Luister: SOS-verslag wys ál minder matrieks neem wiskunde

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Min matrikulante neem welvaartskeppende vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe en selfs minder leerders neem die moeiliker tegniese wiskunde tot in matriek.

Só bevind die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jongste matriekverslag. Volgens Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, is dit ʼn uiters kommerwekkende tendens wat al jare voortduur.

Ondanks dié neiging behaal Afrikaanse skole steeds drie keer meer onderskeidings in wiskunde as al die ander skole in die land.

“Dit dui op die waarde van goeie moedertaalonderrig,” benadruk Vermeulen. Die SOS stel sedert 2016 jaarliks ʼn verslag van die vorige jaar se matriekuitslae bekend.

Die SOS se verslag vir 2022 is pas uitgereik en bevat ʼn omvattende blik op die prestasie van Suid-Afrikaanse matriekleerders in Afrikaanse skole oor die hele land.

Die verslag het onder meer bevind dat matrikulante veral sukkel om suksesvol te wees in die vakke geografie en bedryfstudies. Volgens Vermeulen is die slaagsyfer vir dié twee vakke swak en is daar ook ʼn lae persentasie leerders wat onderskeidings in dié vakke behaal.

“Daar is ʼn moeilikheidsgraad aan die vakke wat dit moeilik maak om goed te vaar. Die SOS se navorsing toon dat die geweldige streng nasienriglyne vir hierdie vakke ook baie daarmee te doen het: Dit kom daarop neer dat jy nie maklik jou punte kry as jy nie presies neerskryf wat in die memorandum staan nie en sodoende word ʼn kind afgerig om te presteer. Die SOS kan dit nie goedpraat nie.”

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Verskaf)

Volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, bevat die verslag ontledende data en kommentaar op die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS).

“Die verslag is gegrond op die uitslae van 2022 se NSS-eksamen wat in Januarie deur die departement van basiese onderwys bekend gemaak is.

“Dit is ook die eerste keer dat die SOS die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se uitslae by ons verslag insluit. Die doel met die insluiting is nie om die stelsels met mekaar te vergelyk nie, maar eerder om neigings en nasionale prestasies in albei liggame uit te lig.”

Enkel-, parallel- en dubbelmediumskole wat Afrikaans as huistaal aanbied, asook Engelse skole wat Afrikaans as huistaal aanbied, vorm deel van die skole waarop die SOS jaarliks fokus.

“Met die verslag gee ons erkenning aan Afrikaanse skole en leerders vir hulle besondere bydrae tot die land se algehele matriekuitslae. Ons wys ook die belangrikheid van moedertaalonderrig en ons kan ook duidelik uit hierdie verslag sien wat die prestasie beteken ten opsigte van moedertaalonderrig.

“Ons ontleed ook die prestasie en tekortkominge van die algehele stelsel en maak dan aanbevelings vir verbeterings. Ons kyk krities na die gehalte van onderrig tot die mate dat ons uit die data afleidings kan maak,” sê Fourie in Maroela Media se ateljee.

Die matriekgroep van 2022 het die beste algehele slaagsyfer in die afgelope tien jaar behaal, ʼn uitnemende prestasie vir ʼn groep wat hulle gr. 10-jaar met die aanvang van die Covid-19-pandemie begin het.

“Afrikaanse skole het weer ʼn reusebydrae gelewer tot die nasionale slaagsyfer. Van die redes vir die goeie uitslae is die deursettingsvermoë van die leerders en onderwysers, goeie ouerbetrokkenheid en goeie aanlyn strategieë by die betrokke skole.”

Die volledige verslag is hier beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Leon Fourie, uitvoerende hoof, en Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, in Maroela Media se ateljee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

1 x 0 = 1 moet ek meer se, die punte was ook opwaarts aangepas so julle kan ook nie te trots wees nie.

Harley Davidson ·

Dit is n bose kringloop ,die onderwysers het net hasie wiskunde op skool gehad nou word hulle leerders ook aangeraai om hasie wiskunde (geletterdheid) te neem en met hasie wiskunde kan jy net by ‘n spaza winkel werk ,gaan terug na regte wiskunde en hou die slaagsyfer 40% en jou toekoms is verseker.

Ann ·

Is dit soos wat jy dit sien? Jy moet dalk weer gaan dink, hoor.
Ek het wiskunde gelos toe ek die geleentheid gekry het, en ek is in lyn om ‘n bestuurder te word. Moenie jy ook nou begin afkraak wanneer kinders nie wiskunde neem nie. Nie àlmal is wiskundig nie!!

JL ·

En verbaas dit ons? Kyk net hoe word ons belasting bestee deur “The powers that be”.

Elmarie ·

Slegte punte en ook dat kinders in baie gevalle nie wil aangaan met wiskunde is BÁIE keer agv onnies wat die kinders ‘n gly in die vak gee. Mens moet regtig toegewyd wees in ki dees van laerskool dae ‘n liefde vir die vak te gee. Nie net soos papegaai laat leer maar dit opwindend maak. Ek praat uit ondervinding – my kinders by uitstekende onnie in gr 7, toe by ‘n persoon wat self nie weet wat sy doen in gr 8 en regtig ‘n nare skreeuende mens was. Op einde verander ons van skool en punte styg, onderskeings al die pad, beste in provinsie… Dis jare gelede maar ek hoor hoe kla mense se kinders… Dit is naar hoe ek dit ondervind het

Anel ·

Die vakke waarin ons kinders sukkel is die gevolg van papagaaiwerk. Die lot wat dit nasien het tien teen een nie ‘n benul van die vak nie en verstaan nie Afrikaans. Ons kinders leer om te verstaan. Aa daar ‘n koma weg is trek die nasiener ‘n streep. Selfde met wiskunde. Ons een seun is gedwing om wiskunde geletterheid te vat. Ek het daar niks van verstaan nie. Gewone wiskunde was vir my better. Maar gaan kyk maar wat se vakke vat die ander sprekers. Alles wat jy soos papagaai moet leer. Dan kom hulle in die werklikheid en die selfde probleem word gegee met verskillende veanderlikes, dan kla hulle en sê dis nie hoe hulle geleer is nie. So ja, geluk aan ons Afrikaanse kinders en hul onderwysers.

Jaco ·

Trek maar so 15-20% af vanaf al daai wonderlike “onderskeidings” om dit by ou SA standaarde te kry. Dié wat my nie glo nie, gaan kyk net na die matriek hersieningsprogramme op DSTV. Dis skokkend hoe maklik alles nou is. In een program oor stedelike geografie, is alles wat in ‘n SA stad verkeerd gegaan het, bloot op apartheid geblameer. In ‘n ander program oor geskiedenis was alles wat die anti-apartheid struggle mense gedoen het, weer reg en hoogheilig en alles wat die ou wit regering gedoen het was net sleg en uit die bose.
Só lyk huidige lae onderwysstandaarde, maar almal op maroelamedia.co.za juig oor die 10,13 en 15 onderskeidings wat sogenaamde “slim” leerders behaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.