Lydia Winchester ‘herstel volkome’ ná stryd teen Covid

Lydia Winchester, (Foto: Janie Monsieur)

Lydia Winchester, bekende musiekbemarker van Johannesburg, het “volkome herstel” nadat sy verlede maand Covid-19 opgedoen het.

“Ek is terug in die gimnasium, al hardloop ek nie meer so vreeslik soos voorheen nie. Ek raak soms moeg, maar dan gaan lê ek net vir so ʼn halfuur op die bed. Ek is ook weer heeltyds terug in die kantoor,” sê Winchester (65) aan Maroela Media.

Winchester het op Vrydag 18 Junie positief vir Covid-19 getoets. “Daarna het ek skielik baie siek geword.”

Die sangeres Angelique Greffrath, een van die kunstenaars wat Winchester (65) bemark, het haar die Sondag na die Life Wilgeheuwel-hospitaal gehaas waar sy dadelik opgeneem is.

Winchester sê sy was baie swak en het sukkel-sukkel na Greffrath se motor gestap sodat sy mediese behandeling kon ontvang.

Hoewel haar suurstofvlakke gevaarlik laag was, het hulle haar nie met suurstof behandel nie en is sy slegs op ʼn drup geplaas, sê sy.

“Die dokters en verpleegpersoneel was ongelooflik. Hulle het my onmiddellik in ʼn bed gesit en deurgaans na my welstand omgesien.”

Winchester is die volgende dag reeds ontslaan. Die uitslae van al haar ander bloedtoetse was negatief.

“My behoud is dat ek altyd ʼn positiewe mens is. Ek weet ook nie wat dit is om siek te wees nie en dit was my eerste keer in die hospitaal. Ek glo die feit dat ek fiks is en gesond lewe, het my gered.”

Haar raad vir mense wat reeds Covid-19 onder lede gehad het, is om daarvan te vergeet. “Moenie dink dat jy melaats is nie. Kry jou behandeling en doen elke liewe ding wat die dokters sê jy moet doen.”

Winchester voeg by dat sy die Here prys dat sy deur die siekte gekom het. “Dit bewys net weereens dat ʼn mens elke dag voluit moet leef.”

Sy sê lede van die publiek het haar gedra deur die moeilike tyd. “Ek kon nie by almal uitkom nie; soms het ek honderde boodskappe op my foon gehad. Ek wil mense hartlik bedank vir hulle liefde en omgee.

“Ek kan net dankbaar wees teenoor die Here dat Hy my gelei het en soos Callie Storm, een van my kunstenaars, gesê het: ‘Lydia, die Here het nog te veel werk vir jou’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Dit is wonderlik om sulke nuus te hoor! Ek dink ons skuld Maroela media lesers meer sulke goeie nuus oor Covid aangesien die herstel koers as gevolg van Covid heelwat hoër is as sterf gevalle, maar daar is meer publisiteit oor sterf gevalle.
In elk geval, Lydia Winchester, ons deel jou dapperheid en herstel en sal dit gebruik as grondslag vir die Covid pandemie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.