Man (87) skuldig aan moord op sy vrou

Argieffoto van Dieter en Genée Bergs. (Foto: Verskaf)

Regter Réan Strydom het Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg vir Dieter Bergs (87) skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade op sy vrou, Genèe Bergs, in 2014. Bergs is ook skuldig bevind aan vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie, uitgifte en dwarsboming van die gereg.

Die hof het hierdie uitspraak kragtens artikel 77 van die Strafproseswet gemaak deur op ’n oorwig van waarskynlikhede te bevind dat die bewyse en getuienis wat deur die staat voorgehou is, naamlik dat Bergs sy vrou vermoor het, die mees waarskynlike verloop van gebeure is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Bergs se familie kragtens ’n waaksaamheidsopdrag bygestaan.

“Ons is verheug oor die uitspraak, al het dit agt jaar geneem vir Dieter Bergs om uiteindelik aan die pen te ry. Ek is verskriklik verlig dat ons uiteindelik geregtigheid gekry het,” sê Sue Mennie, Genèe se dogter.

Dieter het Geneé in hul huis in die Johannesburgse spogbuurt Parktown-Noord vermoor.

Genée se familie het in 2019 AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader om met die saak te help nadat daar geen vordering met die vervolging van Bergs was nie.

Eers nadat die eenheid in April 2020 vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) vir Bergs se vervolging gerig het, het die DOV beveel dat Bergs vervolg moet word.

Bergs is egter op grond van ’n psigiatriese verslag van Sterkfontein bevind om onbevoeg te wees om verhoor te word. Die NVG het daarna vervolging ingestel kragtens artikel 77 van die Strafproseswet. Die hof het dit egter benadruk en dit is ook so in die verslag gestel dat Bergs by sy volle positiewe was toe hy die misdryf gepleeg het en wel in staat was om die omvang van sy optrede te besef.

Bergs moet nou vir die res van sy lewe as ’n staatspresidentspasiënt in ’n instelling vir verswaktes aangehou word. Hy kan ook nie, kragtens die stelreël “die bloedige hand erf nie”, van sy oorlede vrou erf nie. Haar bates sal nou aan haar oorblywende familielede vererf.

“Hierdie saak sou heel waarskynlik net verdwyn het as AfriForum nie betrokke geraak en die NVG gedwing het om te vervolg nie. Ons wil egter vir adv. Michelle Bayat, wat die vervolging in die hooggeregshof behartig het, komplimenteer met die wyse waarop sy die saak behartig het,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

hoe kan jy as jy amper tagtig is daaraan dink om jou vrou dan te vermoor, was die erfporsie (mammon) te aanloklik, jy kan niks van daardie geld saam met jou na die hemel neem nie, nou moet jy nog voor die Groot Raad ook verslag doen, ek laat my kop sak in skaamte

Herman L ·

Goeie werk Afriforum! Julle verdien ‘n deel van ons belastinggeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.