Madonsela: ‘Zuma se bevoegdheid nie my besluit’

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het Donderdag gesê sy wil nie betrokke raak by die openbare debat of pres. Jacob Zuma geskik is om sy amp te beklee nie.

“Dit is nie my plek om te bepaal of die president geskik is om sy amp te beklee nie. My werk was om die publiek van onbehoorlike optrede te beskerm deur eerstens te bepaal of iemand se optrede wel onbehoorlik was en tweedens, hoe dit reggestel moet word,” het Madonsela gesê.

“Dit is wat ek gedoen het en nou het die konstitusionele hof bevind dat ek my werk behoorlik gedoen het. Die res van die werk behoort aan iemand anders. Dit is in dié stadium genoeg om te sê dat die konstitusionele hof in hierdie geval bevind het dat die president en die parlement versuim het om die grondwet te handhaaf.”

Madonsela het tydens ʼn mediakonferensie by haar kantoor in Pretoria gereageer op die konstitusionele hof se bevinding dat Zuma persoonlik ʼn gedeelte van die staatsgeld wat aan nie-sekuriteitsopgraderings by sy private Nkandla-woning bestee is, moet terugbetaal.

Sy het gesê sy glo dat Suid-Afrikaners se geloof in die grondwet deur die hof se bevinding oor die omstrede Nkandla-sage herstel is. “Vandag is die dag wat die konstitusionele hof hoop in die grondwetlike droom van elke Gogo Dlamini daarbuite herstel het wat op die OB moet staatmaak om die regering aanspreeklik te hou vir onbehoorlike gedrag,” het sy gesê.

Madonsela het ook gepraat oor haar termyn as OB wat in Oktober tot ʼn einde kom deur te sê haar hoop is op volhoubaarheid. “Die OB as persoon kom en gaan. Maar die OB as ʼn instansie gaan nooit nie. Inteendeel, die OB as instansie het verlede jaar 20 jaar van uitnemendheid gevier. As ʼn span is ons oortuig dat hierdie kantoor net van krag tot krag gaan sedert sy deur in 1995 geopen het.”

“Ek wil graag glo dat die volgende OB nog baie beter gaan vaar as wat ons gedoen het. Hy of sy gaan dieselfde span erf waarmee ek gewerk het. Dit is dieselfde span wat al die sake ondersoek het en die antwoorde gevind het waarvan ek uiteindelik eienaarskap geneem het en aan die publiek as my besluite voorgelê het.”

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Donderdag in sy uitspraak gesê as die nakoming van die OB se voorgestelde regstellende stappe nie bindend is nie, is dit onverstaanbaar hoe die OB effektief sal wees in die uitvoer van haar pligte om Suid-Afrika se demokrasie te versterk.

Lees alle vorige berigte oor Nkandla op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

My bydrae ·

Adv Thuli, wil jy nie maar aanbly as OB nie, ‘seblief? Te midde van al die persoonlike aanvalle, beledigings en dreigemente het jy jou integriteit behou en jou werk as Openbare Beskermer na die beste van jou vermoë uitgevoer. Dankie, dat jy volhard het daarmee.

Mielie ·

Sy praat met soveel waardigheid en integriteit, ek glo Sy is n goeie leier. Hoop JZ Kon iets by haar leer tydens hul onlangse gesprek

Griki ·

Ek stem 100% saam, Mielie. Sy dwing eenvoudig respek af sonder om eens hard te probeer. Sy is ‘n ongelooflike mens, ‘n rolmodel vir almal.

Wat-ek-lees ·

Geen antwoord is hier beslis die regte antwoord.
Maar wat van ‘President Thuli’?

Frik ·

Ja dan sal hierdie land weer floreer en voor uitgaan Dan sal daar weer hoop vir almal in hierdie land wees met iemand soos sy aan die stuur

Griet ·

Thuli bo! Ek stem saam – sy sal dat ons weer trots wees op die R van SA!

fiki ·

Thuli se dogter is klaar by eff so sy gaan haar beslis by haar skaar… vat boere se grond sonder vergoeding. Dis waarvoor haar dogter skree en sy ondesteun haar.

Ben Prinsloo ·

Dankie fiki jy het die situasie reg opgesom. Jakkals verander van vere maar nooit nie van streke. Ou Nick het hom ook as n baie goeie persoon voorgedoen toe hy met Eva gepraat het en die res van die storie ken ons mos.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.