Ma vertel oor seun se hel voor hy sterf

Elsie Sander hou ‘n foto van haar oorlede seun, Henry, vas (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die hartseer trek op Elsie Sander (44) van Senekal in die Vrystaat se mondhoeke is opmerklik wanneer sy vertel hoe “die stelsel haar seun in die steek gelaat het”.

Henry Knouwds (16) is op 26 Mei op slag dood nadat ’n motor hom op die N5 wat deur die dorp loop, getref het.

Henry het kort tevore by die Itemoheng-hospitaal in Senekal uitgestap, glo sonder die voldoende toesig van verpleegsters. Hy is in die hospitaal opgeneem nadat hy ’n epileptiese aanval gekry het en was volgens die dokters nie nugter en helder van verstand nie weens die invloed van sterk medikasie.

Boonop is Knouwds die afgelope twee jaar by die skool geboelie. Sy ma glo dit het sy gesondheid en geestesgesondheid die afgelope paar maande verder laat agteruit gaan.

Volgens dié hartgebroke ma het sy meermale by die skool oor die boelie-kwessie aangeklop, maar “hulle het nie hul kant gebring om dit stop te sit nie”.

“Ek glo vas as my seun nooit geboelie is nie, sou hy nie in die hospitaal opgeëindig of doodgery gewees het nie,” vertel Sander.

Sander vee die trane af terwyl sy vertel oor die hel wat haar kind die laaste twee jaar weens die beweerde boeliery moes verduur.

“Hy was net ’n kind, hy moes gelag het. Hy het dit nie verdien nie. Hy het niemand skade aangedoen nie en was nooit lelik met enigiemand nie.”

Langs haar op ’n tafel staan ’n groot gedrukte foto van Henry, sy begrafnisbrief en gedrukte briewe van familie en vriende.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Sander wys na die houtkissie met Henry se naam op. “Dit is sy assies,” sê sy. “Ek hou sy as in die huis. Dit kan eendag saam met my graf toe gaan.”

Hoewel dié ma kwaad vir en teleurgesteld in die skool en hospitaal is, het sy besluit om nie stappe teen die instansies te doen nie. Sy wil eerder kyk hoe sy ’n verskil kan maak om te verhoed dat só iets met iemand anders gebeur.

“Deur stappe te doen gaan nie my kind terugbring nie.”

Sy beoog om ’n projek te begin waar sy die kwessie van boeliery gaan pak en kinders wat geboelie word, te help.

“Ek wil ’n stem wees vir die kinders wat onder boeliery deurloop. My hart skree vir die kinders.

“Die dorp is deur Boeta se dood geruk en ek glo ek kan met sy storie ’n verskil maak. Ek weet nog nie hoe ek dit gaan doen nie, maar ek weet die Here sal my leiding gee.”

‘Twee jaar van hel’

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Henry was ’n gr. 10-leerder aan Hoërskool Paul Erasmus en volgens Sander is hy sedert gr. 8 by dié skool geboelie.

Henry is met ’n seldsame bloedsiekte, genaamd sferositose, gebore, waar sy liggaam sy rooibloedselle verwerp. Die siekte is geneties en Sander en haar dogter, Margané Knouwds (19), ly ook daaraan .

Henry was weens sy siektetoestand baie min by die skool.

“Ek glo dit is waarom hy geboelie is, want die kinders het nie sy toestand verstaan nie. Hy het ook nie vriende in sy klas gehad nie. Hy het drie goeie vriende in gr. 8, gr. 11 en matriek gehad.”

Hoewel die boeliery meestal emosioneel was, het Henry een middag in Augustus verlede jaar met ’n opgeswelde gesig by die huis opgedaag. Sander het ’n saak van aanranding teen die betrokke leerder by die polisie aanhangig gemaak, maar dit later laat vaar.

Sy het Henry ook vroeër vanjaar na ’n terapeut gestuur om hom “sterker te maak”.

“Ek glo hy was depressief, hoewel hy dit toegeplak het met ’n glimlag. Hy het vir sy ouma-hulle vertel hoe swaar hy by die skool kry, maar hy wou my nie sê nie, want hy het gevoel ek het klaar genoeg probleme. Hy het die las op homself geneem.”

Van Henry se vriende en medeleerders het ná sy dood vir Sander oor die meeste boelievoorvalle in kennis gestel.

Maroela Media het ook te wete gekom dat van dié leerders die boelievoorvalle by die skoolhoof aangemeld het, nes Sander, soos sy vertel het.

“ ’n Medeleerder het by Henry se begrafnis om verskoning gevra dat sy ook deel was van die boeliery.”

Charles Pieterse, skoolhoof van Hoërskool Paul Erasmus, het aan Maroela Media gesê dat daar nooit spesifieke boelievoorvalle teenoor Henry aangemeld is nie.

“Sy ma het ná sy dood gesê hy is geboelie, maar die kwessie van boelie is nooit tevore geopper nie. Hy het swaargekry op skool omdat hy nie maats in sy graad gehad het nie, maar nie in die sin dat hy fisiek afgeknou is nie,” het Pieterse gesê.

“Indien daar boelie-gevalle gerapporteer was, sou ons dit hanteer het. Die personeel weet ook nie van alles wat op die terrein gebeur nie, ’n kind steek dit ook weg vir jou. Ons het ook nie beheer oor goed wat buite skoolverband gebeur nie, maar as ons daarvan te wete gekom het, sou ons die ouers ingelig het.”

