Luister: Nuwe musiek, parfuum vir Irene-Louise ondanks tawwe jaar

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Leandri Marx Photography)

Op die oog af was 2023 ʼn uiters suksesvolle jaar vir die blondekop-sangeres Irene-Louise van Wyk.

Nie net het sy ʼn rits suksesvolle enkelsnitte uitgereik en haarself as een van Afrikaans se gewildste kunstenaars gevestig nie, maar sy het ook die kosmetiese wêreld betree met die bekendstelling van haar eie parfuum.

Irene-Louise bieg egter dat vanjaar een van die uitdagendste nóg was, en dat sy gereed is om 2023 vaarwel te heet.

“Mense weet nie wat agter die skerms van iemand se lewe aangaan nie. Met sosiale media kies ʼn mens hoeveel jy bereid is om van jou lewe te deel. Niemand het geweet dat ek van April tot Junie in die diepste gat van depressie verval het nie,” vertel sy.

“Ek was vir ʼn lang tydperk net op autopilot. Ek voel asof ek die helfte van die jaar gemis het. So, dit was ʼn baie tawwe jaar vir my.”

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Leandri Marx Photography)

Sy voel egter nou weer stukke beter en is gereed om 2024 met albei hande aan te gryp. “Ek is gereed om so gou as moontlik van 2023 ontslae te raak. Ek voel goed oor volgende jaar en my dagboek en opkomende projekte is opwindend.”

Al het haar musiekloopbaan die laaste twee jaar, sedert die uitreiking van die wegholtreffer, “Tekkies brand”, van krag tot krag gegaan, het haar persoonlike lewe deur onstuimige waters gegaan en sukkel sy met “rowwe depressie en erge angs”.

“Daar is baie kere wat ek moet trane afvee voordat ek op die verhoog gaan, want mense wil nie ʼn huilende kunstenaar hê wat ‘Tekkies brand’ sing nie,” sê Irene-Louise laggend.

“As ek op die verhoog klim, voel dit soos terapie. As ek die energie van my orkes kan voel en ek sien hoe ʼn oom in die gehoor met sy vrou sokkie, of hoe kinders kliphard saam met my sing, of ʼn tannie wat op ʼn tafel dans, dan voel ek ook sommer beter.

“Dit is vir my belangrik dat mense altyd ʼn goeie tyd by my vertonings moet hê en dat hulle na die tyd moet wens ek het nog langer vir hulle gesing.”

Irene-Louise se parfuum, RINX, is onlangs bekend gestel. (Foto: Twané Paich Photography)

Haar jongste enkelsnit, “Waar gaan ons dans vanaand?”, is onlangs uitgereik en is besig om al wat ʼn Afrikaanse radiostasie en treffersparade met mening te tref.

“Mense vra my heeltyd wanneer bring ek weer ʼn ‘Tekkies brand’ uit. Julle ouens, hierdie liedjie is die naaste wat ons daaraan gaan kom,” sê Irene-Louise.

Die bekendstelling van haar parfuum, RINX, tel as een van die hoogtepunte van haar loopbaan tot dusver.

“Ek is oorweldig deur die positiewe terugvoer wat ek oor die parfuum kry. Die eerste oplaag voorraad wat ek beskikbaar gehad het, is so te sê uitverkoop. Ek is baie dankbaar daarvoor.

“RINX is wel nog net ʼn druppel in die emmer van die groot drome wat ek vir myself en die handelsmerk het. Klere, badsout, noem dit, ek wil dit doen.”

RINX is beskikbaar op Irene-Louise se webwerf.

“Waar gaan ons dans vanaand?” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Irene-Louise van Wyk.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Waar gaan ons dans vanaand?”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.