Mahlangu verskuif die blaam vir Esidimeni-sterftes

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het Maandag ander beamptes beskuldig dat hulle verantwoordelik is vir die mislukte Life Esidimeni-oorplasing wat tot die dood van 143 pasiënte gelei het.

Mahlangu het aan die arbitrasieverhoor gesê sy en David Makhura, premier van Gauteng, is mislei deur die voormalige hoof van die departement, dr. Barney Selebano, en die voormalige direkteur van die departement, dr. Makgabo Manamela.

“Hulle het my en die premier mislei in hul verslag oor die projek. Ek het geen rede gehad om te bevraagteken dat hulle professionele persone is en dat hulle reg van verkeerd kan onderskei nie,” het sy gesê.

Mahlangu voer aan haar rol was om seker te maak dat die beleide geïmplementeer is deur vergaderings te belê met die hoof van die departement, die publiek en die media. “Dit sou teenstrydig wees met ander wetgewing om self enigiets op voetsoolvlak te doen,” het sy verduidelik.

Mahlangu sê die media het haar in kennis gestel dat die sterftes tot 68 gestyg het in September 2016.

Afgetrede hoofregter Dikgang Moseneke, die voorsitter van die verhoor, wou by Mahlangu weet waarom sy nie in daardie stadium die projek gekanselleer het nie.

“Pasiënte is in daardie stadium reeds oorgeplaas,” het sy geantwoord.

Op die vraag oor wie se besluit dit was om die kontrak [met Life Esidimeni] te kanselleer, het Mahlangu gesê dit was ʼn gesamentlike besluit en sy hou vol sy het nie opdrag gegee dat die kontrak gekanselleer moet word nie. As sy van die probleme in die projek geweet het, sou sy opgetree het, het sy bygevoeg.

Mahlangu sê sy weet nie wie aanspreeklik gehou moet word vir die 143 sterftes nie.

Selebano en Manamela het vroeër die vinger na Mahlangu gewys as die persoon wat daarop aangedring het dat die pasiënte oorgeplaas moet word, om kostes te bespaar. Hulle het albei gesê hulle het opgetree nadat sy hulle opdrag gegee het.

Hannah Jacobus, adjunkdirekteur van geestelike gesondheid, het verlede week gesê Manamela het haar aangeraai om die wet te oortree en lisensies uit te reik vir nieregeringsorganisasies – sonder om die behoorlike prosedure te volg. Jacobus het gesê Mahlangu is tydens vergaderings hieroor in kennis gestel.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik van George ·

Hier gaan niks van kom nie. Jy sê, sy sê, hulle sê….. tipiese manier van ANC staatsamptenare om skotvry daarvan af te kom… n SKANDE…

marous ·

Hoe groter die pos , hoe minder die verantwoordelikheid …siekte van Afrika

Dawie ·

Ek stem heeltemal saam skielik was dit nie haar verantwoordelikheid nie maar sy het volle veranrwoordelikheid aanvaar om haar hele salaris te ontvang. Ns party mense weet mos nie wat beteken verantwoordelikheid nie.

Johann ·

Gewetenloos… SHAME ON YOU! ANC LEGACY…verwoes verbrand vermoor,,,, maar net nooit verandwoordelik nie!

Bernard ·

Agge nee man, jy/julle het PRESIES geweet wat aangaan en wat julle doen. Al wat julle nou wil doen is om die blaam te probeer verskuif want NIEMAND in hierdie land vat meer verantwoordelikheid vir hulle dade nie.

C+T ·

Niemand gaan verantwoordelikheid aanvaar nie. Daarom word daar so graag na kollektiewe besluitneming en verantwoordelik verwys. Daar moet ‘ n voorlegging wees waarin die doel van die skuif , watter opsies daar is, hoe dit gedoen kan word, voor-en nadele en finansiële implikasie , kommunikasie en projekplan uiteengesit word. Waar is dit? Dit behoort te wys hoe ligtelik daar met die saak om gegaan is. Kla die mense aan wie se hantekening daaarop verskyn. Hulle het dit goedgekeur. Kollektiewe aanspreeklikheid.

wraggies ·

Al wat sal help om hierdie tipe gedrag hok te slaan is tronk tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.