Man dán weer in hof oor moord op Kaapse tiener

Amahle Quku (Foto: ANA)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn 17-jarige meisie van Philippi, Kaapstad, vermoor het, het Dinsdag weer in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Leonard Mzingeli (25) staan tereg vir die moord op Amahle Quku, wie se naakte liggaam Junie in ʼn grasveld digby Albert Luthulistraat in Browns Farm gevind is. Daar is klippe langs haar erg gekneusde liggaam gevind.

Hy het in Julie in die hof verskyn en sy aansoek om borgtog laat vaar.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Mzingeli het nie aangedui of hy weer ʼn aansoek om borgtog sal indien nie.

“Indien hy besluit om weer aansoek om borgtog te doen, sal die staat dit teenstaan.”

Mzingeli se saak is tot 17 November vir verdere ondersoek uitgestel. Hy sal tot dan in aanhouding bly.

Quku is vermoedelik ook verkrag, maar Mzingeli word in dié stadium nog nie van verkragting aangekla nie.

Die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het vroeër Mzingeli se besluit om sy aansoek om borgtog te laat vaar, verwelkom.

Fritz het gesê ʼn boodskap van “jy gaan gevang en vervolg word” moet aan oortreders van geslagsgebaseerde geweld oorgedra word. Die polisie moet ook dié sake hanteer met die nodige erns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zandra ·

Rus in Vrede poplap mag geregtigheid vir jou geskied, sterkte aan die ouers

Talitha ·

Sê weer: n oog vir n oog en n tand vir n tand!
My hart treur saam met die familie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.