Ma red eenjarige uit swembad

Genevieve en Simon de Wit. (Foto: Verskaf)

ʼn Eenjarige seuntjie van Bloemfontein het ʼn noue ontkoming gehad toe hy in ʼn swembad geval en byna verdrink het.

Danksy “genade van bo” en noodhulpkennis wat Genevieve de Wit (34) jare gelede opgedoen het, skeel daar wonderbaarlik niks met Simon de Wit nadat hy Donderdag in die gesin se swembad beland het nie.

“Ek en my dogter was besig om huiswerk te doen toe ek besef dat ek Simon nie kon sien nie. Ek het vir my huishulp gevra of hy tussen die wasgoed speel, maar sy het gesê sy het hom nie gesien nie. Ek het al om die huis geloop toe ek die hond in die hoek van die erf by die swembad sien staan. Hy staan nooit daar nie,” het Genevieve, Simon se ma, Maandag aan Maroela Media gesê.

Sy het dadelik na die swembad gehardloop, wat omhein is, en op ʼn afstand ʼn filtreringsak in die swembad sien lê en gedink dit is Simon.

“Ek was op pad om terug te draai toe iets vir my sê om heeltemal om die swembad te loop.”

Genevieve het Simon teen die rand van die swembad sien dryf met sy gesiggie na onder.

“Ek het heeltemal histeries geraak en in die swembad gespring om hom uit te haal. Ek het gillend tot by my huishulp gehardloop met hom in my arms. Gelukkig het my huishulp koelkop gebly en vir my gesê om hom neer te sit.”

Simon de Wit het geen skade ná die ongeluk opgedoen nie. (Foto: Verskaf)

Genevieve het vroeër ʼn kursus in noodhulp gedoen toe sy ʼn onderwyser was en het kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op Simon toegepas.

“Die Here het oorgeneem en lewe in ons seun in geblaas.”

“Hy het ʼn geluid gemaak en ek het geweet daar is nog lewe in hom. Ek het hom bygekry en toe begin hy skree. Hy was stokstyf en yskoud en ek het alles gedoen om sy liggaamstemperatuur weer op te kry,” het sy gesê.

Simon se pa, Jurie de Wit (37), het van Johannesburg ʼn ambulans na die gesin se huis in Dan Pienaar ontbied nadat Genevieve hom histeries gebel het. Jurie is ʼn vlieënier en kon gelukkig dadelik met ʼn huurkar Bloemfontein toe ry, terwyl ʼn ander vlieënier sy vlug oorgeneem het.

“Dit is met genade van bo dat hy oorleef het,” het Jurie gesê.

Volgens Genevieve het Simon eers in die hospitaal weer na homself begin lyk.

“Hulle het X-strale van Simon geneem en vir hom antibiotika gegee om enige infeksie in sy longe te voorkom. Hy was twee nagte in die intensiewesorgeenheid sodat hulle hom kon dophou en daarna is hy ontslaan. Volgens die dokter is dit ongewoon dat Simon oorleef het met geen permanente skade nie.”

Vir die De Wit-gesin voel alles nog onwerklik. “Dit is asof die voorval ʼn slegte droom was, want vanoggend hardloop hy agter my aan asof niks gebeur het nie,” het Genevieve gesê.

Dié gesin weet steeds nie hoe Simon by die swembad kon inkom nie, aangesien die area heeltemal omhein is met ʼn hekkie wat kan sluit.

“Hierdie dinge gebeur so vinnig, maar ons is bitter dankbaar dat die Here ons van onmeetbare hartseer gespaar het.”

Jurie en Genevieve het nog twee kinders, ʼn sewejarige dogter, Milan, en ʼn vyfjarige seun, Markus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Dankie aan ons Hemelse Vader vir sy oneidige liefde. Sterkte vir jul as gesig. So dankbaar hy is ongeskonde

Frannie ·

My seuntjie het bo-oor die reling/heining geklouter om by die swembad uit te kom. Hy was ook so tussen 1 en 2 jaar oud toe hy dit gedoen het.

Genis ·

Water is soos n magneet vir n kind…. dankbaar die kindjie is ongedeurd

ES ·

Dit gebeur so vinnig, een sekond is hulle by jou en die volgende oomblik is hulle nerens te sien nie. So dankbaar dat hy oukei is en niks oorgekom het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.