‘Man gestuur’ om erg beseerde fietsryer te red

Adriaan du Plooy (31) is Maandag ernstig beseer nadat ’n voertuig sy fiets getref het. (Foto: Verskaf)

ʼn Barmhartige samaritaan het Maandag waarskynlik die lewe van ʼn 31-jarige fietsryer gered nadat dié deur ʼn ander voertuig getref en bebloed langs die pad gelaat is.

Adriaan du Plooy, ʼn kranige fietsryer en lid van die Rustenburg Cycling Club, het oudergewoonte gaan fietsry toe die kantspieëltjie van ʼn verbygaande motoris sy fietshandvatsel getref en hom omgegooi het. Die voorval het ongeveer 16:00 op die Kroondalpad net buite Rustenburg plaasgevind en Du Plooy het vinnig bloed verloor.

“Markus [Barendse] was absoluut deur die Here gestuur. Hy is ook ʼn kind van die Here. Hy was op die regte tyd op die regte plek,” sê Du Plooy se ma, Marina Viljoen, oor die man wat haar kind se lewe gered het.

“Hy het ons gebel en gesê hy kan nie wag vir ʼn ambulans nie, die bloedverlies is te groot, na watter hospitaal moet hy hom bring.”

Du Plooy, wat op die grondgedeelte langs die pad gery het, het sy regterarm baie ernstig beseer. Hy het onder meer ʼn breuk opgedoen en albei hoofligamente in sy arm geskeur.

Viljoen sê die motoris wat moontlik die ongeluk veroorsaak het, het aanvanklik stilgehou, maar toe weer weggery. Hulle het nie ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak nie aangesien Du Plooy nie veel van die voertuig of motoris kan onthou nie.

“Hy was byna onmiddellik duiselig van die bloedverlies, ons het dus nie regtig ʼn beskrywing nie,” het Viljoen Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Nog twee voertuie het langs die pad stilgehou en twee mans het uitgeklim en sover moontlik noodhulp op Du Plooy toegepas en lappe om sy wonde gedraai.

Adriaan du Plooy (31) is Maandag ernstig beseer nadat ’n voertuig sy fiets getref het. (Foto: Verskaf)

Dis toe dat ʼn vierde motoris, Barendse, ook by die ongelukstoneel stilhou en met ʼn ernstig beseerde Du Plooy na die Medicare-hospitaal in Rustenburg jaag.

Du Plooy het met sy aankoms by die hospitaal bloedoortappings ontvang en hy word Dinsdagoggend geopereer om die skade aan sy arm te bepaal en dit sover moontlik te herstel.

Viljoen sê benewens haar seun se fisieke pyn en beserings, is hy ook uiters getraumatiseerd – soveel so dat hy in dié stadium nie eers meer wil fietsry nie. ʼn Sport wat hy al sowat nege jaar beoefen. Du Plooy was verlede jaar een van die topfietsryers in die klub en het die 94.7-wedren in ʼn rekordtyd voltooi.

“Hy is baie hartseer en heeltyd bewoë. Hy is erg getraumatiseerd. Dis vir ons ook baie erg.

“Ons glo die dokters sal alles kan heg. Hulle sal eers vanoggend [Dinsdag] die omvang van die skade kan bepaal. Gisteraand [Maandagaand] het hulle basies net die wonde toegemaak om die bloeding te stop, en dan sal hulle nou vandag presies kyk hoe groot is die skade en dit na die beste van hul vermoë herstel.”

Viljoen is uiters dankbaar aan die mense wat stilgehou het om haar seun te help, en in besonder aan Barendse wat Du Plooy en sy fiets in sy bakkie gelaai en na die hospitaal gejaag het.

“Die fiets is op die oomblik nog by hom. Hy het gesê ons hoef ons nie te bekommer nie, die fiets is veilig, ons kan ontspan.

“Ons het vir hom gesê ‘sjoe, jou voertuig is so vol van die bloed’ en hy net vir ons gesê dis nie ons probleem nie, hy sal dit hanteer. Hy het gesê dis sy diens vir sy naaste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Miskruier ·

N mens wat kan dink, ons moet almal begin besef, doen self want ons dienste is treurig. Hoeveel ambulanse kort ons??

Danie ·

N fiets of voetganger se lewe is op alle paaie n groot gevaar.Gelukkig was daar hulp.

Marlene ·

Dankie vir die man wat gestop EN daadwerklik gehelp het. Die skuldige, ek mag nie oordeel nie … Sterkte met jou lang herstelpad

JohanR ·

Ek wens ons kan terug gaan na ‘n tydperk toe daar geen omheining, geen eletriese draad, geen mure om jou huis was nie. Die grasperk het tot by die pad geloop en almal langs jou en oorkant die straat het vir mekaar omgesien en ongegee.

Ansie ·

Baie dankie, Markus – jy sal geseën word. Baie sterkte aan Adriaan en sy gesin. Hoop hy herstel gou en volkome. Julle is in ons gebede. Net terloops, goeie raad vir enigiemand wat bloed uit klere, ens. moet haal. Spuit so gou moontlik vensterwasmiddel (ek gebruik die een met die W) op die bloed – dit kom dan sommer maklik skoon wanneer jy dit daarna was.

piet ·

Ons land het nie ‘n kultuur van fietsry nie. Motoriste ry jou van die pad af. Dis baie gevaarlik om fiets en motorfiets te ry op SA paaie.

Gogga ·

Ten spyte dat dit ‘n baie hartseer en erg geval is, moet ek noem dat ek met dankbaarheid die berig kon lees. Sommer trane gesluk omdat daar regtig nog goeie mense is, wat regtig nog omgee en regtig net iets vir ‘n medemens sal doen omdat dit die regte ding is om te doen. Ek hoop die herstel is goed en vinnig, en dankie vir ‘n mens wat nog omgee!

Marcello ·

Bravo!!! aan die weldoeners, Ja, ons moet maar uitkyk en mekaar help, maar mense wil gewoonlik nie help nie, want hulle is so bang om betrokke te raak, al is dit lewe en dood.

Christine ·

Meeste Afrikaners is wonderlike mense. Dankie aan die barmhartige samaritaan. Gou gesond word aan die jongman. Oefen in die vervolg by ‘n atletiek klub se stadion en bly eerder weg van openbare paaie. Ek kan my indink wie hom raakgery en toe weggery het.

Roek ·

U MOET ‘n saak gaan registreer by die SAPS vir tref en trap, kry die CAS nommer ,die saak of die oortreder sal moontliik nie opgespoor kan word nie, maar sal en is dit ‘n vereiste om te kan eis by die padongelukke fonds, dit is sy reg om te eis omrede die fonds reeds daar is om die mense te help om skade te eis ,nie net spesiale (medies)skade nie maar ook algemene skade en met ‘n moontlikke mediese onderneming wat dan die las van sy mediese fonds verlig, kry net goeie regs verteenwoordiger wat sy koste van die eis verhaal vanaf die POF en kos dit u niks !

Karina ·

Mag daardie motor bestuurder se gewete hom tot by Daantjie in die kallerhok ry sodat hy homself sal oorgee. Hy moet nie slaap nie. Hy moet vrywillig hospitaal toe gaan en die hospitaalkostes dek. Hy is ‘n groot lafaard!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.