig net nie reg bestuur nie.”

Willemse sê ongeveer twee miljard rand is verlede week in die begrotingsvergadering vir opknappingswerk aan paaie toegewys.

“Vir wat? Dit help nie paaie word opgegradeer as die bestemmings uitmekaar val nie? En as die diere doodgemaak word nie…

“Nêrens in die begroting vir die nuwe boekjaar is daar voorsiening gemaak vir teenstropingprogramme nie, maar die MTPA het R18 miljoen begroot vir bemarking. Hoe werk dit? Dit is belaglik.”

Willemse sê die MTPA val onder dieselfde departement wat verantwoordelik is vir werkskepping en ekonomiese transformasie.

“Teenstropery is duidelik nie ʼn prioriteit vir dié departement nie.”

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan Nompumeleleo Hlophe, die LUR vir toerisme en ekonomiese ontwikkeling, pertinente vrae aangaande teenstropery-optrede gestel en ook ʼn dringende vergadering hieroor versoek.

Volgens Willemse het Hlophe die probleme van die vorige LUR geërf. “Dit is nie haar skepping nie. Ons het vertroue in haar, sy is regtig bekwaam en ons hoop dat sy hierdie kwessies sal takel.

“Polisiëring van wild en teenstroperymaatreëls moet dringend opgeskerp word. ʼn Permanente teenstropingseenheid moet aangestel word wat reservate dag en nag patrolleer, want teen die huidige tempo van stroping gaan daar oor ʼn dekade min van sekere spesies in dié Groot Vyf-reservaat oorbly,” sê Willemse.

  • Maroela Media het die Manyeleti-natuurreservaat en die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) om kommentaar genader en dit sal bywerk word sodra dit ontvang word.

Ncila, die leeumannetjie, nog ‘n slagoffer van onwettige jag (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elmarie ·

Vieslike, walglike stropers. Blêrrie amebes! Ek moet tog so een in die hande kry…

Di ·

Wys my enige iets in die land wat hulle sukselsvol bestuur! NIKS, alles verval in riool status vandat hulle in poste gedruk is. Die meerderheid in die land glo ook net aan verwoesting, bou niks op nie. DIT maak mens siek om hierdie dinge te sien gebeur

Wit Leeu ·

Dit maak my woedend ! Ek het nie woorde nie……………………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.