Volgens Pieterse het die skool vir Henry ten opsigte van sy siektetoestand ondersteun en hom ook akademies gehelp waar hulle kan omdat hy akademies gesukkel het.

Laaste twee maande…

‘n Kruis is vir Henry langs die N5 opgerig waar hy deur die motor doodgery is (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Henry het op 23 April sy eerste epilepsie-aanval gekry terwyl hy op pad skool toe was. Hy het die maand daarna erge gemoedskommelings ondervind, wat twee weke voor sy dood buite beheer geraak het, vertel Sander.

Hy het die laaste maand ook elke oggend voor skool gebraak, wat Sander glo deur stres veroorsaak is.

Henry het op 22 Mei sy tweede epileptiese aanval gekry.

“Ons het hom bewusteloos op die grond gekry. Ons het met hom hospitaal toe gejaag. Hy het eers die volgende dag sy bewussyn herwin, maar hy het deurmekaar gepraat. Hy kon ook nie kos of medisyne inhou nie en het ’n verskriklik kopseer gehad.”

Henry is vir toetse na die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem verwys.

Daar het hulle vasgestel dat hy ’n baie hoë infeksietelling het. Die dokters kon egter nie vasstel wat die infeksie veroorsaak nie, maar het hom begin behandel en die infeksietelling het gedaal.

Henry is Vrydag (26 Mei) met ʼn ambulans terug na die Itemoheng-hospitaal in Senekal. Hy het sy ma omstreeks 17:00 gebel en gesê dat hy terug is op die dorp. Sander het omstreeks 18:20 by die hospitaal aangekom, maar nie vir Henry in die saal waar hy opgeneem was, gekry nie.

“Ek het na die verpleegsters se stasie in die saal geloop, maar dit was onbeman. Twee verpleegsters het toe van ’n ander afdeling in die hospitaal daar aangeloop gekom. Hulle was onder die indruk dat Boeta in die saal is.

“Ek het gedink omdat hy deurmekaar was, het hy dalk in die hospitaal verdwaal. Ons het na hom in die hospitaal begin soek, maar kon hom nêrens kry nie.

“Nadat ons buite toe is om hom te soek, het die polisie daar stilgehou en ons in kennis gestel van ’n kind wat in die hoofpad, oorkant die hospitaal, deur ’n motor raakgery is.

“Ek het dadelik aangevoel dit is my kind, en gehoop hy is orraait. Hulle het hom daar aangebring en toe ek hom sien, het ek geweet dit is verby.

“Dit was ’n prentjie wat ek nooit sal vergeet nie.”

Henry is net na 19:00 dood verklaar.

Die tiener het erge inwendige bloeding gehad en ook kopbeserings weens die stamp opgedoen.

“Volgens inligting van die toneel het my seun een keer ‘mamma’ probeer sê voordat hy dood is.”

Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van strafbare manslag is teen die motoris aanhangig gemaak.

Nalatigheid by hospitaal

Die hek waar Henry uitgekom het en na die N5 geloop het (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Sander voel die hospitaal was nalatig deur Henry sonder toesig te laat omdat hy “swak en deurmekaar en nog boonop ’n minderjarige kind was”.

Die hoof van die hospitaal het aan Sander bevestig, in die teenwoordigheid van Maroela Media, dat Henry met sy aankoms by die hospitaal gehuil en vir die verpleegsters gesê het hy wil huis toe gaan en dat hulle sy ma moet bel.

“Hulle het my tot vandag toe nog nie gebel nie. As ek nie self hospitaal toe gegaan het nie, sou ek nooit geweet het Henry is weg nie.

Die hospitaal se agterdeur staan wawyd oop [Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media]

“Ek vermoed Henry wou met alle mag huis toe gaan. Hy was emosioneel onstabiel, siek en moeg, en het die naaste pad uit die hospitaal gekies.”

Die hospitaalhoof het toegegee dat dit protokol is dat daar ten alle tye ’n verpleegster in die sale teenwoordig moet wees.

Volgens Sander het Henry vermoedelik by ’n agterdeur van die hospitaal die gebou verlaat – naby aan die algemene saal waar hy gelê het. Sy verduidelik hy het deur ’n klein buitehekkie – wat volgens haar oopgestaan het – by die hospitaal se perseel uitgegaan.

“Enigiemand kan by die oop deur en hek in- en uitgaan.”

Sander het ná Henry se dood by die hospitaal se hoof die beweerde nalatigheid van die verpleegsters aangemeld en ook dat die veiligheidsmaatreëls by die hospitaal volgens haar nie op standaard is nie.

Sy het ’n mondelinge ooreenkoms met die hoof aangegaan dat sy nie die hospitaal sal dagvaar nie indien hulle binne ses maande die foute wat sy uitgewys het, sal regstel. Sy het ook gevra dat ’n deeglike ondersoek van stapel gestuur moet word in verband met die beweerde nalatigheid van die verpleegsters.

Maroela Media het tydens sy besoek aan die hospitaal gesien dat die hekkie nou gesluit is, maar dat die deur nog wawyd oop staan.

Maroela Media het ook ʼn navraag aan die provinsiale departement van gesondheid gerig vir amptelike kommentaar oor die aangeleentheid, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.