Luister: Feesjaar gee erkenning aan vele fasette van Afrikaans

Giep van Zyl het in Maroela Media se ateljee oor Afrikaans 100 gesels. (Foto: Maroela Media)

“Ek is baie opgewonde oor Afrikaans Amptelik 100. Die lekkerste en opwindendste deel is die besef dat ons betrokke by die viering van ʼn mylpaal is wat eers weer oor 100 jaar herdenk word. Ons het net een kans om dit te doen.”

Só sê Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans Amptelik 100. Hy word deur René Arendse as nasionale adjunkkoördineerder van die veldtog bygestaan.

Die Afrikaans Amptelik 100-veldtog het pas afgeskop, en dit is nou in die vooraffase in aanloop tot 8 Mei 2025 se eeufeesviering. Daarna volg die Ensovoorts-veldtog ter viering van Afrikaans se 100ste jaar as amptelike landstaal.

Van Zyl het in Maroela Media se ateljee gesels oor die waarde en belangrikheid daarvan om nie net ʼn mylpaal nie, maar ook die ryk geskiedenis en toekoms van Afrikaans te vier.

Dié taal het lankal reeds bestaan toe dit op 8 Mei 1925 naas Engels een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het. Hoewel die Afrikaans Amptelik 100-veldtog hierdie gebeurtenis herdenk, strek die viering wyer as dit.

“Dit is eerstens ʼn optekening van die geskiedenis en totale bydrae van die Afrikaanse gemeenskap, tweedens is dit ʼn bestekopname van hoe Afrikaans die afgelope 100 jaar ontwikkel het, en derdens bied dit ʼn blik op die toekoms en wat vorentoe met Afrikaans gaan gebeur,” verduidelik Van Zyl oor die veldtog se fokus.

Hy sê verder dat die veldtog in diens van die Afrikaanse taalgemeenskap staan en dat hulle hiermee graag individue, organisasies en inisiatiewe se bestaande en nuwe projekte wil ondersteun.

René Arendse en Giep van Zyl.

“Ons is juis nie bestuurders nie, want dit is nie moontlik om self projekte te organiseer of in elke dorp ʼn feesviering te hou nie. Wat ons wil bereik, is om die kollig op Afrikaans te plaas en vir die gemeenskap te wys hoe die taal lyk.”

Besoek Afrikaans Amptelik 100 se webwerf vir meer besonderhede oor die veldtog en hoe om daarby betrokke te raak.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans Amptelik 100.
  • Lees alle vorige artikels oor Afrikaans Amptelik 100 hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.