Magashule hét onreëlmatig by Vrede-suiwelprojek ingemeng – OB

Ace Magashule (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die destydse Vrystaatse premier Ace Magashule en ander hooggeplaastes in die provinsiale regering het polities en onreëlmatig by die Estina-suiwelprojek in Vrede ingemeng.

Die Openbare Beskermer (OB) het Maandag dié bevinding in haar jongste verslag rakende die omstrede Gupta-gekoppelde suiwelprojek bekend gemaak ná ’n volledige ondersoek na bewerings van politieke inmenging.

Adv. Busisiwe Mkhwebane het die ondersoek byna drie jaar gelede van stapel gestuur nadat die parlement se portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste in Maart 2018 hul kommer oor bewerings van politieke inmenging geopper het.

“Bewerings dat die Vrystaatse provinsiale regering politieke betrokkenheid by die Vrede-suiwelprojek gehad het, word gestaaf,” het die OB intussen bevind.

“Die getuienis wat ek oorweeg het om tot my slotsom te kom, bevestig die betrokkenheid van buite en onbehoorlike invloed deur mense verbonde aan die Gupta-familie op politici in die manier waarop die projek gekonseptualiseer en in werking gestel is.”

Die destydse Vrystaatse LUR’e vir landbou, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe, asook Elzabe Rockman, destyds die Vrystaatse direkteur-generaal in die kantoor van die premier, word saam met Magashule in die verslag betrek.

Die OB het verder bevind dat die amptenare versuim het om hul toesighoudende verantwoordelikhede uit te voer wat aan hulle ingevolge die Grondwet toevertrou is toe hulle die bewilliging van bykomende finansiering vir die projek goedgekeur het selfs nadat die omstrede Estina-kontrak destyds beëindig is.

Die bewering dat die 80 voornemende begunstigdes van die Vrede-suiwelprojek moontlik in die proses benadeel is, word ook gestaaf.

Magashule het te midde van al die bewerings deurgaans aangevoer dat hy geen betrokkenheid by die projek gehad het nie.

Luidens die verslag het die OB in Oktober 2018 in ’n onderhoud aan Magashule gevra of hy betrokke was by die beplanning en inwerkingstelling van die Vrede-suiwelprojek, waarop die voormalige premier geantwoord het dat hy “glad nie” betrokke was nie.

Mkhwebane sê Magashule word egter weerspreek deur die getuienis wat tydens die ondersoek gelewer is.

Die OB het bevind dat Magashule, Zwane, Qabathe en Rockman se optrede op wanadministrasie en onbehoorlike optrede ingevolge artikel 6 (4) van die Wet op Openbare Beskermer neerkom.

Die OB sal haar bevindinge na die Valke verwys vir verdere ondersoek.

“Dit is jammer dat ’n leë droom aan begunstigdes verkoop is deur diegene wat verkies en daarvoor verantwoordelik was om die plaaslike gemeenskap se lewens ten goede te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.